Die Tandheelkundige Vereniging van Suid-Afrika (SADA) beveel aan dat pasiënte tydens die COVID-19-pandemie die volgende voorsorgmaatreëls toepas wanneer hulle ’n tandarts besoek, ter wille van hulle veiligheid en die veiligheid van die tandarts en ander pasiënte.
- Dra asseblief ’n nuwe of skoon gesigmasker wanneer jy die mondgesondheidsfasiliteit besoek. Slegs pasiënte sal toegelaat word, tensy dit minderjariges of persone met gestremdhede is. Indien die tandarts jou nie dadelik kan sien nie, moet jy buite die spreekkamer of in jou motor wag. Kontak asseblief die fasiliteit voordat jy soontoe reis om te verhoed dat jy lank moet wag.
- Moet asseblief nie enige onnodige bykomstighede soos juwele dra nie, aangesien dit besmet kan word. Noodsaaklike items soos selfone moet by die ingang in ’n veilige plek gelaat word.
- Wees asseblief betyds. As jy 10 minute vroeg is vir jou afspraak, sal jy nie toegelaat word om binne die spreekkamer te wag nie. Indien jy laat is, sal jy die afspraak moet herskeduleer. Die meeste mondgesondheidsfasiliteite in Suid-Afrika het ’n veiligheidsdeur wat toegang beheer, en jy moet hierdie deur gebruik om behoorlike distansiëring te verseker. Wees deurgaans waaksaam.
- Fasiliteite wat slegs pasiënte sonder ’n afspraak sien, moet ook die bogenoemde reëls nakom. Pasiënte wat wag om gehelp te word, moet buite die deur in ’n ry staan en moet sosiale distansiëring toepas. Die nodige afstand wat gehandhaaf moet word, sal duidelik op die vloer gemerk wees. Plaaslike weersomstandighede moet in ag geneem word om pasiënte te beskerm teen ongure weer maar steeds sosiale distansiëring te verseker.
- Voltooi asseblief al die nodige vorms vooraf elektronies of by die huis. Ouer pasiënte of mense wat nie toegang tot elektroniese kommunikasie het nie, moet die tandarts se ontvangspersoneel skakel sodat hulle dokumentasie voor die afspraak afgehandel kan word. ’n Personeellid wat behoorlik beskerm en opgelei is, kan ook hiermee help in die wagarea buite die fasiliteit.
- Reël vir betaling van die rekening. Onthou dat kontant ’n potensiële bron van die virus is.
- Tandheelkundepersoneel sal dieselfde streng maatreëls as pasiënte toepas. Personeel met komorbiditeite of wat ’n groter risiko het om die virus op te doen, sal in poste geplaas word waar hulle nie ’n bykomende risiko vir enigeen sal wees nie.
- Tandheelkundepersoneel moet aangesê word om griepinentings te kry om infeksie te voorkom en te sorg dat die praktyk oop bly.
Bly gesond en bly veilig.