Back 29 Sep, 2026 - Medihelp

Back

Intensiewesorg-psigose: Wanneer lang hospitaalverblyf onverwagte gevolge het

Intensiewesorg-psigose: Wanneer lang hospitaalverblyf onverwagte gevolge het

Hoe lang hospitaalverblyf verwarring en angs kan veroorsaak.
Read more

Hospitale is plekke waar mense gesond word. Maar vir sommige pasiënte, veral ouer mense, kan lang tye in ’n hospitaal in ’n onbekende omgewing, saam met ’n vrees vir mediese prosedures, hulle nie net angstig maak nie, maar deurmekaar laat voel. Hierdie verskynsel word intensiewesorg-psigose genoem.

“Daardie verpleegkundige wil my organe steel. Jy moet my hier uitkry.” Só het Samantha* se pa haar begroet toe sy hom in die intensiewesorgeenheid besoek het waar hy van ernstige longontsteking herstel het. Sy paniek het haar ook paniekerig gemaak en haar laat wonder oor sy geestesgesondheid en of hy behoorlike sorg ontvang.

In werklikheid het haar pa intensiewesorg-psigose ervaar – ’n toestand wat kan voorkom by iemand wat ernstig siek of lank in die hospitaal is. “Die omgewing in ’n intensiewesorgeenheid kan vreesaanjaend wees,” sê dr Shay Ganesh, Hoof van Innovasie by Medihelp Mediese Skema. “Die onbekende omgewing kan mens depressief, verward en angstig laat voel.”

Medikasie speel ook ’n rol. Pasiënte ontvang dikwels verskillende soorte sterk medisyne, wat newe-effekte kan hê. Dit kan druk op die niere plaas, en toksiese afvalstowwe kan in die liggaam opbou wanneer die niere sukkel om dié stowwe uit te skei.

Die moegheid wat baie mense ervaar wanneer hulle liggame infeksies beveg, saam met die swakheid wat kan ontstaan wanneer hulle vir lang tye in die bed moet bly, kan ook bydra tot simptome soos konsentrasieprobleme, sukkel om helder te dink, dinge glo wat nie werklik waar is nie en selfs hallusinasies.

Witjassindroom

By ander persone kan vrees vir mediese prosedures en personeel tot ’n ander verskynsel lei: witjassindroom (ook bekend as witjashipertensie). Dr Clyde Green-Thompson, ’n huisdokter en mediese adviseur by Medihelp, verduidelik dat dit ’n verhoogde hartklop veroorsaak. “Dit help ook nie dat daar ’n oorvloed gesondheidsverwante inligting aanlyn beskikbaar is nie. Artikels oor mediese toestande beklemtoon ongelukkig dikwels die ergste moontlike scenario, wat angs vererger.”

Kinders kan selfs meer spesifiek op hospitalisasie of ’n doktersbesoek reageer. Baie toon regressie (hulle val terug op gedrag wat met ’n jonger ouderdom geassosieer word), aggressie of onttrekking. Sommige kinders ervaar ’n vrees om verlaat te word.

Hierdie ervarings kan ongelukkig ’n blywende uitwerking hê, selfs nadat die persoon uit die hospitaal ontslaan is. Dit is nie ongewoon vir mense om minder vertroue in hul vermoëns te hê nadat hulle dae of selfs weke lank bedlêend was nie, of om te wonder of hul liggaam weer soos voorheen sal funksioneer. Sommige mense kan selfs posttraumatiese stresversteuring ervaar, veral as verdere komplikasies en infeksies intree.

Kommunikasie is noodsaaklik

Wanneer iemand so reageer tydens ’n hospitaalverblyf, is dit nie net vir die persoon self moeilik nie, maar ook vir hul geliefdes – veral as hulle nie verstaan wat besig is om te gebeur nie.

Daarom is kommunikasie so belangrik, sê dr Green-Thompson. “Jy het die reg om jou dokter soveel vrae te vra as wat nodig is,” sê hy. Hy erken dat dit nie altyd maklik is om ’n spesialis te nader nie; hulle kan soms intimiderend voorkom en lyk of hulle min tyd het.

“Dit kan dalk makliker wees om met jou huisdokter of die dokter wat jou verwys het, te praat. Hulle kan jou op hoogte bring van jou geliefde se toestand en behandelingsplan.” Jy behoort egter ook enige lid van die behandelingspan – van die saalsuster tot die spesialis – om inligting te kan vra wanneer jy meer wil weet, binne die bepalings van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting.

Goeie kommunikasie kan ook help om vrese wat stres en angs vererger, te verlig. “Iemand met witjassindroom kan ’n doktersbesoek byvoorbeeld minder vreesaanjaend vind as die dokter of ander gesondheidsorgkundige verduidelik wat hulle doen, waarom en hoe dit gaan voel,” sê dr Green-Thompson.

Stel jou geliefdes gerus

Dokters behoort ook waar moontlik te probeer voorkom dat sulke reaksies tydens ’n hospitaalverblyf ontstaan. Dr Ganesh sê die mediese span moet byvoorbeeld bepaal of daar ’n moontlikheid is dat ’n pasiënt intensiewesorg-psigose kan ontwikkel deur faktore soos die volgende in ag te neem:

  • Die persoon se ouderdom,
  • Komorbiditeite (twee of meer siektes gelyktydig wat met mekaar verband hou), en
  • Die medikasie waarop hulle is.

Hulle kan dan probeer om die risiko te beperk deur die laagste moontlike dosis medikasie vir die kortste moontlike tyd voor te skryf. Dit kan newe-effekte beperk en die kans op interaksies tussen medisyne verminder.

Dit is ook belangrik om van die begin af ’n omvattende behandelingsplan op te stel wat elke fase van die behandeling uiteensit en die insette van al die betrokke gesondheidsorgkundiges insluit – van aanvullende mediese terapeute en dieetkundiges tot spesialiste. Die plan moet met die pasiënt se familie gedeel word sodat hulle ’n idee het van die tydlyne en hoe hulle geliefde behandel word.

Familie kan ook help om die pasiënt meer gerus te laat voel deur bekende items van die huis af te bring – byvoorbeeld die persoon se eie kombers, kussingsloop en lyfroom of oorfone sodat hulle na musiek kan luister.

Hospitaalsorg tuis

“Laastens,” sê dr Ganesh, “kan dit die moeite werd wees om opsies soos Medihelp se Hospitaalnasorgprogram te ondersoek.” Hierdie program word veral aanbeveel vir lede wat palliatiewe sorg nodig het en help om hulle gemakliker te maak deur hospitaalgehalte-sorg in hul eie huis te bied.

“Ons probeer ons lede elke stap van die proses by te staan sodat alles wat hulle of hul familie nodig het, geredelik beskikbaar is – of dit gespesialiseerde toerusting soos ’n ventilator is of die hulp van ’n professionele berader,” sluit sy af. “Deur die hospitaal na ons lede se huise te bring, kan ons hulle die geleentheid gee om in die gemak van hul eie huis, naby geliefdes, te herstel.”


Share this on: