Back 14 Mei, 2024 - Floreer!

Back

Kan lewensafrigting jou help?

Kan lewensafrigting jou help?

Voel jy vasgevang, oorweldig of soek jy verandering? Jy mag dalk baat by die dienste van ʼn lewensafrigter.
Read more

Voel jy vasgevang, oorweldig of soek jy verandering? Jy mag dalk baat by die dienste van ʼn lewensafrigter.

Die afgelope paar jaar is geestesgesondheid ʼn alledaagse onderwerp. Dit is goeie nuus vir mense wat aan geestesversteurings soos angs en depressie ly, omdat dit nie meer taboe is om hulp by ʼn terapeut te kry nie. Maar wat van die van ons wat slegs hulp nodig het om deur ʼn situasie te kom wat op daardie oomblik vir ons te groot is om op ons eie te hanteer? In hierdie gevalle is ʼn lewensafrigter dalk die antwoord.

Wat presies is lewensafrigting?

Gegewe die feit dat lewensafrigting steeds ʼn nuwe veld in Suid-Afrika is, is dit nie verbasend dat daar steeds baie verwarring daaroor is nie. Mense is ook dikwels nie presies seker wat ʼn lewensafrigter doen nie.

Martin Brits, wat spesialiseer in transformasionele afrigting by Meta-Life Coaching, verduidelik dit soos volg: “Die International Coaching Federation definieer lewensafrigting as ʼn vennootskap met kliënte in ʼn gedagteprikkelende en kreatiewe proses waar hulle geïnspireer word om hul volle persoonlike en professionele potensiaal te bereik. Dit help hulle om bronne van verbeelding, produktiwiteit en leierskap wat nie voorheen ontgin is nie te ontsluit. In meer eenvoudige woorde bemagtig ʼn lewensafrigter hul kliënte om hul belangrikste, dringendste of uitdagendste lewenssituasies aan te spreek en lei hulle om ʼn meer bemagtigde uitkyk en houding te ontwikkel.”

Jy sukkel dalk byvoorbeeld om ʼn werk-lewe-balans te handhaaf, voel of jou verhoudings ly, of probeer ʼn werksverandering hanteer. Jou afrigter sal jou help om klarigheid oor jou doelwitte te kry en dan saam met jou die stappe identifiseer wat jy moet neem om hulle te bereik. Hulle sal ook saam met jou ʼn verantwoordelikheidsraamwerk bou en jou motiveer om deur die verskillende aktiwiteite wat hulle voorstel te werk.

Volgens Martin sal ʼn lewensafrigter hul kliënte help om hul diepste begeertes beter te verstaan en vas te pen wat of hoe hulle in die toekoms wil wees. Die afrigter ondersteun dan hul kliënte op die pad na ʼn beter leefstyl waar ongesonde afleidings vervang word met gesonde gewoontes. Nog ʼn voordeel is dat kliënte waarskynlik beter fisiese en geestelike gesondheid sal ervaar danksy die nuwe vaardighede wat hulle aangeleer het.

Wat is dit nie?

Martin sê dat dit belangrik is om uit te klaar wat lewensafrigting kan bereik. Mense verwar dikwels afrigting met berading, maar hulle is baie verskillend. Berading is ʼn vorm van terapie waar ʼn gesprek plaasvind tussen jou en ʼn opgeleide terapeut. Die terapeut help jou, byvoorbeeld, om maniere te vind om emosionele probleme deur te werk wat te wyte is aan gebeure in jou verlede of die manier waarop jy grootgemaak is.

Selfs kognitiewe gedragsterapie (CBT) is anders as lewensafrigting, ten spyte van die feit dat albei die ontwikkeling van voordelige gewoontes beklemtoon. Die belangrikste onderskeid is dit waarop klem gelê word. Kognitiewe gedragsterapie is daarop gemik om kliënte, wat probleme soos angs en depressie ervaar, te help om deur hul diepliggende perseptuele wanvoorstellings en denkpatrone te werk wat hulle sielkundige, emosionele en gedragspatrone beïnvloed.

In teenstelling hiermee, fokus lewensafrigting daarop om ʼn vervullende toekoms te skep eerder as om die verlede te probeer regmaak. Jou lewensafrigter doen dit op ʼn manier wat nie voorskriftelik is nie – jou afrigter begelei jou en stel opsies voor.

Afrigting verskil verder ook van mentorskap, waar die verhouding gegrond is op insig vanaf die mentor se eie ervaring.

Hoe baat dit jou?

ʼn Afrigter kan as ʼn gids, motiveerder of fasiliteerder beskryf word. “Die lewensafrigtingsproses sal waarskynlik help dat jy tegnieke aanleer wat jou in staat stel om negatiewe gedagtes en emosies in uitdagings te verander. Dit sal help om ʼn ingesteldheid te kweek wat geestelike en emosionele welstand bevorder. Terwyl vriende en familie deernis en raad kan verskaf en na jou frustrasies oor jou uitdagings kan luister, neem dit harde werk, toewyding en tyd om jou lewe te verbeter. ʼn Lewensafrigter help jou nie net om doelwitte te stel, ʼn aksieplan saam te stel en om die nodige stappe te implementeer om vorentoe te beweeg nie, maar hulle bied ook volgehoue ondersteuning en motivering soos jy vorder,” verduidelik Martin.


Share this on: