Back 04 Feb, 2022 - Gesondheidsbewustheid

Back

Kankerbewustheidsdag – tref so voorsorg

Kankerbewustheidsdag – tref so voorsorg

4 Februarie is Wêreld Kankerbewustheidsdag
Read more

4 Februarie is Wêreld Kankerbewustheidsdag, wanneer die kollig val op die impak van kanker wêreldwyd om mense bewus te maak van die belangrikheid van voorkoming asook ’n beter begrip van kankerbespeuring, -behandeling en -sorg te skep.

Deur bewus te wees van risikofaktore, ag te slaan op vroeë waarskuwingstekens en gebruik te maak van kankertoetsings en -behandelings, verbeter jy jou kanse op suksesvolle behandeling.

Risikofaktore wat jy kan beheer
Hoewel genetiese risikofaktore om kanker te ontwikkel, soos ’n familiegeskiedenis van die siekte, buite jou beheer is, kan jy ander risikofaktore verminder deur gesonde leefstylkeuses te maak. Dit sluit in:

  • Hou op rook
  • Handhaaf ’n gesonde gewig
  • Volg ’n voedsame dieet wat ’n verskeidenheid vars vrugte en groente insluit
  • Beskerm jou vel teen die son
  • Blyk aktief en oefen gereeld
  • Vermy oormatige alkoholinname/li>
  • Ondersoek jou liggaam gereeld vir waarskuwingstekens
  • Laat gereeld mediese ondersoeke doen.

Vroeë bespeuring is van sleutelbelang
Hoe vroeër kanker bespeur word, hoe beter is die kanse dat dit suksesvol behandel kan word. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is ’n vroeë diagnose veral deurslaggewend vir borskanker, serviks-, mond-, larinks-, kolon- rektum- en velkanker. Die volgende is vroeë waarskuwingstekens van kanker:

  • Verlies aan eetlus. Kanker kan die metabolisme affekteer. Pasiënte met maag-, pankreas-, kolon- en ovariale kanker kan ervaar dat tumors teen die maag druk, wat veroorsaak dat hulle te versadig voel om te eet en gewig verloor.
  • ’n Knop in die nek of elders. Die meeste soorte kanker kan deur die vel gevoel word. Hierdie kankersoorte kom gewoonlik voor in die borste, testikels, limfknope (kliere) en sagte liggaamsweefsel. ’n Knop of verdikking kan ’n teken van vroeë of gevorderde kanker wees en moet onder ’n dokter se aandag gebring word, veral indien dit onlangs bespeur is of groter geword het.
  • Veranderings aan die vel. Velkanker begin gewoonlik as ’n verandering aan die vel, soos ’n groeisel wat anders begin lyk, ’n moesie wat vervorm of verkleur, of ’n seerplek wat nie wil genees nie. Dit kan nuwe groeisels of premaligne letsels wees – veranderings wat nie kanker is nie, maar mettertyd kankeragtig kan word.
  • Geswelde limfkliere wat nie binne ’n week of twee opklaar nie – veral onder die arms, wat ’n aanduiding van borskanker kan wees.

Al Medihelp se mediesefondsplanne bied voordele vir ’n volledige reeks voorkomende siftingstoetse,insluitend kankersiftingstoetse soos ’n mammogram vir vroue ouer as 40 en ’n jaarlikse prostaatondersoek (PSA-vlak) vir mans. Lede van al ons opsies (behalwe MedMove!) word ook beloon omdat hulle na hul gesondheid omsien, deurdat bykomende voordele geaktiveer word wanneer hulle sekere gesondheidstoetse laat doen.

Medihelp gee ook ondersteuning aan kankerpasiënte deur die onkologieprogram wat in samewerking met die onkoloë van die Independent Clinical Oncology Network (ICON) gebied word, om die beste moontlike sorg en behandeling vir pasiënte te verseker.

Familiegeskiedenis van kanker?
Volgens die Amerikaanse kankervereniging is ongeveer 5-10% van alle soorte kanker oorerflik. Wees dus bewus van jou familie se kankergeskiedenis en laat jou gereeld ondersoek vir die soorte kanker wat in jou familie voorkom.

Bronne:

https://www.cansa.org.za
https://www.macmillan.org.uk/information-and-support/diagnosing/causes-and-risk-factors/potential-causes-of-cancer/age-lifestyle-diet-reducing-risk.html
https://www.cancer.gov/about-cancer/causes-prevention/risk
https://www.cansa.org.za/south-african-cancer-statistics/
https://www.webmd.com/cancer/cancer-early-warning-signs#3; http://cancercare.co.za/all-cancers/

 


Share this on: