Back 31 Jan, 2020 - COVID-19

Back

Koronavirus: Wat jy moet weet

Koronavirus: Wat jy moet weet

’n Nuwe koronavirus (2019-nCoV) het einde Desember 2019 in Wuhan, ’n stad in die Hubei-provinsie in China, begin.
Read more

’n Nuwe koronavirus (2019-nCoV) het einde Desember 2019 in Wuhan, ’n stad in die Hubei-provinsie in China, begin. Die virus het sedertdien versprei en meer as 9 320 mense wêreldwyd besmet en 212 het daaraan gesterf. Die virus behoort aan dieselfde familie as die virus wat ernstige akute respiratoriese sindroom, oftewel ears, veroorsaak. Dit veroorsaak ’n respiratoriese siekte en kan van mens tot mens versprei, en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het intussen amptelik die virus tot ‘n openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang verklaar.

Geen bevestigde gevalle in Suid-Afrika of sy buurlande nie
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) is geen gevalle van die virus nog in Suid-Afrika of sy buurlande aangemeld nie. ’n 2019-nCbV-geval word wel in Zambië ondersoek. Twee gevalle is ook aangemeld in die Ivoorkus en Kenia waar studente teruggereis het van China.
Gerugte dat ’n bevestigde geval by die Life Eugene Marais-hospitaal in Pretoria aangemeld is, is intussen die nek ingeslaan, nadat die hospitaal bevestig het dat geen pasiënte met die virus gediagnoseer is nie. “Die standaardprosedure volgens die riglyne van NIOS en die Wêreldgesondheidsorganisasie is dat pasiënte wat onlangs na die geaffekteerde gebied gereis het, vir die virus getoets sal word. Indien ’n geval bevestig word, sal die hospitaal al die prosedures volg wat NIOS vereis asook Life Healthcare se infeksievoorkomingsprotokolle,” het Adriaan Jordaan, hospitaalbestuurder by Life Eugene Marais-hospitaal gesê.
NIOS het Suid-Afrikaners verseker dat die land gereed is vir enige 2019-nCoV-uitbreking. Daar is stelsels in plek om enige aangemelde geval wat Suid-Afrika se grense mag bereik, dadelik te bespeur, identifiseer en daarop te reageer, aldus prof Cheryl Cohen van NIOS. Die minister van gesondheid, dr Zhweli Mkhize, het ook gesê dat beamptes nou met NIOS saamwerk om Suid-Afrika se lughawens en ander toegangspunte te monitor, met strenger toetsingsprosesse wat gevolg sal word vir mense afkomstig van China.

Hoe dit versprei
Die menskoronavirus versprei gewoonlik van ’n besmette persoon na ander deur die lug, hetsy –
- deur te hoes of nies,
- deur in noue kontak te kom, of
- deur aan ’n voorwerp of oppervlak te raak wat met die virus besmet is en dan aan jou mond, neus of oë te vat voordat jy jou hande gewas het.
Die inkubasietydperk vir 2019-nCoV is vermoedelik binne twee tot 14 dae na blootstelling.

Simptome
Die siekte word hoofsaaklik gekenmerk deur koors, hoes, kortasemigheid en algemene ongesteldheid. Hoewel talle aangemelde gevalle nie ernstig is nie, het ongeveer 20% van bevestigde pasiënte kritiese siektes soos respiratoriese versaking, septiese skok of ander orgaanversaking gehad wat intensiewe sorg vereis het. Die meeste noodlottige gevalle het voorgekom by mense met onderliggende mediese toestande.
Hoe die virus gediagnoseer word
Volgens ’n verklaring deur Lancet Laboratoriums word slegs nukleïensuur-amplikfikasietoetse tans gebruik om die nuwe koronavirusinfeksie te help diagnoseer. Hierdie toetse identifiseer klein hoeveelhede DNS of RNS in toetsmonsters en kan daarom gebruik word om siekteveroorsakende virusse te identifiseer selfs waar die materiaal in baie klein hoeveelhede aanwesig is.

Behandeling vir die virus
Daar is nie enige spesifieke behandelings vir 2019-nCoV-infeksie nie en die toestand word bestuur deur bedrus en medisyne wat die simptome verlig.

Voorkoming
Aangesien daar nie tans ’n entstof vir 2019-nCoV beskikbaar is nie, is voorkoming belangrik. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat mense gereeld hul hande was met seep en water vir ten minste 20 sekondes of ’n alkoholbasishandreiniger gebruik, hul monde en neuse bedek wanneer hulle hoes of nies en van die snesie ontslae raak, en vleis en eiers behoorlik gaarmaak. Vermy ook kontak met mense wat simptome van respiratoriese siekte toon, soos hoes en nies.

Alle Medihelp-lede kan verseker wees van die beste mediese dekking by gehalte- privaat hospitale. Om meer uit te vind, kontak ons vandag nog.

 


Share this on: