Back 13 Des, 2023 - Floreer!

Back

Hoe om maagsere natuurlik te behandel

Hoe om maagsere natuurlik te behandel

’n Maagseer kan soos ’n vuishou in die maag wees.
Read more

’n Maagseer kan soos ’n vuishou in die maag wees. Tipies sal jy ligte tot ondraaglike pyn ervaar wat skiet van die middel van jou maag tot jou nek of af tot jou naeltjie. In sekere gevalle sal dit selfs tot in jou rug beweeg. Dit kan vir minute tot ure duur. Simptome sluit naarheid en braking (veral wanneer jy eet), verlies aan eetlus en gewigsverlies in.

Hoe word dit behandel? Eerstens moet jy jou dokter sien, want maagsere kan lewensgevaarlik wees. Afhangend van die oorsaak (soos infeksie, siekte, lewensstyl of genetika) en tipe (gastries of pepties), sal jy met antibiotika, pompinhibeerders en meer behandel word.

Maar is daar natuurlike geneesmiddels om behandeling aan te vul, simptome te verlig of selfs maagsere te voorkom? Daar is studies wat wys dat daar is. Om natuurlike middels te ontdek om maagsere te behandel is van onskatbare waarde.

Jy is wat jy eet
Volgens bewysgebaseerde artikels wat tuismedisyne ondersoek (gepubliseer op healthline.com) kan sekere kossoorte, kruie en aanvullings as natuurlike geneesmiddels beskou word. Kool is byvoorbeeld ryk in vitamien C. Hierdie vitamien is ’n antioksidant wat help om H. pylori infeksies, die algemeenste oorsaak van maagsere, te voorkom en behandel.

Navorsing dui ook dat heuning, knoffel en mastiek (’n tradisionele geneesmiddel vir maagsere wat jy by gesondheidswinkels as ’n poeier of gom kan kry) vir maagsere gebruik kan word. Piesangs, klapperolie en flavonoïede – wat in vrugte en groente soos broccoli, rooi druiwe en bessies voorkom – kan veral voordelig wees.

In teenstelling met die algemene opvatting, kan brandrissies moontlik maagsere voorkom of genesing help verbeter. Borrie toon noemenswaardige anti-inflammatoriese uitwerkings en kan selfs jou risiko vir hartsiektes verminder. Die aktiewe bestanddeel kurkumien (borriegeel) toon belowende voordele teen maagsere, want dit beskerm die maagvoering en behandel H. pylori. Natuurlik is dit altyd ’n goeie idee om probiotika te neem, nie net as ’n verdediging teen maagsere nie, maar ook vir algemene dermgesondheid.

Sitrusvrugte, verwerkte vleis, sout en vetterige kosse moet vermy word. Nuwe navorsing wys dat melk die afskeiding van maagsure laat toeneem, wat ongewens is. Vermy ook alkohol, gaskoeldrank en koffie (kafeïneloos ingesluit).

Die rol van oefening
’n Studie wat in 2018 deur Berrak Yegen, professor van fisiologie by die Universiteit van Marmara, gepubliseer is toon verbasende resultate. Rotte wat in die voorafgaande ses weke oefening gekry het, se induseerde gastriese maagsere het binne drie dae genees teenoor die tien dae wat dit geneem het vir hulle eweknieë wat nie geoefen het nie.

Verdere kliniese proewe is nodig, maar daar is toenemende bewyse dat fisieke aktiwiteit die voorkoms van maagsere kan verminder en jou vinniger laat genees.

Vir nou is die konsensus as volg:

  • As dit seer is, moenie oefen nie.
  • Doen eerder ligte tot matige oefening aangesien hoë-intensiteit oefening meer spanning op jou liggaam kan plaas en die toestand kan vererger.
  • Joga is ’n uitstekende oefening met spesifieke posisies (soos beenoplig-oefeninge) om simptome te verlig en kalmte oor die algemeen te bevorder.
  • Swem is nog ’n oefening wat genesing aanhelp, maar weereens teen matige intensiteit. Dieselfde geld vir draf en loop.

    Aangesien spanning verder ’n groot moontlike sondebok vir maagsere is, moet die fisiologiese waarde van oefening nooit onderskat word nie. Dit bly een van die mees doeltreffende maniere om spanning te verminder en bestuur.

    Die kruks van die saak is: as jy vermoed jy het ’n maagseer, besoek altyd jou dokter! Maar vat alles met ’n knippie borrie en doen ’n kapalbhati* oefening, mits jy die maag daarvoor het (letterlik en figuurlik). Of dit nou voorkoming of genesing aansterk, dit kan net voordelig wees.

    Lees hier meer oor maagsere voorkom en behandel:

    Gastric Ulcer vs. Peptic Ulcer: What's the Difference? | U.S. News (usnews.com)

    9 Science-Backed Home Remedies for Ulcers (healthline.com)

    https://activebeat.com/diet-nutrition/7-natural-ways-to-stoach-soothing-an-ulcer/2/

    *Yoga For Ulcer: Guide to Learn Simple Yoga Poses For Ulcer (lybrate.com) (https://www.lybrate.com//topic/yoga-for-ulcer)

    Peptic Ulcer and Exercise - PubMed (nih.gov)

    (https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/27282926/)

    Can You Exercise With an Ulcer? | livestrong

    (https://www.livestrong.com/article/526468-can-exercise-irritate-an-ulcer/)

    Physical activity and peptic ulcers - PMC (nih.gov)

    Q&A With Berrak Yegen From Marmara University: Can Exercise Help Heal Gastric Ulcers Faster? (hcplive.com)


    Share this on: