MEDIHELP-WERKNEMERS MAAK STEEDS ’N VERSKIL
Medihelp se werknemers het aan die werk gespring om bystand te verleen aan organisasie in hulle gemeenskappe wat sukkel om op hulle eie die uitdagings wat hulle in die gesig staar, te oorkom.
Medihelp se werknemers het onlangs besoek afgelê by Huis Ebenhaeser, ’n tehuis wat ’n veilige hawe bied vir weerlose kinders, mishandelde ma’s en bejaardes, en het hulle gehelp om ’n Wendy-huis te installeer wat gebruik word as ’n leersentrum vir die 23 kinders wat tans daar gehuisves word.
Hulle het ook die Wollies-diereskuiling besoek wat vir verwaarloosde, weerlose en mishandelde diere sorg, en het sonkragligte aan hulle voorsien om veiligheid snags te verbeter asook matte vir die diere se hokke.
Medihelp se personeel het die kinders van Huis Ebenhaeser tydens die Oktober-skoolvakansie na Wollies geneem vir ’n uitstappie, en hulle het die diere behoorlik oorval met aandag en hul gunsteling bederfies. Die kinders het ook bordspeletjies met die Medihelp-span gespeel voor hulle teruggekeer het huis toe.
Medihelp sal voortgaan om verdienstelike organisasies in sy gemeenskap te ondersteun deur soortgelyke inisiatiewe in die komende maande te onderneem wat daarop gemik is om hierdie instansies te bemagtig en hulle te help om te fokus op hul primêre doel, naamlik om mense in nood te help.