Vir alle beplande prosedures, behandelings en hospitaalopnames (insluitend by dagprosedurefasiliteite) moet jy voorafmagtiging by Medihelp kry. Dit is belangrik sodat jy voor die tyd weet of:
- Jou plan die prosedure of behandeling dek.
- Jy enige bybetalings gaan hê.
Die goeie nuus is dat jy nie ʼn oproep hoef te maak om magtiging te kry nie. Jy kan bloot aanmeld op die Member Zone > MAGTIGTINGS >. Kies die soort magtiging waarna jy soek op die lys (byvoorbeeld hospitalisasie) en volg dan die instruksies.
Waarvoor moet ek magtiging kry?
- Alle hospitaalopnames, insluitend by dagprosedurefasiliteite, of dit deel is van Medihelp se netwerk of nie;
- In die geval van noodhospitaalopnames, moet ʼn familielid of die hospitaal Medihelp op die eerste werksdag ná die opname vir magtiging kontak;
- Medisyne wat gelys is as voorgeskrewe minimum voordele (VMV's), chronies, Artikel 21, en medisyne wat vir langer as 30 dae gebruik moet word;
- Suurstof vir tuisgebruik;
- Gespesialiseerde radiologie, insluitend MRB- en RT-skanderings;
- Onkologiebehandeling wat in samewerking met onkoloë van die Independent Clinical Oncology Network (ICON) aangebied word;
- Verwysings na spesialiste; en
- Sekere gespesialiseerde tandheelkunde- en optometriedienste.