Back 25 Apr, 2022 - Gesondheidsbewustheid

Medihelp

By Medihelp

Back

Wêreld Malaria-dag

Wêreld Malaria-dag

Malaria is ’n voorkombare en behandelbare siekte
Read more

Beskerm jouself teen malaria
Malaria is ’n voorkombare en behandelbare siekte, en tog het dit steeds vernietigende gevolge wêreldwyd. Daar is net in 2020 na raming 241 miljoen nuwe malariagevalle en 627 000 malariaverwante sterftes in 85 lande aangeteken. Dit is een van die ses vernaamste oorsake van sterftes weens oordraagbare siektes ter wêreld.

Feite oor malaria

  • Malaria is ’n lewensbedreigende siekte wat veroorsaak word wanneer parasiete na mense oorgedra word deur anofelesmuskiete. Die parasiete kan vir weke lank in die lewer aanwesig wees voordat dit die bloedstroom besmet en mense begin om siek te voel.
  • Die eerste simptome van malaria sluit in koors, hoofpyn en kouekoors. Simptome begin gewoonlik 10 tot 15 dae na ’n besmette muskietsteek.
  • Bykans 95% van alle malariagevalle en -sterftes in 2020 was in Afrika. Ongeveer 80% van malariasterftes in dié streek was kinders jonger as vyf jaar.
  • “Taximalaria”, ook genoem odusseïese of lughawemalaria, word deur “saamry-muskiete” oorgedra. Hoewel dit seldsaam is, moet die moontlikheid ondersoek word indien persone malariasimptome ontwikkel maar nie in ’n malaria-area gereis het nie.
  • Die Wêreldgesondheidsorganisasie se doelwit is om die voorkoms en sterftekoers van malaria wêreldwyd teen 2030 met minstens 90% te verminder.

 

Malaria in Suid-Afrika
Malaria het ’n lae voorkoms in Suid-Afrika en is gewoonlik beperk tot sekere streke in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. Daar word jaarliks tussen 10 000 en 30 000 gevalle by die owerhede aangemeld. Die oogmerk is om malaria teen 2023 uit te roei.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het in Januarie 2022 ’n skielike toename in malariagevalle in Suid-Afrika aangeteken, en het gewaarsku dat talle mense verkeerdelik met COVID-19 gediagnoseer is, aangesien die vroeë simptome van beide hierdie toestande ooreenstem en nie spesifiek is nie.

Wie loop gevaar van infeksie?
Malaria kan mense van alle ouderdomme affekteer. Kinders, verwagtende ma’s en mense met MIV/vigs asook met swak immuniteit het ’n groter risiko om malaria op te doen en ernstig siek te word.

Malaria tydens swangerskap kan lei tot ’n miskraam, premature geboorte en moedersterftes. Dit kan voor of tydens die bevalling van die ma na die baba oorgedra word.

Kinders jonger as vyf jaar is die kwesbaarste groep vir malaria.

Voorkoming is beter as genesing
Dr Albie de Frey, hoof uitvoerende beampte van Travel Doctor Corporate, raai mense in hoërisikogebiede aan om liefs ná donker en voor sonop binne te bly, om langbroeke en -hemde buite te dra, en ’n doeltreffende insekweerder wat DEET bevat aan blootgestelde areas van die liggaam te smeer.

Ander voorkomende opsies in om onder muskietnette te slaap, muskietafweermiddels soos plaatjies en spirale te gebruik, en insekweerder aan bagasie te smeer wanneer jy ’n hoërisiko-area verlaat.

“Geen malariaprofilaksetablet is 100% doeltreffend om malaria te keer nie, maar dit is noodsaaklik om een van die beskikbare tablette te neem aangesien dit ’n hoë mate van beskerming bied,” sê dr De Frey.

Mense wat nie malariaprofilakse neem nie en dan malaria opdoen, kan delirium en hoë koors ontwikkel. Indien hulle nie behandeling kry nie, kan hulle sterf.

“Die Travel Doctor raai swanger vroue en kinders jonger as vyf jaar aan om gebiede met ’n hoë malariarisiko te vermy. Dis altyd beter om jou dokter se raad te volg,” sê dr De Frey.

Medihelp se voordele
Die diagnose en behandeling van malaria kwalifiseer vir voorgeskrewe minimum voordele (VMV) en ingevolge die Wet op Mediese Skemas 131 van 1998 moet alle mediese fondse dit ten volle dek. Medihelp-lede wat met malaria gediagnoseer word, moet die toestand vir VMV by Medihelp registreer en behandeling volgens die VMV-protokolle vir die toestand ontvang by aangewese diensverskaffers. Medisyneformulariums geld vir lede van MedVital Elect, MedAdd Elect, MedPrime Elect en MedElect. VMV-behandeling kan konsultasies, medisyne, hospitalisasie en behandeling van ’n noodgeval insluit.

Sources:

https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/malaria
https://www.nicd.ac.za/malaria-alert-24-jan-2022/
https://www.nicd.ac.za/diseases-a-z-index/malaria/
https://traveldoctor.co.za/2021/11/25/stay-safe-from-malaria-%F0%9F%A6%9F-heres-what-you-need-to-know/


Share this on: