Mediese fonds in jou 20’s is ʼn slim plan
Jy’s jonk, vry en jy het sopas jou eerste regte werk met ʼn behoorlike salaris losgeslaan. Jy’s gesond, jy oefen gereeld en jy volg ʼn gebalanseerde dieet. So hoekom moet jy jou hardverdiende geld op ʼn mediese fonds bestee pleks van ʼn nuwe kar, rondrits of vermaak?
As die ergste gebeur
Ongelukke, skielike siekte of beserings kan op enige ouderdom gebeur. As jy nie ʼn groot spaarrekening vir mediese noodgevalle het nie, kan die koste van mediese behandeling jou met hope skuld los.
“Ons het gevind daar is twee hoofredes hoekom jong mense – selfs dié in hulle dertigs en veertigs – die koop van mediese dekking uitstel: Hulle dink dis duur en hulle dink dis onnodig,” sê Koena Molekoa, Senior Bestuurder van Besigheidsontwikkeling by Medihelp Mediese Skema. “Maar as jy te lank wag, kan dit jou nóg meer kos. En jy het dalk nie dekking wanneer jy dit nodig het nie.”
Wat om in ag te neem
Molekoa wys daarop dat jy die volgende in ag moet neem voordat jy teen gesondheidsorgdekking besluit:
- Bekostigbaarheid: ʼn Mediese fonds kan duur wees, maar bietjie dekking is beter as geen dekking nie. Selfs ʼn hospitaalplan is ʼn goeie begin.
- Onderskrywing: Die onderskrywingreëls van mediese skemas en die Wet op Mediese Fonds bepaal dat, onder sekere omstandighede, iemand wat vir meer as 90 dae nie aan ʼn mediese skema behoort het nie ʼn algemene wagtydperk van drie maande, ʼn toestand-spesifieke wagtydperk van twaalf maande, of ʼn laataansluitingsbelading kan hê.
- Koste van behandeling: Mediese sorg is baie duur, veral hospitaalverblyf en gespesialiseerde toetse soos rekenaartomografie (RT-skandering). Een geval kan ʼn bedrag gelykstaande aan ʼn huislening se skuld tot gevolg hê.
- Koste van behandeling teenoor mediesefondsledegeld: Die maandelikse ledegeld van mediese fondse is dikwels ʼn druppel in die emmer in vergelyking met die koste van behandeling.
- Mediesefondsdekking en dodetal: ʼn Onlangse Amerikaanse studie het bevind dat mense sonder gesondheidsversekering ʼn kleiner kans op oorlewing het. Voorkomende sorg en vroeë bespeuring is lewensbelangrik in die bestuur van gesondheid met verloop van tyd, aangesien baie mense sonder mediese dekking geneig is om gereelde roetineondersoeke oor te slaan.
- Voorkomende sorg: Die meeste mediese fondse dek voorkomende dienste soos siftingstoetse, inentings en sielkundige berading.
- Toename in leefstylsiektes: Long- en hartsiektes, kanker en beroerte neem toe as gevolg van ons sittende leefstyl. Hierdie siektes raak ook meer jong mense as in die verlede.
Wat jy ook in ag moet neem
- Gemoedsrus: Met ʼn mediese fonds het jy dekking in ʼn onverwagse noodgeval. Dit gee gemoedsrus.
- Handhawing van gesondheid: Gereelde roetine-ondersoeke en vroeë ingryping kan ernstige gesondheidsprobleme verhoed. ʼn Mediese fonds is dus noodsaaklik om jou gesond te hou.
- Finansiële beskerming: ʼn Mediese fonds beskerm jou teen die finansiële las van onverwagse mediese koste. Dit help ook om chroniese toestande te bestuur met voordele vir chroniese medisyne en sorgprogramme vir siektebestuur.
- Toegang tot beter gesondheidsorg: Lede van ʼn mediese fonds het gewoonlik toegang tot ʼn netwerk van gesondheidsorgverskaffers, insluitend privaat hospitale en spesialiste. Dit verseker dat jy gehaltesorg ontvang wanneer jy dit die nodigste het.
- Omvattende dekking: Baie mediesefondsplanne bied omvattende sorg, insluitend sorg vir tande, oë en geestesgesondheid. Hierdie holistiese benadering verseker dat alle aspekte van jou welstand ondersteun word.