Doelgerigte voordeelverbeteringe, aanvullende sorg en doeltreffende diens is daarop gemik om aan lede meer waarde en ondersteuning te bied en hulle te help om langer gesond te leef.
Terwyl adviseurs Medihelp se virtuele 2027-produkvoorskou bygewoon het, het die Skema R442 000 aan eise betaal. Binne 20 minute het mediesefondsdekking gedoen wat dit veronderstel is om te doen: lede toegang tot gesondheidsorg gegee en hulle gehelp om antwoorde te kry sodat hulle met hulle daaglikse lewe kan aangaan. Dit is wat Medihelp se 2027-tema, Wins uit Welstand, in die praktyk beteken – waarde wat nie net in rand en sent gemeet word nie maar ook in beter toegang tot sorg, vroeër ondersteuning en meer gesonde jare.
Medihelp het ’n reeks doelgerigte voordeelverbeteringe vir 2027 bekendgestel wat daarop gemik is om toegang tot sorg te verbeter, vroeër ingryping moontlik te maak en in lede se behoeftes oor verskillende lewensfases te voorsien. Die mediese skema het ook ’n geweegde gemiddelde ledegeldverhoging van 7,5% vir 2027 aangekondig, met stygings wat tot 7% en laer beperk is vir 60% van lede.
“Die waarde van gesondheid en mediesefondsdekking moet aan meer gemeet word as die geld wat lede betaal,” het Varsha Vala, Hoof- Uitvoerende Beampte en Hoofbeampte van Medihelp, gesê. “Wat belangrik is, is wat daardie belegging moontlik maak. Vir ons lede beteken wins uit welstand beter toegang tot gesondheidsorg, ondersteuning wanneer hulle dit nodig het, voordele wat voorkoming en vroeër opsporing aanmoedig en meer ondersteuning om hulle gesondheid te bestuur en langer gesond te leef.”
Meer waarde waar dit saak maak
Die 2027-verbeteringe fokus op praktiese gebiede waar lede meer waarde uit hulle mediesefondsdekking kan kry.
Aparte ongevalledekking vir lede se gemoedsrus
’n Afsonderlike voordeel vir ongevalle-eenhede vir kinderafhanklikes tot en met 19-jarige ouderdom is ’n uitsonderlike toevoeging tot Medihelp se 2027-aanbod. Dit dek konsultasies en fasiliteitsfooie by ongevalle-eenhede vir noodgevalle, sonder om die gesin se beskikbare dag-tot-dag-voordele uit te put.
Ondersteuning vir geestesgesondheid
Medihelp het sy buitehospitaalvoordeel vir geestesgesondheid uitgebrei om lede beter toegang tot geestesgesondheidsorg en vroeër ondersteuning te gee. Die voordeel sal ook op MedMove! beskikbaar wees om jonger mense met hulle geestesgesondheid te help.
Siftingstoetse vir vroeë opsporing
Voorkoming is altyd beter as genesing. Deur ’n kombinasie van gesondheidsiftings en ander toetse te doen, verkry lede beter insig in hulle gesondheid. Hulle kry ook toegang tot bykomende gesondheidsorgvoordele, soos twee bykomende huisdokterkonsultasies en ’n verdere R1 050 vir selfmedikasie of akute medisyne.
Swangerskapvoordele
Medihelp het ook sy swangerskapvoordele uitgebrei, onder meer met dekking vir ’n konsultasie by ’n kliniese sielkundige om mammas se geestesgesondheid te ondersteun. ’n Omvattende Ouerskapreis gee ma’s en pa’s toegang tot toepaslike, praktiese inhoud en ’n KI-assistent wat moeilike vrae beantwoord en waardevolle ondersteuning deur elke fase van ouerskap bied.
Telegesondheidkonsultasies
Telegesondheidkonsultasies teen ’n verlaagde tarief bied ’n gerieflike en kostedoeltreffende manier om toegang tot geskikte gesondheidsorg te kry en beskikbare dag-tot-dag-voordele te spaar.
Die beste sorg is die hospitaalopname wat nooit nodig is nie
Wins uit welstand word ook weerspieël in die impak van Medihelp se aanvullende sorgprogramme. Die beste sorg is die hospitaalopname wat nié hoef te gebeur nie. Elke dag, elke uur en elke minuut maak saak – want tyd wat lede nie in die hospitaal deurbring nie, is tyd wat hulle terugkry.
Medihelp se Hospitaalnasorgprogram wys hoe daardie tyd in die praktyk kan lyk. Die program het vir ’n noemenswaardige afname in heropnames binne 30 dae gesorg. Met ’n gemiddelde verblyftyd van 3,4 dae kom dit op ’n geraamde 648 dae neer. Dit is sowat 15 547 uur of 932 798 minute wat ons lede nie weer in die hospitaal hoef deur te bring nie – genoeg tyd vir ongeveer 11 660 Springbokwedstryde!
Maar byna ’n miljoen minute is meer as net ’n syfer. Die eintlike waarde lê in dit wat lede werklik met daardie tyd terugkry: skoolritte, koffie saam met vriende, Saterdagsport, gesinsetes, werk, rus en die alledaagse oomblikke waaruit die lewe bestaan.
Gesondheid gaan oor meer as net kliniese sorg
Of wins uit welstand betekenis het, hang ook af van hoe maklik lede hulp kan kry en vrae oor hulle mediesefondsdekking beantwoord kan kry. Sover hierdie jaar het Medihelp se diensresultate al verskeie toekennings opgelewer. Medihelp handel 92% van navrae met die eerste kontak af, beantwoord oproepe gemiddeld binne net 17 sekondes en beantwoord elke maand met meer as 35 000 navrae.
Dit beteken ons lede wag minder, hoef minder op te volg en is meer geneig om die antwoorde en ondersteuning te kry wat hulle nodig het wanneer hulle ons die eerste keer kontak. Dit bied tasbare waarde en weerspieël ons verbintenis daartoe om toegang tot mediesefondsdekking eenvoudiger, vinniger en meer gerusstellend te maak.
Bekroonde kliënte-ervaring
Hierdie diensprestasie het verseker dat Medihelp onlangs weer ’n podiumplek behaal het in die Ask Afrika Orange Index™, wat uitnemendheid in kliënte-ervaring in Suid-Afrika erken.
“Ons gee om vir ons lede, en dit wys in die hoë ‘gevoelsfaktor’-gradering wat ons ontvang het. Dit maak selfs meer saak omdat lede ons gewoonlik kontak in oomblikke wanneer hulle duidelikheid, gerusstelling en hulp nodig het,” sê Riaan Nel, Hoof van Lede-ervaring by Medihelp.
Wins uit welstand
“Wins uit welstand gaan nie bloot daaroor om mediesefondsdekking te hê nie. Dit gaan daaroor om jou dekking te verstaan, dit te gebruik en keuses te maak wat jou kan help om langer gesond te leef,” het Vala gesê. “Ons adviseurs speel ’n noodsaaklike rol om lede te help om die plan te kies wat die beste in hulle behoeftes voorsien en om die beste gebruik van hulle beskikbare voordele te maak.”
Medihelp sal die virtuele voorskou opvolg met sessies vir adviseurs regoor die land waar die 2027-verbeteringe in meer besonderhede bespreek sal word en adviseurs toegerus sal word om wins uit welstand in hulle gesprekke met kliënte prakties toe te pas.
EINDE
Oor Medihelp
Medihelp is ’n selfgeadministreerde mediese skema wat toegang tot gesondheidsorg bied deur toepaslike mediesefondsdekking, voordele en ondersteuning. Die Skema se doel is om mense te help om langer gesond te leef.
Medianavrae
Lien Potgieter
Hoof: Bemarking en Kommunikasie
lienpotgieter@medihelp.co.zaSelfoon: 083 691 3569