Back 01 Aug, 2023 - Gemeenskapsopheffing

Back

Medihelp bederf senior burgers met heerlike sop

Medihelp bederf senior burgers met heerlike sop

Read more

Medihelp Mediese Skema het op 17 Julie drie inkopietrollies vol groente, kruie en vleis afgelewer by Huis Silversig, ’n tehuis vir kwesbare senior burgers in Silverton, Pretoria. Op Mandela-dag het 51 entoesiastiese Medihelp-werknemers opgedaag om 28 liters sop voor te berei, 160 broodrolletjies te smeer, tafels te dek om ’n heilsame maaltyd aan die inwoners te bedien, en daarna die skottelgoed te was. Dit was deel van die mediese skema se korporatiewe maatskaplike investeringsinisiatiewe.

Die Medihelp-werknemers het ná die maaltyd tyd saam met die inwoners deurgebring en 3,3 km se wol asook bordspeletjies en legkaarte aan hulle oorhandig. Medihelp het ook geld geskenk om met die opknapping van die sentrum se drie badkamers te help.

Huis Silversig is in 1977 gestig met die oogmerk om betekenis aan senior burgers se lewens te gee, hulle welstand te beskerm en in hulle mediese behoeftes te voorsien. Dit bied ’n tuiste vir 95 senior burgers, waarvan een honderd jaar oud is en sewe inwoners goed op pad is om ook honderdjariges te word.

“Dit was aandoenlik en besielend om die glimlagte op die inwoners se gesigte te sien. Dit is waarlik ’n voorreg om minderbevoorregte mense te kan help – nie net met kos en tasbare dinge nie, maar ook deur jou tyd en energie te gee,” sê Kobie van Eeden, Medihelp se mensehulpbronnehoof en lid van die Skema se Maatskaplike en Etiekkomitee.

Medihelp het sy maatskaplike en etiekstrategie in 2022 van stapel gestuur en het verskeie Medihelper-projekte geïdentifiseer wat aan werknemers die geleentheid bied om by die welsynsprojekte van hulle keuse betrokke te raak en dit te ondersteun.

“Ons poog om met hierdie projekte ’n positiewe, volhoubare impak te maak op die gemeenskappe en omgewing waarin Medihelp en sy belangegroepe funksioneer. Ons glo ook daarin om ’n omgee-kultuur by ons werknemers te vestig,” sê Van Eeden.

“Die ondersteuning vir hierdie inisiatiewe bevestig dat Medihelpers groot harte het en altyd bereid is om te help. Die impak van dié teruggee-inisiatiewe op werknemers se moraal en spangees is ook merkwaardig, wat weer ’n positiewe uitwerking op kliëntediens en ons finansiële resultate het,” sê Van Eeden.


Share this on: