Back 19 Jun, 2020 - Medihelp-produkte

Back

Medihelp is die eerste mediese fonds wat ’n virtuele AJV hou

Medihelp is die eerste mediese fonds wat ’n virtuele AJV hou

Medihelp Mediese Skema, een van die vyf grootste oop mediese skemas in Suid-Afrika wat sy administrasie self behartig, was die eerste mediese fonds in die bedryf wat ’n virtuele algemene jaarvergadering (AJV) gehou het op Donderdag 18 Junie 2020.
Read more

Medihelp Mediese Skema, een van die vyf grootste oop mediese skemas in Suid-Afrika wat sy administrasie self behartig, was die eerste mediese fonds in die bedryf wat ’n virtuele algemene jaarvergadering (AJV) gehou het op Donderdag 18 Junie 2020. Danksy hierdie innoverende benadering kon belanghebbendes landwyd vir die eerste keer in die Skema se geskiedenis van 115 jaar virtueel aan die AJV deelneem.

Die inisiatief om ’n virtuele AJV te hou, spruit uit die beperking op samekomste en openbare vergaderings wat ingestel is om die verspreiding van COVID-19 te bekamp. Pleks daarvan om die vergadering uit te stel, het Medihelp goedkeuring van die Raad vir Mediese Skemas bekom om dit digitaal te hou. Dit was vir Medihelp die ideale geleentheid om lede in staat te stel om aktief aan die AJV se verrigtinge deel te neem.

Lede en gaste wat deelgeneem het, kon na ’n video van die AJV kyk of na ’n podsending luister en hulle kon interaktief met die Skema skakel oor kwessies asook toepaslike dokumentasie in ’n beveiligde omgewing aflaai.

Die sukses van die vergadering bewys dat Medihelp daartoe verbind is om aan lede die geleentheid te bied om hulle sê te sê en met die Skema te skakel, selfs in moeilike tye. Deurlopende interaktiewe skakeling en dienslewering bly uiters belangrik vir die Skema, om te verseker dat lede ingelig en bemagtig is terwyl hulle deurlopend gehaltediens en bystand ontvang.

Medihelp Mediese Skema se finansiële resultate vir 2019

Medihelp het tydens die AJV-verrigtinge bekendgemaak dat gesonde finansiële resultate vir die jaar geëindig 31 Desember 2019 behaal is en dat dit een van slegs ’n handjievol skemas was wat vir die derde opeenvolgende jaar netto groei behaal het. Medihelp het 14 876 nuwe lede met ’n gunstige profiel in 2019 verwelkom en het vir die vyfde opeenvolgende jaar ’n gemiddelde lidouderdom van 37 jaar gehandhaaf, terwyl die getal afhanklikes per lid toegeneem het van 1,17 na 1,18 – al hierdie faktore het ’n gunstige uitwerking op die Skema se risikoprofiel gehad.

Medihelp kon die 2019-boekjaar met ’n netto surplus van R55,4 miljoen afsluit ondanks die negatiewe gevolge van ’n swakker ekonomie terwyl niegesondheidsorgkoste gedaal het na 8,7%, wat onder die laagste in die bedryf tel. Die Skema se eisebetalingsvermoë soos deur Global Credit Rating toegeken, was steeds AA-minus en die gesonde solvensievlak van 27,68% was ver bo die wetlik vereiste vlak van 25%.

Hierdie standvastige finansiële resultate bied gemoedsrus aan die Skema se lede in onseker tye.
 


Share this on: