Back 15 Jun, 2023 - Ettie da Silva (9/12/1966 - 11/6/2023)

Medihelp Mediese Skema se hoofbeampte sterf

MEDIAVRYSTELLING
15 JUNIE 2023

Medihelp Mediese Skema se Raad van Trustees het met leedwese bekend gemaak dat Ettie da Silva, die hoofbeampte van die Skema, skielik op Sondag, 11 Junie 2023 aan natuurlike oorsake oorlede is.

“Namens die raad, uitvoerende span en al die werknemers van Medihelp, deel ons ons diepste medelye met haar familie, vriende en dogter, wie sy as haar grootste inspirasie beskryf het,” het Chris Klopper, voorsitter van die Medihelp Raad van Trustees, gesê.

“Ons is diep geraak deur Ettie se afsterwe. Sy en haar span het die afgelope vier jaar met groot ywer en groot sukses haar strategiese visie vir die organisasie uitgevoer.”

Met Ettie aan die stuur is die Skema se handelsmerk vernuwe, die mededingendheid van die produkreeks verhoog, en is netto ledegroei behaal met hooflede wat tans op die drumpel van 100 000 staan te midde van trae groei in die bedryf.

“Dit was ’n voorreg om saam met so ’n bedagsame en geesdriftige persoon soos Ettie te werk. Sy was ’n ware leier en het opreg vir die natuur en die welstand van elke lid en werknemer omgegee. Ettie het ‘n sleutelrol in die vestiging van Medihelp se kantoor in ’n gesonder en veiliger omgewing gespeel. Sy het ook aan die stuur van verskeie van die organisasie se nuwe gemeenskapsprojekte gestaan.” 

Voordat Ettie by Medihelp aangesluit het, het sy talle hoë posisies in prominente korporatiewe entiteite beklee en haar regservaring van 17 jaar was vir haar van groot nut in die bedryf.

Johan Viljoen, tans die Bedryfshoof by Medihelp, het Ettie se visie gedeel en is as die waarnemende hoofbeampte aangestel. Viljoen beskik oor uitgebreide ervaring in die medieseskema-bedryf. Hy, die raad en die uitvoerende span sal saamwerk om die strategie te volvoer totdat die pos permanent gevul word.

“Medihelp-lede en ander vennote kan verseker wees van ons volgehoue diens en ondersteuning, en dat ons u op hoogte van enige verwikkelinge sal hou,” het Klopper afgesluit.

EINDE

 


Share this on: