Met swaaiende sterte en lekkende tonge wat hulle begroet, het 55 entoesiastiese Medihelpers op 21 Julie 2023 by die Wollies-diereskuiling in Pretoria-Noord opgedaag en sommer dadelik begin om met die skoonmaak van die diere se hokke te help. Hierdie inisiatief is deel van die mediese skema se korporatiewe maatskaplike investeringsinisiatiewe.
Medihelp het ook 1 545 kg honde- en kattekos geskenk, asook geld wat aangewend gaan word om 10 klein houthuisies te bou waar die diere snoesig kan saambly. Vrywilligers het 100 vlieskomberse saamgebring wat die diere gedurende die koue winternagte sal warm hou, en het ’n paar van die honde bederf met ’n 2,5 km-uitstappie op Wollies se terrein.
Medihelp het as ’n verantwoordelike korporatiewe burger ’n maatskaplike en etiekstrategie in 2022 ingestel, en werknemers kon verskeie liefdadigheidsprojekte aanwys wat hulle wil ondersteun. Wollies was een van die groot gunstelinge.
Die skuiling het sy deure op 29 Mei 2013 geopen met net ’n handjievol katte en honde. Dit is geregistreer as ’n niewinsgewende en pro-lewe-organisasie, wat beteken dat hulle vir hawelose, verwaarloosde en mishandelde diere sorg totdat hulle permanente tuistes kry. Wollies sorg tans vir 700 honde, 400 katte, 2 donkies en 20 hasies.
“Die hawelose diere is gelukkig en ontvang volop liefde, sorg en kos terwyl hulle by ons bly,” sê Cilla Trexler, Wollies se eienaar.
Volgens Johan Viljoen, Medihelp se waarnemende hoofbeampte, het sulke inisiatiewe ’n positiewe en blywende impak op gemeenskappe en die samelewing as geheel. “Wanneer ons ’n helpende hand uitreik, kry ons ’n beter begrip van ander se unieke behoeftes. Dit geld ook in ons werkomgewing, waar ons ’n dienskultuur aanmoedig wat ooreenstem met ons waardes van leiding gee, doen en omgee,” sê Viljoen.