Back 13 Des, 2023 - Floreer!

Back

’n Kultuurryke omgewing is goed vir meditasie

’n Kultuurryke omgewing is goed vir meditasie

In ’n wêreld waar ons om elke hoek en draai met inligting gebombardeer word, is daar tóg ’n manier om die kuns van kalmte weer te leer.
Read more

Stilword in ’n plek waar ons ons kulturele erfenis kan herontdek en so ons gees gesonder kan maak, is teenstrydig met die daaglikse aanval op ons sintuie. In die moderne wêreld word ons om elke hoek en draai met inligting gebombardeer: Elektroniese toestelle verg ons onmiddellike, onverdeelde aandag, en mense en werk maak aanspraak op ons kosbare tyd en energie. Dié konstante ‘geforseerde’ waaksaamheid kan ons laat voel dat ons omgewing ’n bedreiging inhou en voortdurend ’n veg-vlug-vries-reaksie veroorsaak.

Die gevolg is chroniese angs sonder tyd vir dagdroom, wat noodsaaklik is vir ons geestesgesondheid. In ’n wêreld waar ons op die drumpel van ’n welstandskrisis staan, is dit belangriker as ooit om kalmte en balans te vind.

Maar is dit moontlik om besigwees af te leer, tyd te maak vir bewondering en weer die kuns van kalmte te leer vir ’n gesonder, gelukkiger jy?

Volgens Dr Kirti Ranchod, neuroloog en stigter van Memorability, ’n organisasie wat breingesondheid bevorder, kan jy jou brein leer om te kalmeer sodat dit nie net ’n tydelike gevoel is nie. “En net soos enige ander vaardigheid moet jy dit oefen en koester sodat dit ontwikkel.

“Ons het ’n gesonde brein nodig om beter te dink, beter te voel, probleme op te los, keuses te maak en die lewe te geniet. Maar voordat ons meer gevorderde kognitiewe vermoëns soos probleemoplossing aanpak, is dit nodig om die grondslag vir kalmte te lê. Wanneer ons ruimtes skep vir en tyd skenk aan oordenking en ontspanning, gee dit ons brein kans om te herstel.”

Daar is ’n magdom aanlyn hulpmiddels beskikbaar om mense te help om self stil te word en meer bewus van die oomblik en hul omgewing te wees. Tog vind baie van ons dit moeilik om hierdie hulpmiddels gereeld te gebruik en dit ’n deel van ons dag te maak.

Volgens dr. Ranchod bied ons kulturele erfenis hulpbronne om ons geestesgesondheid te verbeter. “Ons tradisies en erfenis bied ’n rykdom van wysheid om breingesondheid ’n hupstoot te gee en geestelike welstand te bevorder. Voorbeelde hiervan is alledaagse gebruike soos tradisionele maniere om maaltye voor te berei, by mekaar te leer, bekende geure en reuke of kuns en die geestelikheid wat ons vind in ons tradisies.

“Studies in neurale sinchronie – hoe ’n groep mense op een plek se breinaktiwiteite ooreenstem – toon dat ons breingolwe mekaar in ’n groep beïnvloed. Hierdie sinchronisering maak dit ’n verrykende ervaring om stil-stil deur ’n museum te stap en al jou aandag aan ’n kunswerk te gee.”

Een van die tegnieke wat dr. Ranchod voorstel, is stilwees in ’n omgewing wat met sorg ingerig is. Sy vergelyk dit met vas (weerhouding) en beklemtoon dat dit belangrik is om ons brein te laat rus weg van die bykans eindelose daaglikse gedruis.

“Stilte word ’n veilige hawe waar ons op een taak kan fokus. Dis ’n metode om die brein te herkalibreer, ’n oefening wat ’n breek van die eise van die wêreld bied. Ek het die Origins Centre by Wits Universiteit gekies om stiltesessies te hou, aangesien die uitstallings besoekers uitnooi om te dink oor hul identiteit, geskiedenis en die gedeelde kulturele betekenis van artefakte en skilderye. Die stil ruimtes en beligting van die sentrum moedig kalmte en dieper nadenke aan.

“In ons ewige strewe na sukses en prestasie, is dit maklik om te vergeet van ons fundamentele behoefte aan kalmte en balans. Tog is dit die grondslag van ’n gesonde brein en geestelike welstand. Wanneer ons tyd maak om te rus en balans te vind, kry ons weer die energie om die lewe se uitdagings aan te pak,” sluit dr. Ranchod af.


Share this on: