Vir baie vroue is menopouse ’n ontstellende gedagte, nie net oor die ongemak wat deur fisieke simptome veroorsaak word nie, maar ook omdat dit ’n hele nuwe lewensfase inlui. Dit hoef jou egter nie te oorweldig nie. Hier is wat jy in dié fase van jou lewe kan verwag, asook wenke om hierdie natuurlike proses doeltreffend te hanteer.
Wanneer begin menopouse?
Volgens menopouse-afrigter Adele Muller ervaar die meeste vroue menopouse rondom die ouderdom van 51, hoewel hulle reeds in hul veertigs of selfs laat dertigs simptome van perimenopouse (die fase wat menopouse voorafgaan) kan opmerk. “Jou algemene gesondheid, genetika en leefstyl beïnvloed die ouderdom waarop menopouse begin,” sê Adele.
Wat is die algemeenste simptome van menopouse?
Een van die ooglopendste simptome van menopouse is dat jy ophou menstrueer as gevolg van ’n afname in die hormone estrogeen en progesteroon. Hierdie veranderende hormoonvlakke kan talle ander simptome veroorsaak. Hoewel dit van vrou tot vrou verskil, is sommige van die algemeenste simptome:
- ’n Onreëlmatige menstruele siklus: Menstruasie kan langer, korter, swaarder of ligter word. Die onreëlmatigheid kan ongerieflik wees, maar dis belangrik om hierdie veranderings dop te hou.
- Warm gloede en nagsweet: Skielike warm gloede wat dikwels met sweet gepaard gaan, is een van die lastigste simptome.
- Vaginale veranderings: Droogheid, jeukerigheid en ongemak kan intimiteit beïnvloed.
- Gemoedskommelings en angs: Emosionele skommelings wat deur hormonale veranderings veroorsaak word, kan moeilik wees om te hanteer.
- Kognitiewe veranderings: Probleme met konsentrasie en geheue (“brain fog”) is ’n algemene klagte.
- Haarkwessies: Dunner hare en verandering in die tekstuur en volume van jou hare kan ontstellend wees.
Floreer tydens menopouse
- Oefen gereeld
Aërobiese, krag- en soepelheidoefeninge hou verskeie gesondheidsvoordele in. Oefening help om gewig te beheer, gemoedskommelings te verlig, die risiko van chroniese toestande soos hartsiekte en osteoporose te verlaag, en dra by tot spierkrag en beengesondheid. - Eet gesond
Sluit ’n verskeidenheid vrugte, groente, laevet-proteïene en volgraankos by jou eetplan in. Kosse wat ryk is aan kalsium en vitamien D is veral belangrik vir beengesondheid. Omega-3-vetsuur, wat in vis en vlassaad voorkom, help om inflammasie te verminder en jou hart gesond te hou. - Verbeter slaaphigiëne
Dis uiters belangrik om goed te slaap. Om ’n rustige slaaptydroetine te skep, help dit om ’n boek te lees, ’n warm bad te neem of na strelende musiek te luister. - Kry mediese raad
Gereelde doktersondersoeke verseker dat enige gesondheidskwessies onmiddellik aandag kan geniet.
Behandelingsopsies
Behandeling wissel na gelang van die simptome wat ervaar word en hoe ernstig dit is. Bespreek hierdie opsies met jou dokter om die beste en veiligste benadering vir jou behoeftes te vind:
- Hormoonvervangingsterapie: Dit kan simptome soos warm gloede en vaginale droogheid behandel deur estrogeen- en progesteroonvlakke aan te vul.
- Medisyne: Sekere antidepressante en medisyne vir hoë bloeddruk kan warm gloede verminder.
- Vaginale estrogeen: Laedosis- vaginale estrogeen in die vorm van room, tablette of ringe kan vaginale droogheid verlig sonder om jou algehele hormoonvlakke beduidend te beïnvloed.
- Alternatiewe behandeling: Akupunktuur, joga en kruieaanvullings bied vir sommige vroue verligting.
Vertrou op jou familie vir ondersteuning
“Jou gesin is ’n noodsaaklike deel van jou ondersteuningstelsel,” sê Adele. “Empatie en begrip van jou familie is deurslaggewend vir jou welstand. Deel dit waardeur jy gaan met hulle en hoe dit jou fisieke en emosionele welstand beïnvloed.
“Menopouse is ’n unieke reis vir elke vrou. Deur ingelig te bly, ondersteuning te kry en oop kommunikasie met jou geliefdes te handhaaf, kan jy hierdie oorgang met selfvertroue hanteer,” sluit Adele af.