Back 25 Jun, 2026 - Medihelp

Back

Verstaan middelmisbruik: Voorkoming, ondersteuning en hoop

Verstaan middelmisbruik: Voorkoming, ondersteuning en hoop

Leerken die tekens van middelafhanklikheid en hoe vroegtydige hulp herstel kan bevorder.
Read more

Die werklikheid van middelmisbruik in Suid-Afrika

Elke jaar tydens die laaste week van Junie neem Suid-Afrika Dwelmbewustheidsweek waar, ’n inisiatief van SANCA (die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad oor Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid). Dit stem ooreen met die Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Handel en is ’n tydige herinnering dat middelmisbruikversteuring nie diskrimineer nie – dit raak mense van alle ouderdomme en agtergronde. By Medihelp glo ons dat bewustheid die eerste stap na gesonder gemeenskappe is.

Die omvang van die probleem is onmoontlik om te ignoreer. Suid-Afrikaners se middelmisbruik is meer as dubbel die wêreldgemiddeld.  Alkohol bly die mees misbruikte middel, gevolg deur tabak en dagga, terwyl metamfetamien en snuifmiddels al hoe meer onder jongmense voorkom (South African Community Epidemiology Network on Drug Use). In Suid-Afrika begin dwelmafhanklikheid gemiddeld op 12-jarige ouderdom ­– en hierdie ouderdom raak al laer.

’n Gesondheidstoestand, nie ’n morele mislukking nie

’n Empatiese benadering maak ’n verskil. Skuld en skande dryf mense dikwels verder van hulp af, terwyl vroeë gesprekke, sifting en behandeling herstel kan ondersteun. Gesinne, kollegas en vriende kan ’n verskil maak deur veranderinge raak te sien, sonder oordeel te luister en professionele hulp aan te moedig.

Ken die tekens: ’n Eenvoudige kontrolelys vir gesinne en werkplekke

Middelmisbruikversteuring kan die brein, gedrag en besluitneming beïnvloed. Alkohol, onwettige dwelms, voorskrifmedikasie wat verkeerd gebruik word of ’n kombinasie van middels word algemeen gebruik. Volgens die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid sluit algemene waarskuwingstekens die volgende in:

  • Liggaamlike veranderinge
    Skielike gewigsverlies of -toename, rooi oë, versteurde slaap, verwaarloosde higiëne
  • Gedragsveranderinge
    Onttrekking van gesin en vriende, gemoedsteuring, geheimhouding, afnemende prestasie by die werk of skool
  • Finansiële waarskuwingstekens
    Onverklaarbare geldprobleme of vra vir kontant
  • Besit van dwelmtoebehore
    Pype, spuite, rolpapier of botteltjies

Om hierdie tekens vroeg raak te sien, kan die wêreld se verskil maak.

Voorkoming begin met verhoudings: klein dade kan risiko verlaag

Voorkoming is nie ’n eenmalige gesprek nie; dit is voortdurende ondersteuning. Tydens SANCA se Dwelmbewustheidsweek kan individue, ouers, werkgewers en gemeenskappe help deur veilige ruimtes te skep om oor stres, groepsdruk, geestesgesondheid en middelgebruik te praat.

Die boodskap is hoopvol: hulp is beskikbaar, herstel is moontlik, en vroegtydige ondersteuning kan gesondheid, verhoudings en toekomstige geleenthede beskerm. Enigiemand wat bekommerd is oor hul eie of iemand anders se middelgebruik, moet met ’n gesondheidswerker, berader, werknemer se welstandspan of erkende behandelingsorganisasie praat.

Daar is hulp:

  • SADAG 24-uur-middelmisbruikhulplyn: 0800 12 13 14
  • SADAG WhatsApp-klets vir middelmisbruik (08:00-17:00): 087 163 2025
  • SANCA nasionale kantoor: 011 892 3829 | WhatsApp: 076 535 1701

Hoe Medihelp jou herstelpad ondersteun

Middelmisbruikversteuring is ’n gesondheidstoestand, nie ’n keuse nie en dit verdien behoorlike mediese sorg. Van basiese hospitaaldekking tot omvattende beskerming – Medihelp kan die behoeftes van jou en jou geliefdes ondersteun. Want ons het ’n plan vir almal.

As jy 'n Medihelp-lid is en vertroulike hulp nodig het met gesondheidskwessies, besoek die Medihelp Member Zone en klik op Aanlyn klets. Jy kan ook ’n navraag onder Algemene navrae indien, en 'n konsultant sal jou kontak.


Share this on: