Back 01 Des, 2021 - COVID-19 | Gesondheidsbewustheid

Back

MIV/Vigs: 40 jaar later en die invloed van ’n nuwe pandemie

MIV/Vigs: 40 jaar later en die invloed van ’n nuwe pandemie

Data wat onlangs deur UNAIDS gepubliseer is, dui aan dat die getal mense wat behandeling vir MIV/Vigs ontvang, sedert 2010 meer as verdriedubbel het
Read more

Die COVID-19-pandemie het ander bestaande en hoogs tersaaklike openbare gesondheidskwessies oorskadu, onder meer die voortslepende MIV/Vigs-epidemie.

Dis reeds 40 jaar sedert die eerste gevalle van Vigs in 1981 gerapporteer is. Maar ten spyte van die vordering wat gemaak is op die gebied van bewusmaking, voorkoming, profilakse en behandeling, bly die MIV/Vigs-pandemie vier dekades later een van die wêreld se grootste gesondheidsuitdagings.

MIV/Vigs-syfers

Data wat onlangs deur UNAIDS gepubliseer is, dui aan dat die getal mense wat behandeling vir MIV/Vigs ontvang, sedert 2010 meer as verdriedubbel het terwyl die getal sterftes afgeneem het, deels as gevolg van die uitrol van antiretrovirale terapie. Meer as 690 000 Vigs-verwante sterftes is in 2020 gerapporteer, ’n afname van 43% sedert 2010.

In 2020 het 27,4 miljoen uit die 37,6 miljoen Vigs-lyers wêreldwyd behandeling ontvang, beduidend meer as die skrale 7,8 miljoen lyers in 2010. Volgens UNAIDS het die uitrol van bekostigbare, gehaltebehandeling sedert 2001 ’n geskatte 16,2 miljoen sterftes verhoed.

Nuwe MIV-infeksies het sedert 2010 met 30% gedaal – in 2020 was daar 1,5 miljoen mense wat nuut met die virus besmet was, in vergelyking met 2,1 miljoen mense in 2010.

Sedert die begin van die epidemie is ’n geskatte 79,3 miljoen mense met die virus besmet en ’n geskatte 36,3 mense het van Vigs-verwante siektes gesterf.

COVID-19 en MIV/Vigs

Mense wat aan MIV/Vigs ly is meer geneig om ernstig siek te raak van COVID-19, en studies wat in Engeland en Suid-Afrika onderneem is, het bevind dat mense met MIV twee keer die risiko loop om aan COVID-19 te beswyk as diegene wat nie besmet is nie.

UNAIDS voer aan dat toenemende ongelykhede verhoed dat mense met MIV/Vigs toegang verkry tot sowel COVID-19-entstowwe as MIV-dienste en -behandeling.

Die UNAIDS-verslag meld verder dat COVID-19-grendeltydperke en ander beperkings in baie lande tot ’n groot ontwrigting in MIV-toetsing gelei het, en gevolglik ’n aansienlike afname in MIV-diagnose, verwysings na sorgdienste en die aanvang van MIV-behandeling veroorsaak het.

“Vrouens en meisies in sub-Sahara-Afrika loop steeds ’n hoër risiko vir MIV-infeksie, met geslagsongelykheid en geslagsgebaseerde geweld aan die kern van daardie risiko,” verklaar die verslag.

Word getoets

Medihelp bied voordele vir vrywillige MIV/Vigs-berading en -toetsing as deel van bykomende versekerde voordele. ’n Vinnige toets word uitgevoer en die uitslae word bespreek, en indien die toets positief is, word berading deur ’n mediese deskundige verskaf.

Medihelp-lede wat toevallig aan MIV blootgestel is, moet LifeSense by 086 050 6080 skakel om onmiddellik met nablootstellingsprofilakse te begin. Dit moet binne 72 uur ná blootstelling begin.

MIV/Vigs-program

Medihelp-lede wat MIV-positief is, moet vir die MIV/Vigs-program registreer wat in vennootskap met die Skema se aangewese diensverskaffer, LifeSense, aangebied word

Die MIV/Vigs-program dek nablootstellingsprofilakse (na toevallige blootstelling), MIV-toetsing en antiretrovirale terapie. Konsultante van LifeSense wat in gesondheidsorg opgelei is, sal lede met inskrywing help. Lede kan ’n dokter van hulle keuse raadpleeg, wat ’n aansoekvorm namens hulle sal invul om LifeSense in staat te stel om ’n plan vir medikasiebehandeling op te stel en deurlopende berading deur professionele gevallebestuurders te reël.

Lede kan verseker wees van die strengste vertroulikheid, die aflewering van medikasie by ’n adres van hulle keuse, en persoonlike diens deur ’n toegewyde gevallebestuurder wat vir hulle berading sal gee en sal adviseer oor die korrekte gebruik van voorgeskrewe medikasieregimens en leefstylveranderinge om optimale gesondheid te handhaaf.

Bronne:
https://www.unaids.org/en/resources/presscentre/pressreleaseandstatementarchive/2021/june/20210603_global-commitments-local-action
https://www.unaids.org/en/resources/presscentre/pressreleaseandstatementarchive/2021/july/20210714_global-aids-update
https://www.unaids.org/en/resources/fact-sheet
https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/hiv-aids
https://www.medihelp.co.za/quick-answers/hiv-aids


Share this on: