Back 29 Aug, 2024 - Floreer!

Back

Tem jou en kleinspan se tandartsvrees

Tem jou en kleinspan se tandartsvrees

Waar kom ons vrees vir die tandarts vandaan en hoe kan jy keer dat jou kinders dié vrees erf?
Read more

Almal wil graag met die skitterwit glimlag van ’n rolprentster op die rooi tapyt spog, maar die gedagte aan ’n inspuiting of wortelkanaalbehandeling laat talle eerder die berge in vlug. Waar kom ons vrees vir die tandarts vandaan en hoe kan ons keer dat ons kinders (ons) dentofobie erf?

Vrese van die vaders

Volgens dr Briers Uys, ’n tandarts van Edenvale, is die vernaamste redes waarom mense die tandarts vrees:

  • ’n Vrees vir pyn en verdowing op grond van ’n vroeëre ervaring,
  • Selfbewustheid oor tandbederf en slegte asem as gevolg van swak mondhigiëne,
  • ’n Gevoel van verlies aan beheer omdat jy “aan iemand anders se lot oorgelaat is” en nie kan sien wat gebeur nie, en
  • ’n Vrees wat deur generasies oorgedra word.

Dr Uys meen die grootste oorsaak van dié bangheid is in vorige geslagte gewortel. “’n Tandartsbesoek wás in die ou dae nie noodwendig ’n aangename uitstappie nie. Ons ouers en grootouers het besoeke van die staatstandarts by die skool ontvang en die tegnologie (dink raserige bore bo die pasiënt se kop wat met reusebande gewerk het en met die voet aangedryf is) was primitief.”

Oorwin vrees deur voorbeeld

“Die behandeling het só verbeter dat dit vandag glad nie meer die vreesaanjaende óf pynlike ervaring van vroeër is nie. Ongelukkig word die vrees egter steeds van een generasie na die volgende oorgedra,” sê dr Uys.

Volgens hom het ouers nie net ’n verantwoordelikheid om gesonde mondsorggewoontes by hul kinders te vestig nie, maar om gereelde tandartsbesoeke alledaags en aangenaam te maak.

“Die probleem is dat kinders se eerste kennismaking met die tandarts gewoonlik is wanneer hulle reeds gaatjies het en tandpyn ervaar. Die tandarts word dan met pyn geassosieer, nog voordat enige behandeling gedoen is,” sê hy.

Berei die kleinspan só voor

“Moenie wag tot daar ’n probleem is nie,” sê hy en gee die volgende wenke.

  • Laat jou kind jou vanaf twee- of driejarige ouderdom na jou eie sesmaandelikse tandartsbesoeke vergesel om aan die spreekkamer gewoond te raak.
  • Neem jou kind vir sy of haar eie besoek waar die tandarts net ’n roetineondersoek doen, demonstreer hoe die tandartsstoel byvoorbeeld werk en wenke gee om korrek te borsel.
  • Moenie jou kind se hand vashou of ’n slegte verwagting skep nie. Vermy byvoorbeeld: “Sê net vir Mamma as dit seer is of as dokter jou seermaak”.
  • Hou jouself op jou selfoon besig, blaai deur ’n tydskrif of gesels met die tandartsassistent. Hoe meer op jou gemak jy is, hoe minder sal die kind dit as spannend ervaar.

Voorsorg stuit tandbederf

Volgens Dr Uys moet die belangrikheid van borsel, selfs melktande, nie onderskat word nie. “Melktande hou plek vir permanente tande. Voortydige tandverlies – as kinders te vroeg wissel weens tandbederf – veroorsaak dat permanente tande in die verkeerde posisies inskuif, wat duur ortodonsie later tot gevolg kan hê.

“Te veel soetgoed en gaskoeldrank laat tandbederf dikwels reeds op ses intree wanneer die eerste kiestande verskyn. Kinders moet gevolglik op ’n baie jong ouderdom stopsels kry, wat ’n vrees vir die tandarts kan laat posvat.”

Dr Uys meen die argument oor die keuse van tandepasta (mét of sonder fluoried) is minder belangrik as om gesonde eet- en mondsorggewoontes te kweek. “Die meganiese borselaksie om plaak te verwyder, is die belangrikste. So ook om jou suikerinname te beperk, vitamien- en mineraalryke kossoorte te eet en baie water te drink,” sê hy.

Moenie dat ’n fobie, finansies of verwaarlosing jou van die tandarts af weghou nie. Maak Nasionale Mondgesondheidsmaand dié September die begin van jou reis na ’n gesonder mond en skitterwit glimlag.


Share this on: