Waarom moet jy fiks bly?
Jou liggaam het ’n natuurlike behoefte om te beweeg, en hoe meer jy beweeg hoe beter werk jou lyf. Die goeie nuus is dat jy nie baie tyd of duur oefenapparaat nodig het om jou liggaam se fiksheidsbehoeftes te vervul nie.
Hoeveel oefening het ek nodig?
Begin met drie oefensessies per week van 30 minute elk en doen iets wat jou hartklop versnel, soos stap of fietsry. Soos wat jy fikser word, kan jy vir jouself nuwe uitdagings stel deur meer sessies in te pas en verskillende soorte oefening by jou roetine by te werk, soos joga, Pilates, kragoefeninge ensovoorts.
Wat gebeur in my lyf wanneer ek oefen?
- Jou hartklop versnel, wat meer suurstofryke bloed na jou spiere pomp.
- Die glukose- en insulienvlakke in jou liggaam stabiliseer.
- Jou longkapasiteit verhoog en meer suurstof bereik jou brein en spiere.
- Die bloedtoevoer en suurstofvlakke in die brein verhoog, wat onmiddellik jou breinfunksie verbeter.
Wat is die voordele van gereelde oefening?
- Dit verlaag jou risiko om ’n leefstylsiekte soos hoë cholesterol of tipe 2 diabetes te kry omdat dit die glukose- en insulienvlakke in jou liggaam stabiliseer.
- Stabiele glukose- en insulienvlakke help ook dat jou lyf nie ’n drang na sekere kosse ontwikkel nie.
- Wanneer jy oefen, word die brein gestimuleer om serotonien af te skei, wat jou gelukkiger laat voel en jou gemoed stabiliseer.
- Gereelde fisieke oefening help om normale slaappatrone te vestig, wat in die langtermyn uitputting sal verhoed.
- Gewigsverlies.
- Dit help om gesonde spiere en bene te bou.
Hierdie is net ’n paar van die eenvoudige fisieke veranderings wat in jou lyf plaasvind wanneer jy oefen, met die gevolglike voordele soos genoem. Daar is verskeie ingewikkelde stelsels en prosesse in jou liggaam wat sal baat by gereelde oefening, en jy kan jou oefenprogram aanpas om spesifieke gesondheidsprobleme aan te spreek. Raadpleeg jou dokter vir advies of maak ’n afspraak met ’n persoonlike afrigter indien jy meer spesifieke fiksheidsdoelwitte wil behaal.