Back 04 Mrt, 2022 - Gesondheidsbewustheid

Back

MPV: Waarom gereelde Papsmere belangrik is

MPV: Waarom gereelde Papsmere belangrik is

Op Internasionale MPV-bewusmakingsdag op 4 Maart val die soeklig wêreldwyd op die menspapilloomvirus.
Read more

Menspapilloomvirusinfeksie (MPV-infeksie) is ’n ernstige gesondheidstoestand en word verbind met meer as 1 uit 20 van alle kankergevalle ter wêreld. Servikskanker is wêreldwyd die vierde algemeenste soort kanker by vroue, en feitlik alle gevalle word aan MPV toegeskryf. Hoewel dit nie altyd deur seksuele kontak oorgedra word nie, is MPV een van die algemeenste seksueel oordraagbare virusinfeksies (SOI’s) in Suid-Afrika. Trouens, ongeveer 80% van alle mans en vroue wat seksueel aktief is, word een of ander tyd met die virus besmet. Indien jy seksueel aktief is, kan jy MPV kry selfs al is jy intiem met net een persoon.

Wat is MPV?

MPV is ’n groep van meer as 200 virusse wat versprei word wanneer jy intiem is met iemand wat die virus het. Simptome kan ontwikkel jare nadat ’n persoon besmet is, en dit is uiters moeilik om die virus vroegtydig te bespeur by vroue wat nie gereelde Papsmere laat doen nie.

Dokters beveel aan dat alle vroue ’n siftingstoets vir servikskanker moet ondergaan. Dit behels in die meeste gevalle gereelde Papsmere vanaf die ouderdom van 21 jaar. Daar kan terselfdertyd vir MPV getoets word. Soms word slegs ’n MPV-toets as siftingstoets vir servikskanker gebruik.

Daar is geen toetse beskikbaar om MPV-infeksie by mans, of in die mond of keel, te bespeur nie

MPV-infeksie sal in 9 uit 10 gevalle self opklaar en nie enige gesondheidsprobleme veroorsaak nie. Indien dit egter nie self opklaar nie, kan dit aanleiding gee tot gesondheidsprobleme soos genitale vratte en selfs indringende servikskanker.

Watter simptome kom voor by mense met MPV?

Die meeste mense – mans en vroue – ervaar ongelukkig geen simptome indien die MP-virus in hulle liggame aanwesig is nie. Daarom is gereelde Papsmere so belangrik vir vroue, aangesien toetsing die enigste manier is om met sekerheid te weet of jy gevaar loop om MPV-verwante kanker te ontwikkel.

Is daar behandeling vir MPV beskikbaar?

Hoewel daar geen spesifieke behandeling vir MPV is nie, kan die gesondheidsprobleme wat daaruit voortspruit wel behandel word. Dokters kan byvoorbeeld medisyne voorskryf om genitale vratte te behandel. Kanker wat weens MPV ontwikkel, kan doeltreffender behandel word indien dit vroegtydig bespeur word.

Hoe kan jy keer dat jy MPV opdoen?

Die twee doeltreffendste maniere om die risiko vir MVP-infeksie (en die gepaardgaande gesondheidsprobleme) te verlaag, is om ingeënt te word en kondome te gebruik:

  • Word ingeënt. Die MPV-inenting is veilig en doeltreffend, en kan mans en vroue beskerm teen genitale vratte en sekere soorte kanker wat deur MPV veroorsaak word.
  • Gebruik kondome. Deur kondome reg te gebruik, kan die risiko vir enige SOI’s, ook MPV, verlaag. Kondome is egter nie 100% doeltreffend nie, aangesien MPV areas kan besmet wat nie deur die kondoom bedek word nie.

Wat van MPV by mans?

Die meeste mans wat MPV opdoen, ontwikkel nooit enige simptome nie en die infeksie klaar gewoonlik vanself op. Indien MPV nie opklaar nie, kan dit genitale vratte of sekere soorte kanker veroorsaak. Daar is nie tans enige goedgekeurde roetinetoets om MPV by mans te identifiseer nie.

Waarom is gereelde Papsmere so belangrik?

Papsmere help om MPV te bespeur. Tydens ’n Papsmeer word selle van die serviks geskraap en na ’n laboratorium gestuur vir ontleding. Die monster word getoets vir enige abnormaliteite wat op die aanwesigheid van MPV kan dui.

Hoe vroeër dit bespeur word, hoe beter is die kanse om te keer dat dit tot die ontwikkeling van kanker kan lei.

Hoe gereeld moet jy ’n Papsmeer laat doen?

Die meeste kundiges beveel aan dat jy op 21 jaar die eerste Papsmeer moet laat doen, ongeag of jy reeds seksueel aktief is of nie. Jy hoef nie voor 21 jaar siftingstoetse vir servikskanker te laat doen nie, selfs al het jy reeds op ’n vroeë ouderdom seksueel aktief geraak. Daarna behoort jy elke drie jaar ’n Papsmeer te laat doen. Vroue wat ouer as 65 jaar is, hoef nie verdere Papsmere te kry indien hulle dit deur die jare gereeld laat doen het nie.

Waarom is die MPV-inenting so belangrik?

Die MPV-inenting kan die risiko vir een van die MPV-infeksies drasties verlaag. Alle MPV-entstowwe bied beskerming teen die twee soorte infeksies wat die grootste risiko vir servikskanker inhou. Volgens onlangse studies in die VK kan die MPV-inenting die getal servikskankergevalle met tot 90% laat afneem. Daar word gehoop dat die virus mettertyd deur inenting uitgeskakel sal word.

Wanneer moet jy die MPV-inenting kry?

Die MPV-inenting is heelwat doeltreffender indien dit toegedien word voordat ’n persoon seksueel aktief raak. Die meeste dokters beveel aan dat mense die MPV-inenting op 11 of 12 jaar moet kry, maar dit kan op enige ouderdom vanaf 9 tot 26 jaar toegedien word. Swanger vroue moet nie ingeënt word nie.

Tieners jonger as 15 jaar kry gewoonlik twee inentings minstens ses maande uitmekaar. Mense wat 15 tot 26 jaar oud is, kry drie inentings oor ’n tydperk van ses maande.

Medihelp se voordele vir MPV-inenting

Medihelp Mediese Fonds bied ’n omvattende reeks voorkomende voordele op die meeste planne. Dit sluit in voordele vir ’n Papsmeer elke drie jaar vir vroue tussen 21 en 65 jaar, asook twee MPV-inentings vir meisies en seuns tussen 10 en 14 jaar of drie tussen 15 en 26 jaar.

Bronne:
https://www.better2know.co.za/std-sti-testing/hpv
https://www.frontiersin.org/articles/10.3389/fpubh.2020.552028/full
https://cansa.org.za/hpv-viral-before-the-internet-4-march-international-hpv-awareness-day/
https://www.bbc.com/news/health-59148620


Share this on: