Wiskunde is veel meer as slegs die som van al sy dele: nie net leer dit ons om op te tel, af te trek, vermenigvuldig en deel nie, dit leer ons ook om krities te dink, probleme op te los en logies te redeneer.
Maar wat as jou kind met wiskundige konsepte sukkel, of dit vervelig of oorweldigend vind? Om wiskunde en musiek te harmoniseer, mag dalk die antwoord inhou om hierdie kernvak te geniet.
Soos die Duitse wiskundige en filosoof Gottfried Wilhelm von Leibniz (1646-1716), die mede-ontdekker van kalkulus, gesê het: “Musiek is die plesier wat die mens se siel ervaar wanneer dit tel sonder om agter te kom dat dit tel.” Wat is die wonderskakel tussen musiek en wiskunde presies?
Die 1, 2, 3 van do re mi
Dr Zaheera Jina Asvat, wiskundedosent aan die Universiteit van Witwatersrand, bevestig dat daar ʼn sterk verband tussen musiek en wiskunde is. “Navorsing toon dat musikale aktiwiteite kan help om intellektuele prestasie te verbeter, asook om ruimtelike en temporale bewustheid en ander leervaardighede te ontwikkel. Musiek bevorder kinders se vermoë om wiskunde aan te leer deur hul aandag te behou en konseptuele ontwikkeling te stimuleer.”
Wanneer ʼn kind leer om ʼn instrument te bespeel en musiek te lees, verbeter dit hulle ruimtelike en temporale vermoë. Dit is kernvaardighede vir wiskundige prestasie. Beide musiek en wiskunde behels patroonvorming en volgordebepaling asook om die verhoudings tussen verskillende elemente te identifiseer.
Kinders wat ʼn musiekstuk leer lees, is in werklikheid besig om simbole en hulle vermoë om klank te genereer, te ontsyfer. Iets wat toevallige leer genoem word. Dit is baie soortgelyk aan die proses wat gevolg word wanneer wiskundige formules en vergelykings gelees word. Wanneer ʼn instrument bespeel word, word kinders geleer om die maat van die musiek te tel, ritme te verstaan en bewus te word van verskillende patrone binne komposisies.
ʼn Studie deur Dr Sylwia Holmes, wat 178 kinders in ʼn musiekprogram tussen die ouderdom van vier en ses betrek het, het bevind dat ritme-gebaseerde musiekprogramme wat kinderrympies gebruik, intellektuele vermoë en ruimtelike bewustheid bevorder.
Dr Sylwia het bevind dat musiekopleiding wiskundige vermoë - wat met meetkunde, vorms, en simmetrie te doen het - beïnvloed. Die rede hiervoor is die skakel met ruimtelike en temporale vaardighede.
“ʼn Noemenswaardige verbintenis is gevind tussen musiekopleiding en rekenkundige vaardighede soos optel, aftrek en probleemoplossing. Dit is heel moontlik te danke aan ’n verbeterde ruimtelike bewustheid as gevolg van die bewustheid van ritme,” sê Dr Zaheera.
Maak leer maklik
Dr Zaheera sê verder dat dit nie net formele musiekonderrig is wat kinders hierdie aanleg kan leer nie. Eenvoudige maniere om wiskundige en logiese denke by kinders aan te moedig, sluit in:
- Kleuterrympies
Kleuterrympies kan kinders help om te leer tel, volgorde te bepaal en patrone raak te sien, aangesien hierdie rympies dikwels ritmiese en herhalende elemente bevat.
- Musikale patrone
Stel kinders voor aan musikale patrone soos klap of deur musiekinstrumente in ’n bepaalde volgorde te speel. Dit stel hulle in staat om eenderse patrone in wiskunde te herken.
- Ritme en tydhouvermoë
Ritme en oefeninge om tydhouvermoë te verbeter, soos om op ʼn maat te klap of teen verskillende tempo’s te klop, kan kinders help om breuke en verhoudings beter te verstaan.
Die skakel tussen musiek en wiskunde is onbetwyfelbaar. Ouers kan ʼn kernrol speel om hierdie verband te koester en sodoende hulle kinders se leervermoë en ontwikkeling te ondersteun. Of dit nou formele lesse of informele blootstelling aan musiek is, kinders sal beslis baat vind by musiekblootstelling vanaf ʼn jong ouderdom. Wanneer ouers ʼn liefde vir musiek aanmoedig en geleenthede skep om musiek beter te leer ken, kan hulle hul kinders help om sukses in musiek én wiskunde te behaal.