Medihelp gee ’n tree vorentoe met MyWalk en skenk 3 400 pare nuwe skoolskoene aan behoeftige leerders
Geen skoen stap so ver soos die nederige skoolskoen nie: van glansryk en blink op die eerste skooldag, lang draaie klas toe, vinnige drafstappies tydens pouse en skop en spring op die sokkerveld tot die finale staptog huis toe, verslete en moeg. ’n Paar skoolskoene kan ’n skooldag maak of breek. Ongelukkig moet ongeveer een miljoen Suid-Afrikaanse leerders klaarkom sonder behoorlike skoolskoene.
By Medihelp Mediese Skema verstaan ons die belangrike rol wat skoolskoene speel in die sukses van ons leerders se opvoeding. In lyn met ons toewyding om ons medemens en die planeet te dien, is ons geëerd om die MyWalk-inisiatief te ondersteun. Ons is trots om aan te kondig dat ons in 2024 met ons korporatiewe-maatskaplike-investering, 3 400 pare skoolskoene geborg het.
Medihelp ondersteun MyWalk vir die sukses van ons leerlinge
Volgens Carina Groothof, bemarkingspraktisyn by Medihelp, is die eerste groep van 100 pare skoolskoene geskenk aan die Khomani San-gemeenskap in Andriesvale, ’n stil dorpie in die Noord-Kaap. Groothof het na dié dorpie noord van Upington gereis om die skoolskoene aan leerders te oorhandig. Hulle het met opgewondenheid en dankbaarheid hul nuwe skoene ontvang. “Ons het in die sand gedans, foto’s geneem van die kinders in hul skoene, en dit net geniet. Dit was vir my persoonlik ’n kosbare dag en ervaring.
“Hierdie gemeenskap is so afgesonder dat dit maklik sou wees om verby te ry sonder om te weet hulle bestaan. Die kinders het regtig die skoene en die besoek waardeer. Hul opgewondenheid het deurgestraal toe ons vriendelike gesigte stilhou om te kom groet.”
Die sukses van die MyWalk-inisiatief is veral sigbaar in areas waar maats kinders boelie wat kaalvoet skoolgaan. Groothof sê: “Hierdie kinders gaan skool toe met maats wie se families meer bevoorreg is en skoene kan bekostig. Dit was merkwaardig om die impak van net een paar skoene te sien, beide fisies en emosioneel.”
Hoekom skoolskoene saak maak
Met 10 miljoen leerders wat elke dag skool toe stap, is ’n paar skoolskoene niks minder as ’n basiese noodsaaklikheid nie. Ouers en versorgers kan egter dikwels nie gehalteskoolskoene bekostig vir die voete wat lang afstande klaskamer toe en terug moet stap nie.
Leerders moet op ongelyke terrein stap en die brandende somerhitte en koue winteroggende trotseer. Om goeie skoene aan te trek, raak ’n gesondheidskwessie aangesien skoene voete beskerm teen snye en infeksies – beserings wat veroorsaak dat kinders skooldae misloop.
Baie kinders is skaam en word selfs geboelie wanneer hulle kaalvoet of met stukkende skoene skool toe gaan. Dit kweek vyandigheid, onsekerheid en ’n gebrek aan selfvertroue in die skoolomgewing. Leerders se waardigheid word uiteindelik aangetas.
Medihelp se ondersteuning van MyWalk beklemtoon die belangrikheid daarvan om leerders se basiese behoeftes met praktiese en innoverende oplossings aan te spreek. Deur hierdie inisiatief te ondersteun, help ons om seker te maak dat leerders skool in gemak en met waardigheid kan bywoon – ’n tree nader aan ’n blink toekoms vir Suid-Afrika se jeug.
Van mediese afval tot blinknuwe skoene
MyWalk is ’n nie-winsgewende inisiatief wat deur Netcare en Adcock Ingram Critical Care aangebied word.
Hierdie bekroonde inisiatief is meer as net skoene skenk. Dis ’n skitterende voorbeeld van herwinning en ’n sirkel-ekonomie: ’n groen oplossing vir besighede se materiaalbehoeftes wat die samelewing bevoordeel deur opvoeding, werkskepping en ondernemingsontwikkeling te ondersteun.
Die skoolskoene word gemaak van enkelgebruik-PVC-drupsakke, suurstofmaskers en gepaardgaande buise. Deelnemende Netcare-hospitale plaas veilige, onbesmette materiaal in toegewyde MyWalk-houers. Die PVC-afvalprodukte word uit die houers versamel in pasgemaakte sleepwaens en gesorteer. Die gesorteerde produkte word gewas en in die MyWalk-herwinningsaanleg verkorrel, gereed om verwerk te word in topklasskoene. Laastens word hierdie splinternuwe pare skoene verpak en aan plaaslike leerders versprei.