“Medihelp Mediese Skema is in 2022 beloon vir sy besluit om ledegeldbydraes te absorbeer en ’n algehele geweegde gemiddelde premieverlaging asook wesenlike verbeterings in te stel, deurdat beter groei- en retensieresultate as in die vorige paar jaar behaal is. Die Skema bied nou dekking aan 200 000 lewens en spog met 5% groei vir die jaar tot dusver,” het Ettie da Silva, Hoofbeampte van Medihelp, tydens die Skema se produkbekendstelling vir 2023 gesê.
Sy het verduidelik dat Medihelp in die laaste kwartaal van 2021 en die eerste helfte van vanjaar ’n toename in die koste van sorg ervaar het, met gebruikmaking wat weer terugkeer na die normale vlakke voor COVID-19.
Dit verskil aansienlik van die omstandighede wat die afgelope twee jaar gegeld het, toe die bedryf baie lae ledegeldaanpassings kon instel danksy opgehoopte reserwes wat weens laer gebruikmaking ontstaan het. Suid-Afrika se jaarlikse inflasiekoers is ook hoër as in jare en gesondheidsorginflasie is tans 3% tot 4% meer as inflasie, met nuwe tegnologie, die bedryf se ouer bevolking en stygende koste van sorg wat dit aandryf.
Medihelp het al hierdie faktore in ag geneem toe die produkte vir 2023 ontwerp en geprys is. Die doel met die aanpassings vir 2023 is om die posisie te handhaaf wat ons met laasjaar se mededingende prysingstrategie kon verkry, maar steeds verantwoordelike aanpassings in te stel. Medihelp sal weer van sy reserwes gebruik om stygings te absorbeer en die finansiële las op lede te help verlig, met ’n effek van minus 7,51%, en dit sal verseker dat die Medihelp-waarde-ervaring behoue bly sonder dat volhoubaarheid ingeboet word.
Die premies van Medihelp se produkte sal met gemiddeld 7,51% styg. As Medihelp se ledegeldaanpassings vir 2022 in ag geneem word, sal meer as die helfte van Medihelp se lede steeds ’n laer of dieselfde premie betaal as in 2021. Danksy die uitstekende profiel en finansiële prestasie van MedMove! in 2022 sal hierdie opsie – die nuutste byvoeging tot Medihelp se produkreeks – volgende jaar ’n premieverlaging van 13,64% hê, met ’n premie van net R1 254 per maand wat bestaande lede volgende jaar R2 376 in ledegeld sal spaar.
Die ledegeldstygings vir alle opsies is soos volg: Die maandelikse bydraes vir die noodsaaklike en spaarplanne sal met 7,51% styg, behalwe MedMove! wat ’n premieverlaging van 13,64% sal hê, terwyl die maandelikse bydraes vir MedElite en MedPlus met 8,5% sal styg.
Die ledegeldstruktuur vir die Medihelp-planne sal nie volgende jaar verander nie en gesinne sal steeds baat deur op MedVital, MedAdd en MedPrime net vir twee kinders jonger as 18 jaar ledegeld te betaal. Die ledegeld vir kinderafhanklikes sal op die meeste van Medihelp se planne ook steeds geld vir kinders tot hulle 26 jaar oud word.
Voordelebedrae vir 2023 sal met gemiddeld 5% op alle planne styg. Daar is slegs geringe wysigings vir 2023 geïmplementeer, met ’n voordeel vir posthospitaalsorg wat by MedMove! en MedElect bygevoeg is. Toegang tot sorg ná hospitalisasie speel ’n belangrike rol om heropnames te verhoed. Die voordeel maak voorsiening vir fisio-, spraak- en arbeidsterapie en is in 2023 dieselfde vir alle Medihelp-planne.
Medihelp sal, as ’n selfgeadministreerde mediese fonds met 117 jaar ervaring, voortgaan om op sy kerndoel te fokus deur 12 produkkeuses in 2023 te bied wat ontwerp is vir alle generasies en begrotings, en deur voordele te bied wat aan lede se behoeftes tydens elke lewensfase sal voldoen.
Die volgende is beskikbaar:
- Vier noodsaaklike opsies wat dekking bied vir studente, nuwe toetreders tot die arbeidsmark en jong, gesonde mense wat gehaltedekking teen ’n bekostigbare prys wil hê,
- Drie spaarplanne wat geskep is vir jong gesinne en mense wat die aanpasbaarheid van hierdie planne verkies, en
- Vyf omvattende planne met ledegeld wat vir groter gesinne saamgestel is en voordele wat meer uitgebreide gesondheidsorgbehoeftes dek.
Einde