Beste lid
President Cyril Ramaphosa het Woensdag 15 Mei die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) onderteken, soos daar wyd in die media berig is.
Met soveel individue en organisasies wat hulle by die huidige debat aansluit en uiteenlopende menings publiseer, verstaan ons dat jy moontlik vrae het. Ons deel graag die antwoorde op die mees algemene vrae wat ons van ons lede ontvang.
Wat gebeur volgende?
Die feit dat die president die Wet onderteken het, beteken nie dit is al van krag nie. Die president moet die Wet, of dele daarvan, proklameer om dit in werking te stel. Dit is nog nie gedoen nie en daar is tans geen aanduiding wanneer of hoe dit sal gebeur nie.
Gaan Medihelp met die NGV akkoord?
Medihelp stem saam dat toegang tot gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners ’n basiese mensereg is. Ons siening is egter dat die NGV-wet in sy huidige vorm om verskeie redes nie lewensvatbaar of vir die staatskas bekostigbaar is nie.
Medihelp beskou toegang tot private gesondheidsversekering en private gesondheidsorg as ’n grondwetlike reg en staan vas dat lede die vryheid moet hê om te besluit watter gesondheidsorgopsies die beste aan hul individuele vereistes voldoen. Na ons mening is die keuse tussen private gesondheidsversekering en die NGV nie teenstrydig nie, maar alternatiewe wat individue se grondwetlike regte handhaaf.
Wat gaan nou met my mediese fonds gebeur?
By Medihelp gaan sake normaalweg voort en niks verander nie! Ons sal onvermoeid bly werk aan ons doelwit om die mediese fonds van alle Suid-Afrikaners se keuse te wees. Jy kan van dieselfde gehaltegesondheidsorgdekking en uitstekende diens gerus wees wat Medihelp se lede al die afgelope 119 jaar geniet.
Dit is belangrik om te onthou dat die NGV nie ’n enkele gebeurtenis is nie, maar ’n ingewikkelde onderneming wat, weens die vele hervormings wat dit in verskeie regeringsektore vereis, lank gaan neem om in werking te stel.
Moet ek my mediesefondslidmaatskap kanselleer?
Nee. Jy sal jou lidmaatskap moet behou om seker te maak jy het voortgesette toegang tot private gesondheidsorg van gehalte.
Gaan die NGV Medihelp se reserwes vat?
Die NGV het geen toegang tot ons opgehoopte reserwes nie aangesien die reserwes aan jou, die lid, behoort en nie aan Medihelp nie. Ons regsadvies bevestig dat jou fondse veilig is en dat die staat nie daarop beslag kan lê nie.
Beskerm Medihelp die regte van beleggers bo dié van lede?
Medihelp is ’n selfgeadministreerde mediese skema wat aan sy lede behoort. Die Skema is nie op die aandelebeurs genoteer nie, het geen beleggers nie en betaal nie dividende nie. Ons lede is ons enigste prioriteit. Ons gebruik jou ledegeld om vir jou private gesondheidsorg te betaal ingevolge die geregistreerde Reëls van Medihelp en die Wet op Mediese Skemas 131 van 1998.
Gaan Medihelp hof toe om die NGV te beveg?
Medihelp sal die implementering van die Wet monitor en het betroubare en ervare regsadviseurs. Ons sal altyd in die beste belang van ons lede optree. Die Skema ondersteun ook die raad van gesondheidsorgbefondsers (BHF) en die aksies van die BHF om NGV-stappe wat op ons lede se regte inbreuk maak, teen te staan.
Ná gesprekke met vername belanghebbers in die bedryf evalueer ons ons opsies om hierdie aangeleentheid gesamentlik te benader. Hierdie besprekings sal aandui van wat ons volgende moet doen en ons sal ons lede op hoogte hou van enige besluite. Om regstappe op ons eie te neem, is nie verstandige gebruik van jou ledegeld nie en sal nadelig inwerk op die fondse wat vir eise beskikbaar is. Ons mag egter hulpbronne beskikbaar stel vir inisiatiewe wat ons strategies kies om te verseker dat ons lede beskerm word.
Jy bly ons hoogste prioriteit en ons sal voortgaan om jou toegang tot gesondheidsorg van gehalte te beskerm. Stuur gerus enige verdere vrae per e-pos na socialmedia@medihelp.co.za
Vriendelike groete
Varsha Vala
Hoofbeampte