-
Plaas Medihelp die regte van beleggers bo dié van lede?
Medihelp Mediese Skema is nie op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) genoteer nie. Ons lede is ons enigste aandeelhouers en ons hoogste prioriteit. Medihelp behoort dus aan ons lede. -
Wat is die grootste onbeantwoorde vrae oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)?
Daar is verskeie probleme wat deur die verskillende rolspelers geïdentifiseer is. Dit sluit in:- Wat gaan met gesondheidsorgpraktisyns gebeur indien hulle net vir die NGV mag werk?
- Watter aansporing is daar vir hulle om in die land te bly en te werk teen die tariewe wat die NGV daarstel?
- Indien die NGV toelaat dat gesondheidsorgpraktisyns ʼn hoër tarief hef, wie is verantwoordelik om die verskil te betaal?
- Indien gesondheidsorgpraktisyns beperk word tot die NGV se tariewe, hoe sal die risiko verminder word dat hulle getalle gaan najaag pleks daarvan om gehaltesorg te bied?
- Wie is aanspreeklik wanneer daar mediese nataligheid plaasvind en wie is verantwoordelik vir die vergoeding van benadeeldes?
- Die vraag bly, hoe gaan die NGV se tariewe bepaal word?
-
Gaan die NGV Medihelp se reserwes vat?
Die NGV het beslis nie toegang tot die Skema se opgehoopte reserwes nie, aangesien die reserwes aan julle, ons lede, behoort. Ons regsadvies bevestig dat die Skema se fondse veilig is en nie deur die staat gevat kan word nie. -
Hoe gaan die NGV befonds word?
Daar is nog geen duidelikheid oor hoe die NGV gefinansier gaan word nie, buiten vir die feit dat dit uit belasting gefinansier sal word. Ontledings dui daarop dat die NGV ʼn bykomende R200 miljard se finansiering sal benodig. Dit sal aansienlike veranderings aan die belastingbeleid en -wetgewing vereis, wat die fiskus nie noodwendig kan akkommodeer nie, byvoorbeeld:- Om R200 miljard deur Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) in te vorder, sal ʼn 6,5%-verhoging in BTW van 15% tot 21,5% vereis.
- Die invordering van R200 miljard deur persoonlike inkomstebelasting beteken dat belastingkoerse met gemiddeld 31% sal moet styg. Elke belastingbetaler sal byna ʼn derde meer as hul huidige belastingbetalings moet betaal, wat ʼn groot hap uit die bedrag sal neem wat mense maandeliks in hulle sak steek.
- Die invordering van R200 miljard as betaalstaatbelasting sal ʼn invordering van sowat R1 072 per werknemer per maand vereis. Dit styg tot ongeveer R1 565 per werknemer per maand wanneer slegs diegene wat in die formele sektor werksaam is, ingereken word.
-
Hoe beïnvloed die NGV Medihelp?
Al het die president die Wet onderteken, is dit steeds nie in werking gestel nie. Die president moet die Wet of dele daarvan proklameer. Dit het nog nie gebeur nie en daar is tans geen aanduiding oor wanneer of hoe dit geïmplementeer gaan word nie. Wat ons wel weet, is dat die Wet reeds ʼn lang pad gestap het. Die ondertekening van die Wet op 15 Mei 2024 kom 30 jaar ná die eerste aanbevelings hieroor in 1994 ter tafel gelê is. By Medihelp gaan sake voort soos altyd; niks het verander nie! -
Moet ek my mediese fonds kanselleer?
Beslis nie. Dit is belangrik dat jy nie jou lidmaatskap kanselleer nie om te verseker dat jy steeds ononderbroke toegang tot bekostigbare, gehaltegesondheidsorg geniet. -
Hoe gaan die NGV my ledegeld en belastingsertifikaat beïnvloed?
Daar is sprake van moontlike verhogings in inkomstebelasting, betaalstaatbelasting of BTW. Dit alles word beïnvloed deur die ekonomie, ander wetgewing (byvoorbeeld die sogenaamde “Money Bills”) en hoeveel finansiering benodig gaan word. In hierdie stadium is dit nog onduidelik, aangesien besprekings oor die finansiering van die NGV steeds ontvou. -
Wanneer sal die NGV ten volle geïmplementeer wees?
Daar is nog geen duidelikheid oor wanneer die NGV in werking gestel gaan word nie, maar as ons kyk na die lang pad wat dit reeds gestap het, blyk dit dat die implementering van die NGV baie ver in die toekoms lê. -
Gaan Medihelp hof toe gaan oor die NGV?
Medihelp monitor die NGV-wet, die verwante prosesse en litigasie wat reeds begin is deur verskeie rolspelers wat teen die wet gekant is. Ons is in gesprekke met rolspelers in die bedryf en oorweeg ons opsies om as ʼn kollektief die saak aan te pak. Ons sal altyd in die beste belange van ons lede optree. -
Wat kan lede van Medihelp in die toekoms verwag?
Ons lede kan op dieselfde onwrikbare toewyding reken wat ons reeds die afgelope 119 jaar getoon het om gesondheidsorgdienste van gehalte te verseker.