Back 01 Mrt, 2024 - Medihelp

Back

Nuwe Hoofbeampte vir Medihelp

Nuwe Hoofbeampte vir Medihelp

Ons is verheug om Medihelp se hoofbeampte, Varsha Vala, bekend te stel. Lees meer oor haar ervaring, loopbaanhoogtepunte, en persoonlike filosofie hier.
Read more

Medihelp, een van Suid-Afrika se vyf grootste oop mediese skemas, het Me Varsha Vala as sy nuwe Hoofbeampte aangestel. Sy neem op 1 Maart 2024 die leisels oor.

Varsha Vala, tot onlangs bestuursbeampte vir digitale en bestuurde sorg by Professional Provident Society (PPS), het haar loopbaan as apteker begin. Sy het meer as 25 jaar se ondervinding in gesondheidsversekering, bestuurde sorg en ontwer psdenke. Haar loopbaanhoogtepunte sluit verskeie eerstes in bestuurde sorg in, soos die inwerkingstelling van die land se eerste geïntegreerde bestuurdesorgoplossing wat op die stratifikasie van risiko en ʼn holistiese gesondheids-en-welstandsmodel gebaseer was.

Chris Klopper, voorsitter van Medihelp se Raad van Trustees, sê: “Ons is verheug om Vala by die Medihelp-span te verwelkom. Sy het die ervaring en vaardighede wat Medihelp nou en in die toekoms nodig het. Om die eiseverhouding doeltreffend te bestuur is vir die hele bedryf ʼn uitdaging. Vala se omvattende kennis van gesondheidsversekering en die farmaseutiese en welstandbedryf – en hoe om innovasie op produkte, sisteme en benaderings toe te pas – sal onskatbare waarde toevoeg om hierdie uitdaging aan te pak. Haar uitkomsgebaseerde benadering het al vir skemas uitstekende risikobestuur verseker om ʼn lae eise-verhouding te behou en solvensie te verbeter.”

Vala glo dat leiers in bestuurde gesondheidsorg presies moet verstaan wat hulle kliënte nodig het. Hulle moet weet hoe om ontwrigting te bestuur en aanpasbaar en innoverend wees.

“Een van my belangrikste sterkpunte en iets waaroor ek geweldig geesdriftig is, is om die uitdagings te verstaan waarvoor lede te staan kom wanneer hulle toegang tot mediesefondsvoordele moet verkry. Baie lede voel hulpeloos en gespanne wanneer ’n kritieke gesondheidstoestand hulle in die gesig staar. Dit dryf my verbintenis daartoe om alle belanghebbers se behoeftes sonder haakplekke te integreer, lede te ondersteun om die komplekse ekosisteem te navigeer, asook hul ervaring te verbeter en gesamentlike skemafondse te beskerm.”

Volgens Vala is die ontwikkeling van moderne oplossings en die mensgesentreerde lewering van uitsonderlike lede-ervarings die dinge wat haar snags wakker hou. Haar sterk strategiese insigte, multikulturele kommunikasievaardighede en vermoë om opregte verhoudings te bevorder en te handhaaf is die noodsaaklike bekwaamhede wat haar leierskap ondersteun.


Share this on: