Onderbroke vas, oftewel “intermittent fasting”, is deesdae deel van almal se woordeskat. Bekendes soos Hugh Jackman en Heidi Klum, en selfs sommige professionele sportsterre soos Phil Mickelson, is aanhangers van hierdie eetprogram. Maar wat presies behels onderbroke vas en waarom is dit so gewild?
Wat is onderbroke vas?
Onderbroke vas behels ʼn eetpatroon waar jy volgens ʼn vasgestelde roetine eet en vas. Terwyl ander eetplanne kyk na wát jy eet, fokus onderbroke vas op wánneer jy eet. Kenners meen dit kan help met gewigsverlies, maar ook om bloeddruk en bloedsuikervlakke gesond te hou.
Die idee agter onderbroke vas is dat ons jagter-versamelaar voorgeslagte nie drie maal per dag etes uit ‘n yskas gehaal het nie, en so ʼn gesonder leefstyl gevolg het. Wanneer daar vir ʼn tydperk nie geëet word nie, gaan jou liggaam in ‘n toestand van ketose in. Dit is wanneer jou liggaam gestoorde vet verbrand in plaas van die koolhidrate wat dit gewoonlik sou gebruik wanneer jy eet. Die kern lê daarin dat jy vir die vastydperke geen kaloriëe mag inneem nie en slegs vloeistowwe soos water en swart koffie/tee drink.
Verskillende metodes
Volgens Liezl van Zyl, ʼn geregistreerde dieetkundige, is die doel nie om so lank as moontlik sonder kos te gaan nie, maar om ʼn vasgestelde roetine te hê wat by jou leeftyl pas. Die gewildste metodes sluit in:
16/8-metode
Die 16/8-metode is ʼn eetprogram waar jy daagliks slegs vir agt ure eet, terwyl jy die oorblywende 16 ure vas. Hierdie metode plaas geen beperking op wat geëet word nie, maar Liezl beveel aan dat jy steeds gesonde keuses maak. Sorg dat jy aan jou liggaam se minimum behoeftes voldoen wat proteïen, gesonde vette, vesel, vitamiene en minerale aanbetref.
5:2-metode
Met die 5:2-metode eet jy vir twee dae ʼn week ʼn streng beperkte hoeveelheid van tussen 500 en 600 kaloriëe. Die ander vyf dae van die week, kan jy normaal eet, maar moet verkieslik binne die daaglikse aanbevole hoeveelheid kilojules bly.
24-uur lange vas
Die laaste metode behels dat jy vir een of twee nie-opeenvolgende dae per week vir 24 ure glad nie eet nie.
Waarom is onderbroke vas so gewild?
Daar is geen twyfel dat onderbroke vas, met sy verskeie metodes, mense se belangstelling prikkel as dit by gewigsverlies kom nie. Navorsing toon verder dat onderbroke vas meer voordele het as om net ʼn paar kilogram te verloor.
Vernuwing vir jou brein
Persone wat die eetprogram getrou volg, kan baat by ʼn verbetering in hul denkvermoeë en geheue. Dit gebeur danksy die effek wat vastydperke op die groei van nuwe breinselle het. Sekere navorsing toon ook dat onderbroke vas kan help om simptome van siektes soos Alzheimer en demensie te verminder.
Beskerming teen kanker
Verskeie studies in diere het getoon dat kankerrisiko verminder wanneer vastydperkte toegepas word. Dit kan toegeskryf word aan die effek wat onderbroke vas op inflammasie en insulienvlakke het. Beide is bydraende faktore tot ʼn verhoogde kankerrisiko en word verminder wanneer ʼn persoon gereeld vas.
ʼn Gesonder hart
Onderbroke vas het ʼn positiewe uitwerking op verskeie faktore wat kan help om jou hart se gesondheid te verbeter. Dit verlaag jou bloeddruk, verbeter cholesterolvlakke en lei tot ʼn rustiger hartklop.
Herstel van selle
Wanneer ʼn mens vas, vind outofagie plaas. Outofagie is wanneer ongewenste of beskadigde molekules uit selle verwyder word. Hierdie natuurlike proses kry ʼn hupstoot wanneer ʼn mens vas.
Ten slotte toon die meerderheid van navorsing dat onderbroke vas ʼn doeltreffende metode is om gewig te verloor en dat mense dit ook makliker vind om volhoubaar toe te pas as eetprogramme wat meer voorskriftelik is. Dit is egter belangrik dat swanger vroue, diabete en mense met lae bloeddruk enige verandering aan hulle dieet eers met hulle dokter bespreek.
Bronne:
- https://www.medicalnewstoday.com/articles/323605
- https://lifeapps.io/lifestyle/professional-athletes-who-turned-their-health-around-through-intermittent-fasting/
- https://maroelamedia.co.za/leefstyl/die-onderbroke-vas-dieet-alles-wat-jy-moet-weet/
- https://www.menshealth.com/weight-loss/a25252107/losing-muscle-vs-fat/
- https://maroelamedia.co.za/leefstyl/gesondheid/pak-so-die-onderbroke-vas-dieet-aan/