Treinstasies is dikwels vervalle plekke in die uithoeke van ons land. Oorblyfsels van vervloë tye. Die sporadiese vragtrein is baiemaal die enigste teken van lewe op hierdie verlate dele van die spoorwegnetwerk. Maar soms breek die spookagtige eensaamheid skielik wanneer ’n baie spesiale besoeker opdaag.
In die koel dagbreeklug is daar vroeg al ’n gedruis van aktiwiteit wanneer Transnet se Phelophepa-gesondheidstrein tot stilstand kom. Toegedraai in komberse trotseer inwoners van landelike gebiede die oggendkoue en peusel aan ’n vroeë ontbyt terwyl hulle hul plek in die tou op die stasie se perron behou om die gesondheidsorg te ontvang waarvoor hulle so desperaat is.
Phelophepa: ’n Gesondheidsorg-reddingslyn vir landelike Suid-Afrikaners
Phelophepa I en II het ’n lewensredder geword vir baie Suid-Afrikaners wat andersins nie toegang tot basiese gesondheidsorgdienste sou hê nie – gewoonlik weens die afstand na klinieke of die koste van behandeling.
Sedert 1994 bied hierdie mobiele klinieke gratis mediese dienste in gebiede waar daar menigmaal net een dokter per 5 000 pasiënte is. Met 19 waens, ’n inwonende span van 20 plus 40 studentevrywilligers, besoek Phelophepa (wat ‘goeie, skoon gesondheid’ in Sesotho en Tshivenda beteken) jaarliks 70 gemeenskappe en sien gemiddeld 375 000 pasiënte per jaar.
Dit is vir Medihelp ’n eer om in 2025 vir die eerste keer ’n eksterne borg van hierdie lewensveranderende inisiatief te wees. “Phelophepa inspireer ons met hulle diens aan Suid‑Afrikaners regoor die land. Ons eer die kreatiwiteit agter die inisiatief om gesondheidsorg te lewer aan mense wat dit die meeste nodig het en hulle op ’n unieke en toeganklike manier bewus te maak en te leer van gesondheid. Medihelp streef daarna om kreatiwiteit as een van sy waardes te omarm en uit te leef,” sê Lee Fourie, bestuurder van Medihelp se afdeling vir korporatiewe maatskaplike investering (KMI), borgskap en promosies.
Omvattende sorg vir gemeenskappe met beperkte toegang tot gesondheidsdienste
Aanvanklik was hierdie uitgebreide kliniek ’n oogsorgfasiliteit wat uit drie beskeie waens bestaan het. Dit het as die ‘Oogtrein’ bekendgestaan. In antwoord op die dringende behoefte aan gesondheidsorg in plaaslike gemeenskappe is die diens vinnig uitgebrei om algemene gesondheidsorg, tandheelkundige en oogsorg sowel as behandeling vir gediagnoseerde toestande in te sluit.
Verder bied dit ook individuele en groepberadingsdienste om geestelike gesondheid te ondersteun en kwessies soos depressie en stres te behandel. Berading rondom heersende maatskaplike probleme soos armoede, werkloosheid en dwelmmisbruik word ook aangebied.
Met Phelophepa belê Transnet ook in gesondheidsopvoeding deur klasse oor algemene gesondheid soos voeding, higiëne en tandesorg vir plaaslike gemeenskappe aan te bied. Inwoners van landelike gebiede baat ook by die spesialisdienste aan boord, soos siftingstoetse vir diabetesvoorkoming, hoë bloeddruk en kanker.
Te midde van die gemeenskapsuitdagings maak Phelophepa ’n verskil
Phelophepa se fokus op die voorkoming en vroeë opsporing van mediese toestande het reeds talle Suid-Afrikaners se lewens verander. Deur hierdie siftingstoetse en onderrig te bied, skep die trein bewustheid van hoe belangrik dit is om gesondheid ’n prioriteit te maak. Dit bemagtig die vergete mense in hierdie afgeleë gebiede om beter na hulle gesondheid om te sien. Die toegang wat hulle tot gesondheidsorgdienste en inligting kry, help hulle om meer ingeligte besluit oor hulle welstand te maak.
Hierdie kennis motiveer hulle dikwels om mediese ondersoeke te ondergaan en vroegtydig behandeling vir kwale te ontvang, en dit verbeter hulle gesondheidsuitkomste.
Afgesien van die diens aan pasiënte, bied die trein se kliniek ook waardevolle geleenthede vir opleiding en praktiese ervaring aan mediese studente en verpleegkundiges. Dit het ook al vir honderde afgetrede gesondheidsorgkundiges werksgeleenthede geskep, wat dit vir hulle moontlik maak om ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te bly lewer.
Nie sonder sy eie uitdagings nie
Gedurende die Covid-19-pandemie het Phelophepa ’n kritieke rol gespeel deur toetse en sifting te doen. Ongelukkig het die pandemie meegebring dat vandalisme en plundering van spoorwegtoerusting en selfs dele van die trein toeneem.
Met Suid-Afrika se spoorweginfrastruktuur wat reeds dekades lank agteruitgaan, en kabels en selfs spore wat gesteel word, ervaar Phelophepa gereelde vertragings wat sy skedule ontwrig en pasiënte sonder die sorg laat wat hulle so dringend nodig het.
Die mobiele kliniek het ook unieke logistieke uitdagings. Daar moet altyd medisynevoorrad, toerusting, kos en ander benodigdhede beskikbaar wees. Groepe mediese studente wat die inwonende personeel bystaan, moet roteer en daar moet met die betrokke gemeenskappe gekommunikeer word oor waar die trein volgende sal stop.
’n Spoor van hoop en genesing
Die uitdagings is daar, maar vir meeste van diegene aan boord van Phelophepa bly dit ’n eer om minderbevoorregte Suid-Afrikaners op hierdie manier te help. Hulle sien ons land deur ’n ander lens en maak ’n blywende verskil in die lewens van mense met wie hulle in aanraking kom. Die inisiatief laat ’n blywende indruk op ons mees weerlose mense, en meer as 5,8 miljoen Suid-Afrikaners het reeds by dié gesondheidsdienste gebaat.
Medihelp se borgskap van die Phelophepa-gesondheidstrein werp lig op die belangrikheid van vennootskappe om gesondheidsorg selfs in die mees afgeleë dele in die land beskikbaar te stel. Deur ons ondersteuning sluit ons aan by ’n gesamentlike poging om ’n sorg- en genesingsprogram aan die lewe te hou wat al miljoene mense bereik het. Dit help om te verseker dat die ‘Trein van Hoop’, soos wyle Aartsbiskop Desmond Tutu dit liefdevol genoem het, lewens volhoubaar verander – daar waar mense dit die meeste nodig het.