Back 11 Des, 2025

Back

Die feesseisoenkrisis: Medihelp sorg dat elke oproep na SADAG se selfmoord-hulplyn beantwoord word

Die feesseisoenkrisis: Medihelp sorg dat elke oproep na SADAG se selfmoord-hulplyn beantwoord word

Medihelp borg SADAG se hulplyn vir ’n maand sodat elke feesseisoen-oproep beantwoord word.
Read more

Feesvieringe kan in Desember uitbundig wees. Maar vir baie mense is dit die stilste, eensaamste maand van die jaar. Agter die liggies, familiebyeenkomste en “feesgees” is daar Suid-Afrikaners wat rou, angs, finansiële druk en die las om voor te gee dat hulle oukei is ronddra. Vir iemand in ’n krisis kan ’n enkele oomblik – en een dapper oproep – die verskil tussen tragedie en hoop wees.

Daarom het Medihelp Mediese Skema onderneem om die Suid-Afrikaanse Depressie en Angs Groep (SADAG) se selfmoord-hulplyn vir ’n hele maand te borg. Dit sal help verseker dat opgeleide beraders aanhou om oproepe te antwoord wanneer mense dit die nodigste het.

Dit kos SADAG R160 000 om die hulplyn vir één maand te bedryf. Medihelp se borgskap help dat dié noodsaaklike ondersteuning tydens die feesseisoen beskikbaar bly in ’n tyd waarin die behoefte aan krisisberading skerp styg en baie mense sukkel om elders hulp te kry.

Desember is spitstyd vir krisisoproepe

SADAG ervaar elke Desember ’n aansienlike styging in krisisoproepe. Hoewel die feesseisoen vrolik kan wees, kan dit ook emosionele nood vererger, veral vir mense wat oor geliefdes rou, alleen voel of gebuk gaan onder finansiële druk, gesinskonflik en verhoogde verwagtinge.

“Dié tyd van die jaar kan veral vir jong mense moeilik wees. SADAG ontvang oproepe van matrikulante en skoolleerders ná eksamenuitslae, veral wanneer die uitslae nie aan verwagtinge voldoen nie. Gevoelens van angs, teleurstelling, skande en vrees vir die toekoms kan oorweldigend word vir leerders wat voel hulle het hulself of hul gesinne teleurgestel. Tydens die vakansie, wanneer skole gesluit is en ondersteuningsnetwerke beperk is, word SADAG ’n kritieke bron van onmiddellike hulp vir leerders wat andersins in stilte sou ly,” sê SADAG se Bedryfsdirekteur, Cassey Chambers.

Volgens Lien Potgieter, Hoof van Bemarking by Medihelp, help Medihelp se borgskap van die selfmoord-hulplyn om SADAG slaggereed te hou om oproepe te antwoord, mense in nood te ondersteun en ’n veilige plek te bied vir almal wat dringende emosionele ondersteuning tydens hierdie hoërisikotydperk nodig het.

’n Hupstoot vir Suid-Afrika se geestesgesondheidsnetwerk

“Medihelp besef dat geestesgesondheidsuitdagings enigiemand – ongeag ouderdom, inkomste of agtergrond – kan raak. Deur SADAG se selfmoord-hulplyn te ondersteun, versterk Medihelp ’n noodsaaklike deel van Suid-Afrika se ondersteuningsnetwerk vir geestesgesondheid en verseker dat hulp in die tye wat dit die nodigste is, toeganklik bly,” sê Potgieter.

Hierdie inisiatief vorm deel van Medihelp se breër verbintenis tot die bevordering van emosionele welstand, vroeë ingryping en die vermindering van stigma wat mense dikwels keer om hulp te soek. Wanneer iemand met ’n opgeleide berader kan praat wat sonder oordeel luister en praktiese leiding gee, verander krisis in veiligheid en hopeloosheid in ondersteuning.

Jy is nie alleen nie – hulp is altyd beskikbaar

Hulp is onmiddellik beskikbaar as jy of ’n geliefde depressief, angstig, hopeloos of oorweldig voel. SADAG se beraders bied empatiese leiding, emosionele ondersteuning en praktiese raad. Indien nodig, kan hulle mense wat inbel ook verwys na bykomende hulpbronne soos terapeute, gemeenskapsdienste of krisissentrums. Die diens is vertroulik en elke dag van die week, selfs op openbare vakansiedae, beskikbaar.

Hoe om SADAG te kontak:

  • Selfmoord-krisishulplyn: 0800 567 567
  • Dr Reddy se Geestesgesondheid-hulplyn: 0800 21 22 23
  • 24-uur SMS-noodhulplyn: SMS 31393
  • WhatsApp-klets (8:00–17:00): 076 882 2775
  • Webwerf: www.sadag.org


Share this on: