Back 26 Sep, 2022 - Gesondheidsbewustheid

Back

Servikskanker

Servikskanker

Servikskanker is die hoofoorsaak van kankersterftes by vroue in Suid-Afrika,
Read more

Servikskanker: Vroeë bespeuring is deurslaggewend

Servikskanker is die hoofoorsaak van kankersterftes by vroue in Suid-Afrika, hoewel dit ’n voorkombare en geneesbare siekte is indien dit vroegtydig bespeur en doeltreffend behandel word.

Servikskanker is die tweede algemeenste tipe kanker naas borskanker by Suid-Afrikaanse vroue en volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) word byna 11 000 vroue jaarliks met servikskanker gediagnoseer. Servikskanker is die oorsaak van meer as 5 000 sterftes elke jaar.

Wat is servikskanker?

Servikskanker ontstaan wanneer die selle in die serviks verander en onbeheers begin groei om ’n kankeragtige tumor te vorm. Dit is gewoonlik ’n stadiggroeiende kanker wat byna altyd deur infeksie met die menspapilloomvirus (MPV) veroorsaak word. Die infeksie in die serviks veroorsaak premaligne letsels wat kan ontwikkel tot kanker indien dit nie behandel word nie.

Wat is die simptome?

Vroeë servikskanker kan asimptomaties wees, maar simptome wissel van vrou tot vrou. Die simptome van servikskanker in die vroeë stadium kan insluit ongewone bloeding, bloeding na geslagsomgang en verhoogde vaginale afskeidings.

Daar kan ernstiger simptome wees namate die kanker vorder, soos aanhoudende pyn, gewigsverlies, moegheid, verlies aan eetlus, ’n vaginale afskeiding wat sleg ruik asook vaginale ongemak.

Waarom siftingstoetse belangrik is

Servikskanker ontstaan as ’n premaligne toestand wat met behulp van ’n Papsmeer bespeur kan word.

“Servikskanker is ’n maklik voorkombare tipe kanker en is uiters behandelbaar indien dit in die vroeë stadiums bespeur word, mits behandeling vroegtydig begin,” sê Lorraine Govender, KANSA se nasionale bestuurder vir gesondheidsbevordering.

Gereelde Papsmere kan help om abnormale selle in die serviks te bespeur wat moontlik tot servikskanker kan aanleiding gee. ’n MPV-toets kan ook gedoen word om te bepaal of die MPV teenwoordig is, veral die MPV-16- en MPV-18-stam wat die meeste soorte servikskanker veroorsaak.

“Dit is ook baie belangrik dat vroue wat abnormale toetsuitslae het, behandeling moet kry. Die gaping tussen toetsing en behandeling in Suid-Afrika is baie hoog. Soveel as 50% van vroue met premaligne simptome word verwys vir opvolgbehandeling soos ’n kolposkopie of biopsie,” sê Govender.

Maatreëls vir voorkomende sorg

Vroue word aangemoedig om te toets vir servikskanker deur gereeld ’n Papsmeer of MPV-toets te laat doen, sodat enige abnormaliteite en premaligne kankerletsels bespeur kan word in ’n vroeë stadium wanneer dit maklik behandelbaar is.

Daar is ook twee entstowwe in Suid-Afrika beskikbaar om vroue te beskerm teen die MPV-tipe wat die meeste soorte servikskanker veroorsaak. Dit word aanbeveel dat vroue en mans die MPV-inenting ontvang voordat hulle met geslagsomgang begin. Dit kan toegedien word aan kinders van so jonk as 9 jaar tot op 26 jaar.

Byna alle soorte servikskanker word deur ’n MPV-infeksie veroorsaak, maar ander risikofaktore sluit in ouderdom, rook, oorgewig en ’n onaktiewe leefstyl asook MIV of vigs.

Medihelp se voordele vir voorkomende sorg

Medihelp se voordele vir vroue sluit in ’n Papsmeer elke drie jaar asook twee MPV-inentings vir meisies en seuns tussen 10 en 14 jaar of drie inentings tussen 15 en 26 jaar.

Bronne:

https://cansa.org.za/cervical-cancer/
https://www.cancer.org/cancer/cervical-cancer/about/what-is-cervical-cancer.html/a>
https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/cervical-cancer
https://www.webmd.com/cancer/cervical-cancer/cervical-cancer"
https://www.medicalnewstoday.com/articles/cervical-cancer-cells

 


Share this on: