Back 22 Apr, 2022 - Gesondheidsbewustheid

Medihelp

By Medihelp

Back

Sorg vir ons planeet

Sorg vir ons planeet

Op 22 April vier ons Internasionale Wêreld Moeder Aardedag om ons te herinner dat ons moet saamwerk en in ons planeet se toekomstige gesondheid moet belê.
Read more

Almal weet teen dié tyd van klimaatsverandering en ons sien die verwoestende gevolge daarvan op ons planeet in die vorm van onbeheerste vloede en bosbrande. Klimaatsverandering is die gevolg van aardverwarming, wat deur die vrystelling van kweekhuisgasse veroorsaak word. Volgens ’n onlangse studie word kweekhuisgasse tans teen so ’n hoë koers vrygestel dat gemiddelde temperature wêreldwyd binne die volgende 11 jaar met meer as 1,5 grade Celsius gaan styg indien ons nie nou reeds hierdie vrystellings inkort nie. Dié doelwit is gestel in die Parys-verdrag wat in 2015 deur ’n aantal lande gesluit is.

Hoe die wêreld sal lyk as ons nie nou stappe doen nie
Omgewingsprobleme soos lugbesoedeling en swak watergehalte kom die afgelope paar jaar so algemeen voor dat daar nou, meer as ooit, dringend ’n oplossing vir klimaatsverandering gevind moet word. As ons nie drastiese stappe doen om vir ons planeet te sorg nie, kan ons verwag dat die wêreld se koraalriwwe en die seediere wat dit huisves sal sterf, dat storms al hoe erger sal word en droogtes langer sal duur. Dit sal vernietigende gevolge vir lewe op aarde hê, soos die bedreiging van die natuurlike habitats van etlike spesies wilde flora en fauna asook die mensdom se voedselsekuriteit.

Die goeie nuus
Als is egter nie verlore nie, want die goeie nuus dat daar nog tyd is om tot aksie oor te gaan en ons planeet se toekoms te beskerm.

Die boodskap vir Internasionale Moeder Aardedag 2022 is duidelik: Ons almal moet alles gee. Individue, sakeondernemings en regerings moet aanspreeklik gehou word vir verandering en moet bydra om ’n groener toekoms te skep.

Vyf maniere waarop jy kan help om in ons planeet se herstel te belê

Plant ’n boom. Om ’n boom te plant, is ’n uitstekende manier om Internasionale Moeder Aardedag te vier, want bome verskaf voedsel en suurstof, en suiwer die lug van besoedeling.

Spaar water. Deur eenvoudige dinge te doen soos vinniger te stort en lekkende krane te herstel, kan jy water spaar en help om te verseker dat hierdie kosbare hulpbron in die toekoms steeds beskikbaar sal wees.

Verminder, hergebruik en herwin. Verminder die hoeveelheid afval wat jy genereer, gebruik items ’n paar keer voordat jy dit weggooi, en herwin stowwe soos karton, aluminium, plastiek en glas.

Trek elektriese toestelle by die muursok uit. Toestelle wat afgeskakel is maar by die sok ingeprop is, gebruik steeds elektrisiteit. Aangesien die meeste huishoudings se energie afkomstig is van die verbranding van fossielbrandstowwe, sal jy deur hierdie eenvoudige stap help om die energie-aanvraag te verminder en koolstofvrystellings te bekamp.

Kies seekos oordeelkundig. Kommersiële vissery kan skadelik vir seebewaring wees indien dit nie behoorlik gereguleer word nie. Een voorbeeld hiervan is oormatige visvangs, wanneer vissers al die visspesies oes waar hulle visvang pleks van net een spesifieke spesie (dit staan as “onoordeelkundige vissery” bekend). Jy kan oordeelkundige visvangs ondersteun deur altyd seekos te koop wat as volhoubaar gesertifiseer is.

Kom ons werk almal saam om ons planeet te red vir die nageslag!

Sources:

https://www.earthday.org/earth-day-2022/
https://www.npr.org/2021/11/04/1052267118/climate-change-carbon-dioxide-emissions-global-carbon-budget
https://www.npr.org/2021/11/08/1052198840/1-5-degrees-warming-climate-change
https://unfccc.int/process-and-meetings/the-paris-agreement/the-paris-agreement
https://www.space.com/earth-day-facts-history-activities
https://www.msc.org/en-au/media-centre-anz/news-views/news/2019/05/30/six-practical-solutions-to-tackle-overfishing


Share this on: