Back 28 Jul, 2025 - Medihelp

Back

Werk slim met jou sente: Hoe om jou voordele te rek

Werk slim met jou sente: Hoe om jou voordele te rek

Hierdie Nasionale Spaarmaand, ontdek 8 maniere om geld te spaar met slimmer mediese keuses.
Read more

Julie is Nasionale Spaarmaand. Dis die perfekte tyd om te kyk na jou spandeergewoontes en te sien waar klein aanpassings ’n groot verskil kan maak. Terwyl die meeste mense net aan bankrekening en begrotings dink wanneer dit kom by spaar, is daar nog ’n plek om te kyk: jou mediese fonds.

By Medihelp glo ons finansiële welstand en fisiese welstand loop hand aan hand. Wanneer jy weet hoe om slim met jou gesondheidsorg te werk, kan jy onnodige uitgawes vermy, jou voordele rek, en op die lange duur gesonder bly.

Hier is agt praktiese maniere om elke rand te laat tel.

1. Gebruik netwerkverskaffers waar moontlik

Mediese skemas onderhandel goedkoper tariewe met dokters, hospitale en ander gesondheidsorgverskaffers. Deur ’n verskaffer in jou plan se netwerk te kies, vermy jy koste wat jy uit jou sak uit moet betaal en bybetalings wat vinnig optel.

Nie seker wie is deel van jou netwerk nie? Soek ’n verskaffer op ons webwerf of teken aan op die Member Zone.

2. Beplan vooruit om hoër koste te vermy

Noodgevalle kan nie altyd vermy word nie – maar daar is baie gesondheidsorguitgawes wat jy wel kan vermy. Maak vooruit afsprake vir roetinesiftings en -ondersoeke, en kry voorafmagtiging vir beplande prosedures. Dit help verseker dat jy gedek is en vermy boetes of afgekeurde eise.

3. Weet wat jou plan dek

Jy het dalk meer voordele as wat jy besef. Van tande skoonmaak tot swangerskapvoordele en dekking vir chroniese medisyne, jou plan is ontwerp om jou gesondheid deur elke lewensfase te ondersteun. Leer ken jou plan se voordele en limiete – jy sien dalk geleenthede raak om hulle beter te benut.

4. Dien eise en dokumentasie betyds in

Moenie terugbetalings waarop jy geregtig misloop nie. Medihelp het ’n eisetydperk van vier maande vanaf die datum van diens. As jy laat indien, word jy dalk nie vergoed nie, so dien jou eise onmiddellik in wanneer jy vooruit betaal. Dis maklik – doen dit op die Member Zone of die Medihelp app.

5. Dink voorkomend, nie reaktief nie

Dis goedkoper om gesond te bly as om siekte te behandel. Griepinentings, gereelde bloeddruktoetse en gesonder leefstylkeuses kan op die langtermyn gesondheidsorgkoste verminder. Dit sal boonop jou lewenskwaliteit verbeter.

6. Oorweeg om mediese fonds met gapingsdekking te kombineer

Selfs met ’n omvattende plan kan daar ’n verskil wees tussen die bedrag wat ’n verskaffer vra en wat jou skema betaal. Gapingsdekking red jou spaarrekening in tye van nood, soos hospitaalopnames of groot prosedures.

7. Gebruik die Member Zone

Van voordele nagaan tot eise opvolg, die Member Zone help jou om in beheer te bly. Jy kan ook sekere versoeke aanlyn indien, soos reiskennisgewings en aansoeke om chroniese medisyne – geen telefoonoproepe of papiervorms nodig nie. Jy kan selfs navrae volledig aanlyn bestuur.

8. Spaar slim met jou spaarrekening

As jou plan ’n mediese spaarrekening insluit, gebruik dit verstandig. Deur netwerkverskaffers en aangewese diensverskaffers (ADVs) te gebruik, voorafmagtiging te kry waar nodig en te kyk wat gedek word voor jy uit jou sak uit betaal, kan jy onnodige koste vermy. Dit beteken jou spaarrekening hou langer. En as daar geld oor is aan die einde van die jaar, dra dit oor na die volgende jaar en verdien rente.

Klein stappe, slim keuses

Mediese fonds is ’n belegging in jou toekoms. Hierdie Spaarmaand moedig ons jou aan om verder as ledegeld te dink en te kyk hoe jy jou voordele elke dag gebruik. ’n Bietjie beplanning en bewustheid kan jou help om duur foute te vermy en meer te spaar.


Share this on: