Nasionale Kaalvoetdag op 1 Junie herinner ons elke jaar daaraan om stil te staan by iets wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar: ’n paar skoene. Vir sommige kinders is kaalvoetwees deel van speel, ontdek en avontuur. Vir vele ander kinders regoor Suid-Afrika is dit egter ’n deel van hulle daaglikse bestaan wat hulle lewensomstandighede weerspieël.
Duisende Suid-Afrikaanse kinders stap kaalvoet skool toe omdat hulle nie ordentlike skoolskoene het nie – dikwels oor lang afstande, op stowwerige grondpaaie en yskoue grond. In die winter is daardie werklikheid nóg moeiliker. Dis uitdagend genoeg vir ’n kind om in die klas te konsentreer wanneer hulle moeg, honger of koud is. Dink net hoeveel moeiliker dit is om ’n skooldag op ’n ysige winteroggend te begin ná ’n kaalvoet staptog oor kilometers heen. Om met verkluimde voete deur ’n skooldag te kom en steeds te probeer leer, inskakel en aan jou droom vir ’n beter toekoms vas te hou, is nie maklik nie.
’n Paar skoolskoene klink dalk na iets kleins, maar vir hierdie kinders kan dit self-respek beteken, selfvertroue, gemak en die vryheid om net kind te wees.
Die realiteit vir baie Suid-Afrikaanse kinders
Vir talle gesinne bly skoolskoene onbekostigbaar. Tog speel behoorlike skoene ’n belangrike rol in ’n kind se gesondheid, welstand en opvoeding. Sonder skoene is kinders meer blootgestel aan beserings, strawwe weerstoestande en infeksies. Om lang afstande kaalvoet te stap, kan ook skoolbywoning, deelname en alledaagse skoolaktiwiteite beïnvloed.
’n Paar skoene kan help dat ’n kind warmer, veiliger, meer selfversekerd en gereed om te leer by die skool aankom.
Die verskil wat ’n paar skoene kan maak
Kinders wat raakgesien, ondersteun en versorg voel, is meer vrymoedig, meer betrokke, en hulle optrede wys dat hulle meer hoop het. Kinders wat behoorlike skoolskoene het, kan minder op hulle ongemak fokus en meer op leer, sosiale omgang en die geleenthede wat vir hulle voorlê. Klein omgee-gebare kan ’n groot verskil maak aan ’n kind se selfbeeld en gevoel van geborgenheid.
Dit is waarom gemeenskapsuitreikprogramme soos MyWalk so belangrik is.
Hoe MyWalk lewens verander
MyWalk voorsien skoolskoene aan kinders in minderbevoorregte gemeenskappe as deel van Medihelp se breër verbintenis tot gemeenskapswelstand en menswaardigheid.
Deur sy vennootskap met Samaritan’s Feet South Africa het Medihelp reeds byna 10 000 pare skoolskoene geskenk aan kinders in gemeenskappe waar die behoefte daagliks sigbaar is.
Die projek het ten doel om ’n praktiese verskil in Suid-Afrikaanse kinders se lewens te maak deur gerief, beskerming en selfvertroue te help bied waar dit die nodigste is.
Meer as ’n skenkingsprojek
Met verloop van tyd het MyWalk veel meer as net ’n skenkingsinisiatief geword. Dit dien as herinnering dat gesondheidsorg en welstand verder strek as hospitale, konsultasies en behandelingsplanne.
Ware welstand gaan ook oor waardigheid, geleenthede, opvoeding en om die alledaagse uitdagings te hanteer waarmee mense worstel lank voordat hulle by ’n kliniek of dokter se spreekkamer instap.
Nasionale Kaalvoetdag herinner ons daaraan dat omgee by die basiese dinge moet begin, soos om ’n kind se dag al op pad skool toe beter te laat verloop. En dikwels beteken die eenvoudigste dinge die meeste: ’n paar skoene, ’n warmer winteroggend, ’n bietjie meer gerief in die klaskamer en ’n kind wat meer op die toekoms kan fokus as op die koue grond onder hulle voete.
Want elke kind moet met ’n gevoel van waardigheid kan stap.
Werk saam met ons om ’n groter impak te hê
Medihelp glo dat betekenisvolle en blywende verandering deur samewerking gebeur.
Deur saam te werk met organisasies vir wie menswaardigheid, opvoeding en gemeenskapswelstand ook belangrik is, glo ons MyWalk kan met toekomstige uitreikprogramme nóg meer kinders oor die hele Suid-Afrika bereik.
Korporatiewe groepe wat belangstel om saam met Medihelp aan toekomstige MyWalk-uitreikprojekte te werk, kan Lee Fourie by lfourie@medihelp.co.za kontak vir meer inligting.