Medihelp-werknemers het onlangs uitgereik na Starfish Babies, ’n niewinsgewende organisasie wat plekke van veiligheid vir weerlose babas en kleuters bied, deur geld en noodsaaklikhede vir babas te skenk en só te help met hierdie kinders se versorging deur hulle pleegfamilies.
Hoewel Starfish Babies drie jaar gelede amptelik gestig is, bestaan hulle netwerk van pleegfamilies wat hul harte en huise vir weerlose babas en kleuters oopmaak reeds die afgelope 15 jaar. Dié niewinsgewende organisasie volg ’n holistiese benadering tot sorg deur pleegfamilies by te staan met opleiding in eerstehulp en trauma, mediese sorg te help verleen, en as skakelpunt tussen maatskaplike werkers en pleeggesinne op te tree.
“Ons is baie dankbaar vir Medihelp se ondersteuning die afgelope twee jaar, wat ’n positiewe impak op die lewens van soveel kinders gehad het,” sê Janice Spencer, bedryfsbestuurder by Starfish Babies.
“Medihelp se werknemers is betrokke by verskeie liefdadigheidsorganisasies van hulle keuse as deel van ons organisasie se korporatiewe maatskaplike investeringsprogram. Dis verrykend om ’n bydrae te maak en die goeie werk te ondersteun wat sulke instansies doen om sorg en plekke van veiligheid te bied,” sê Marinda du Plessis, bemarkingshoof van Medihelp.