Back 15 Jul, 2024 - Floreer!

Back

Is suiker ’n soet manier om wonde te genees?

Is suiker ’n soet manier om wonde te genees?

Suiker om wonde mee te behandel, is dalk ’n veilige, goedkoop alternatief vir antibiotika.
Read more

Suiker, ʼn goeie ding? Glo dit of nie, suiker word reeds vir eeue gebruik om wonde en oop sere mee te behandel. Trouens, die eerste opgetekende voorbeeld waar suiker gebruik is om wonde te ontsmet, was in 1679.

Dit maak heeltemal sin wanneer jy in ag neem dat mense voor penisillien ʼn wye reeks moontlike rate probeer het (insluitend kos). Danksy duidelike resultate dat dit meer doeltreffend as ander middels is, het suiker al hoe gewilder as behandelingsmiddel geword.

Dit is egter eers met die aanbreek van die 20ste eeu dat bespiegelings in feite verander het toe wetenskaplike studies die bewerings en antieke mediese behandeling begin staaf het.

Suikerstudies

Professor Moses Murandu, Zimbabwiese dosent en navorser aan die Universiteit van Wolverhampton in Engeland, is reeds vir dekades ʼn voorstander van die gebruik van suiker vir wondgenesing. As kind het Murandu se pa suiker op sy seun se wonde gesmeer ná ʼn val of ʼn sny. Murandu het eerstehands ervaar hoe ʼn wond wat met suiker behandel word, aansienlik vinniger genees as ʼn onbehandelde wond.

In 2018 het hy ʼn toekenning van die Journal of Wound Care ontvang vir sy loodsstudie oor die gebruik van suiker vir wondsorg. Sedertdien het hy talle kliniese toetse onderneem, met ʼn toenemende versameling gevallestudies wêreldwyd wat sy bevindings rugsteun. Hy het selfs bevind dat dié behandeling vir diabete doeltreffend kan wees sonder om ʼn negatiewe uitwerking op suikervlakke te hê.

Hoekom is suiker doeltreffend?

Suikerpasta verseker ʼn ongunstige omgewing vir die groei van bakterieë. Wanneer suiker aangewend word, droog dit die wond of oop seer uit en keer só dat bakterieë groei. Die suikerkorrels absorbeer die water wat bakterieë nodig het om te oorleef.

Nóg ʼn voordeel is dat suiker redelik maklik is om aan te wend en nie aan die wond vasklou nie. Daar is dus ʼn kleiner kans om die wond oop te skeur wanneer dit verwyder word. Die wond hoef ook nie so gereeld behandel te word nie – slegs elke 12 tot 24 uur. Dit verseker ʼn redelik bestendige temperatuur, wat genesing bevorder.

Suiker is ook geensins net vir skrapies en snytjies nie. Wonde wat geskik is vir suikerbehandeling sluit in besmette en chirurgiese wonde, bedsere, afskeuring (“degloving/avulsion”), uitgebreide diepweefselinfeksies en selfs brandwonde. Hierdie bevindings is van groot belang, veral in ontwikkelende lande waar suiker baie goedkoper is as gewone medisyne vir die behandeling van besmette wonde en infeksies.

Heuning ewe soet vir wondsorg

Heuning is, nes suiker, ook ʼn produk wat gebruik kan word vir natuurlike wondsorg. Studies het bevind dat dit selfs meer doeltreffend as suiker kan wees om bakteriële infeksie te verminder en wonde te genees. Suiker verhoed hoofsaaklik die groei van bakterieë, maar heuning is antibakterieel. Rou heuning in alle vorms kan egter met bakterieë of fungi besmet wees. Dit is dus belangrik om dit altyd te steriliseer voordat heuning as ʼn behandeling oorweeg word.

Medisyne in jou spens

Kan jy regtig suiker op jou wond gooi en dit met ʼn verband toedraai? Ja en nee, want alle wonde en oop sere is nie dieselfde nie. Dokters waarsku altyd om sogenaamde natuurlike middels met ʼn knippie sout te neem (veral wanneer ernstige toestande en kwale behandel word). Daar is egter bewyse dat suiker ʼn lewensvatbare plaasvervanger kan wees, veral in gevalle waar mense nie antibiotika kan bekostig nie.

Kommer oor weerstandigheid teen antibiotika is ook ʼn belangrike faktor wat navorsing oor die geldigheid van natuurlike rate aanhits. Studies is tans beperk, maar die voordele van suiker in die behandeling van diere raak al hoe gewilder en tot dusver is geen nadelige gevolge aangemeld nie.

ʼn Lepelvol suiker

Suiker kan soveel meer doen as om ’n bitter pil te sluk – en boonop met soet gevolge. En dit is vir seker ʼn goeie ding!


Share this on: