Back 11 Jan, 2022 - COVID-19

Back

Terug skool toe

Terug skool toe

Kinders landwyd maak gereed vir die 2022-skooljaar ná ’n vakansie waartydens Suid-Afrikaners minder streng regulasies kon geniet te midde van die Omikron-gedrewe vierde golf COVID-19-infeksies.
Read more

Maak inenting deel van jou terug-skool-toe-doenlysie

Kinders landwyd maak gereed vir die 2022-skooljaar ná ’n vakansie waartydens Suid-Afrikaners minder streng regulasies kon geniet te midde van die Omikron-gedrewe vierde golf COVID-19-infeksies. Met talle kinders wat binnekort na die skoolbanke terugkeer, is dit uiters belangrik dat hulle ingeënt word en só die pandemie help beveg.

Waarom is dit belangrik dat tieners ingeënt word?

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) het in Oktober 2021 gesê dat die inenting van kinders teen COVID-19 “die duur van simptome kan verkort, oordrag van die virus na ander kan beperk, en dit moontlik kan maak vir kinders om gouer terug te keer skool toe en hulle normale aktiwiteite te hervat.”

NIOS het gesê dis veral belangrik vir adolessente met onderliggende toestande soos diabetes, kanker, MIV en vetsug om ingeënt te word. Die Instituut se data wys dat adolessente wat hierdie toestande onder lede het, ’n groter risiko het om aan COVID-19 te beswyk as adolessente wat nie aan die toestande ly nie.

Kinders tussen 12 en 17 jaar kan twee dosisse van die Pfizer-entstof ontvang. Die inspuitings moet 42 dae uitmekaar toegedien word.

Dr Christo du Preez, Medihelp se senior bestuurder verantwoordelik vir innoverende gesondheidsorg, sê die Skema benut sy goeie verhouding met gesondheidsorgverskaffers en werk nóú saam met kenners op die gebied om die impak van siektes en spesifieke behandelings te evalueer. “Wat COVID-19, inentings en kinders betref, is daar niemand wat ons van beter advies kan bedien nie as ons pediaters wat kinders behandel en alles in hulle vermoë doen om ouers te help met die bekamping van COVID-19 by kinders van alle ouderdomme. Dr Despina Demopoulos, wat op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Pediaters (SAPA) dien, beklemtoon dat COVID-19 ’n voorkombare siekte is, dat inenting die verspreiding daarvan kan keer, en dat entstowwe behoorlik getoets is en as ’n uiters doeltreffende laerisiko-intervensie bewys is. Prof Mignon McCulloh, wat ook op SAPA se uitvoerende komitee dien en ’n medeprofessor by die Rooikruis is, beaam hierdie siening en beveel inenting aan vir kinders in hoërisikogroepe soos kankerpasiënte,” sê dr Du Preez.

Volgens dr Du Preez het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verklaar dat die inenting van kinders die siektelas by kinders sal verlaag, in ag genome die belangrikheid van transgenerasionele verspreiding waarin kinders en adolessente van skoolgaande ouderdom ’n belangrike rol speel.

“Die WGO sowel as SAPA het hulle kommer uitgespreek oor die impak van COVID-19 op opvoedkundige programme. Inenting kan help om die dinamika van virusverspreiding en die ontwikkeling van variante in ’n land te stabiliseer, en kan help om die opvoedkundige omgewing veilig en aktief te hou,” sê hy.

Toestemming vir inenting

Kinders tussen 12 en 17 jaar kan die inenting kry sonder hulle ouers se toestemming.

Isabel Magaya van die Sentrum vir Kinderreg by die Universiteit van Pretoria sê volgens artikel 129 van die Kinderwet 38 van 2005 mag kinders instem tot mediese behandeling, insluitend inenting, indien hulle ouer as 12 jaar is en oor voldoende volwassenheid en die verstandelike vermoëns beskik wat nodig is om die voordele, risiko’s, sosiale en ander implikasies van die behandeling te begryp.

Waar kinders ouer as 12 nie die risiko’s en voordele van mediese behandeling begryp nie, mag ’n ouer, voog of versorger namens hulle toestemming gee. Die kinders moet egter geraadpleeg word, aangesien hulle die reg het om gehoor te word en hulle sienings gerespekteer moet word, sê prof Ann Skelton van die Universiteit van Pretoria en ’n lid van die VN se komitee oor kinderregte.

Betaal Medihelp vir die koste van die inenting?

Ja. Medihelp betaal die koste van die COVID-19-entstof en die toediening daarvan ten volle uit ’n aparte voordeel wat nie lede se dag-tot-dag-voordele sal uitput nie.

 


Share this on: