Dinge kan soms ’n bietjie wild raak oor die feesseisoen ongeag of jy reis na jou fantasiebestemming of uitsien na tuisbly met geliefdes. Jy gaan waarskynlik meer tyd in die buitelug of in plekke propvol mense deurbring waar daar ’n groter gevaar is vir klein ongelukke of om lastige kieme op te tel. Motorongelukke neem ook gewoonlik dié tyd van die jaar toe met die duisende vakansiegangers op die pad.
Hier is hoe jy jou Medihelp-lidmaatskap ten volle kan benut terwyl jy op vakansie is.>
Hou jou lidkaart by jou
Laai jou lidkaart op die Medihelp-app af en stoor dit op jou selfoon om dit heeltyd byderhand te hê. Jy kan ook inteken op die Member Zone en jou lidkaart daar aflaai om te stoor of uit te druk.
In geval van nood
Jy en jou afhanklikes het dekking vir nood mediese sorg. ’n Mediese noodgeval is ’n skielike en onverwagse gebeurtenis wat onmiddellike mediese of chirurgiese behandeling benodig om jou gesondheid te beskerm, soos ’n motorongeluk, brandwond of steekwond.
In ’n noodgeval dek ons Netcare 911 se ambulans of helikopter, die hospitaalrekening en die dokter, narkotiseur en ander goedgekeurde gesondheidsorgverskaffers se rekeninge.
As jy of een van jou afhanklikes in die hospitaal opgeneem moet word vir nood mediese sorg, moet jy of iemand namens jou Medihelp binne 72 uur van die opname laat weet. Bevestig met die hospitaal dat Medihelp in kennis gestel is of bel ons by 086 0200 678.
Reis jy oorsee?
As jy of jou afhanklikes beplan om na ’n ander land te reis, moet jy Medihelp vooraf in kennis stel van die land waarheen jy gaan en hoe lank jy daar sal vertoef. Medihelp sal aan jou inligting stuur sodat jy weet waarvoor jy gedek is, asook hoe om te eis.
Die land wat jy besoek, sal jou voordele vir noodvervoer en ander mediese dienste bepaal, so gaan asseblief jou mediesefondsplan na voordat jy vertrek. Dis ook ’n goeie idee om bykomende reisversekering te kry om die verskil tussen jou plan se voordele en die koste van mediese dienste in die buiteland te dek.
Bel ons by 086 0200 678 vir die nodige dokumentasie wat jy moet invul sodat ons eise met jou reisversekering se agent kan opvolg en koördineer.
Om ’n eis in te dien (uitsluitend buitelandse eise)
As jy moet eis, maak bloot die Medihelp-app oop en:
Klik op “Dien ’n eis in”. Neem ’n foto van jou eis of laai ’n dokument. Laai enige ondersteunende dokumente. Kies die afhanklikekode en tipe eis. Klik op “Dien in”.
Onthou om jou chroniese medisyne te pak
As jy medisyne vir ’n chroniese toestand soos suikersiekte of hoë bloeddruk nodig het vir meer as 30 dae terwyl jy reis, moet jy onthou om jou aansoekvorm vyf dae voordat jy beplan om jou medisyne af te haal in te dien. Jy kan ’n aansoekvorm aflaai op die Member Zone dit invul en e-pos na enquiries@medihelp.co.za. Jy sal dan ’n e-pos ontvang wat bevestig wanneer jy jou medisyne by jou gewone afhaalpunt kan gaan haal.
Medihelp dek jou vir hospitalisasie
Al ons planne het onbeperkte hospitaaldekking. Hospitalisasie moet vooraf goedgekeur word en is onderhewig aan kliniese protokolle en gevallebestuur. Jy kan ook voorafgoedkeuring op die Medihelp-app of Member Zone by www.medihelp.co.za versoek.
Onthou: As jy op ’n netwerkplan is, moet jy ’n fasiliteit gebruik in ons nasionale netwerk van privaat netwerkhospitale en -dagprosedurefasiliteite om bybetalings te vermy. As jy egter ’n mediese noodgeval het (soos bo beskryf) in ’n plek waar daar geen netwerkhospitaal naby is nie, sal daar geen bybetaling wees as jy die naaste hospitaal besoek nie. Jy kan ’n netwerkverskaffer naby jou op die Medihelp-app of Member Zone vind.
Moenie onvoorbereid wees dié feesseisoen nie. Maak eerder die beste van jou reis of tuisbly en onthou hierdie wenke wanneer jy jou vakansie beplan. Gaan jou e-ledegids na of besoek die Medihelp-webwerf vir vinnige antwoorde oor gereelde vrae.