Back 14 Mei, 2024 - Floreer!

Back

Kan versoeters jou siek maak?

Kan versoeters jou siek maak?

Veroorsaak aspartaam kanker? Kom ons kyk na die feite.
Read more

In Julie verlede jaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ʼn verslag vrygestel wat meld dat die kunsmatige versoeter aspartaam moontlik karsinogenies (kan kanker  veroorsaak) in mense is. Maar voordat jy kombuis toe hardloop en alles uitgooi wat dié gewilde bestanddeel (in duisende produkte in kruidenierswarewinkels regoor die wêreld) bevat, drink ʼn slukkie kalmerende kamilletee (dalk met heuning in plaas van versoeter hierdie keer) en lees verder. Kom ons kyk na die feite.

Wat is aspartaam?

Aspartaam het in 1981 die mark betree as ʼn laekalorieversoeter wat vinnig wêreldwyd ʼn gewilde gesonder plaasvervanger vir suiker geword het. In 1974 (sewe jaar voordat dit bekendgestel is) en weer in 1981 het die U.S. Food and Drug Administration (FDA) dit goedgekeur as ʼn veilige bymiddel vir die algemene bevolking.

Vandag verwys die FDA na aspartaam as een van die kosbymiddels wat die meeste bestudeer is in die menslike voedselvoorsieningsketting. Trouens, hulle het na meer as 100 studies gaan kyk “om die moontlike giftige uitwerkings te identifiseer, insluitend studies wat die invloed op die voortplantings- en senuweestelsels, kankerverwekkingsvermoë en metabolisme navors”.

 

Maar hoekom is die WGO bekommerd?

Nadat hulle die bevindinge beoordeel het, het die WGO sekere positiewe verwantskappe tussen die inname van aspartaam en hepatosellulêre karsinoom (ʼn tipe lewerkanker) opgemerk. Hulle het egter die moontlikheid dat aspartaam kanker kan veroorsaak as “beperk” geklassifiseer. Dit beteken dat daar bewyse is van ʼn moontlike verband, maar die navorsing kan nie beskou word as “voldoende om ʼn oorsaaklike verband af te lei” nie.

In kort: nog baie navorsing is nodig, insluitend studies wat faktore soos dieetpatrone en hoërisikotoestande soos suikersiekte in ag neem. Byvoorbeeld, diabete kies gereeld dieetprodukte en neem só baie meer aspartaam in.

 

Wat is ʼn veilige hoeveelheid?

Die WGO en die Food and Agriculture Organization of the United Nations (FAO), gesamentlik bekend as JECFA, beskou ʼn daaglikse inname van 40 mg per kilogram van jou liggaamsgewig veilig vir menslike gebruik. Om by hierdie hoeveelheid uit te kom, sal ʼn volwassene wat 70 kg weeg meer as nege tot 14 blikkies dieetkoeldrank (wat 200 mg tot 300 mg aspartaam bevat) per dag moet drink.

Die FDA het ʼn effens hoër daaglikse hoeveelheid van 50 mg/kg goedgekeur. Dit is gelykstaande aan ʼn gemiddeld van 75 pakkies kommersiële aspartaam. So vra jouself: kan of sou jy ooit só ʼn groot hoeveelheid versoeter inneem?

 

Wat ons weet

  • JECFA en die International Agency for Research on Cancer (IARC) dui dat daar “beperkte bewyse” is dat aspartaam kanker in mense veroorsaak en het die daaglikse aanvaarbare hoeveelheid wat ingeneem kan word, bevestig.
  • Volgens Dr Moez Sanaa, die WGO se Eenheidhoof van Standaarde en Wetenskaplike Raad oor Kos en Voeding, het JECFA die bestaande navorsing nagegaan en “bevind dat die bewyse van ʼn verband tussen aspartaaminname en kanker in mense nie oortuigend is nie”.

Verder het albei komitees stappe geneem om te verseker dat hulle bevindinge onafhanklik en betroubaar is. Nuwe data word deurgaans gemoniteer en ondersteuning vir onafhanklike navorsingsgroepe (om nog studies te ondergaan) geniet voorkeur.

Ten slotte, soos in die meeste gevalle, is matigheid die geheim. Hou jou versoeterinname dop en vermy ongesonde opsies soos koeldrank en verwerkte kosse. Maar moet jy bekommerd wees oor die versoeter in jou koppie tee? Nee. Vat nog ʼn sluk en geniet dit.


Share this on: