Back 13 Jul, 2026 - Medihelp

Back

ADHD: Nie ’n gril, modegier of neiging nie

ADHD: Nie ’n gril, modegier of neiging nie

ADHD is ’n werklike toestand, nie ’n modegier nie.
Read more

Kenners is bekommerd oor die gevaar van aandaggebrek-hiperaktiwiteitsversteuring (ADHD) wat toenemend afgemaak word. Dit word gesien as ’n modegier, ’n eksentrieke persoonlikheidseienskap of ’n gerieflike etiket vir “kinders vandag” (of selfs volwassenes) wat se aandag maklik afgetrek word, baie energie het of effens ongeorganiseerd is. Lees waarom dié etiket ernstig opgeneem moet word.

Werksplekwelstandsielkundige Charissa Bloomberg verduidelik dat ADHD dikwels verkeerd verstaan word. Dit word óf as ’n gier afgemaak, óf oorgebruik as ’n sambreelterm. Maar volgens groot mediese en sielkundige liggame wêreldwyd, waaronder die Centers for Disease Control en die American Psychiatric Association, is ADHD ’n erkende neuro-ontwikkelingsversteuring.

Mense met ADHD se aandag, impulsbeheer, emosionele regulering en daaglikse funksionering word beïnvloed. Die uitdagings is aanhoudend, beperkend en dikwels uitputtend.

Om ADHD as “’n modegier” af te maak, ontken die werklike uitdagings en ondersteuning wat mense met dié toestand nodig het om te floreer.

Die werklikheid van ADHD

Mel Robbins, New York Times-topverkoperskrywer, motiveringspreker, podsendingaanbieder en voormalige prokureur, is self eers op 47-jarige ouderdom met ADHD gediagnoseer. Hy beskryf hoe dit voel om die ADHD-brein te probeer bestuur.

"Die meeste mense se prefrontale korteks is soos ’n dirigent wat al die verskillende geluide van orkeslede wat hul instrumente uitpak en instem kan inneem. Wat aandag betref, kan hulle die stokkie oplig en byvoorbeeld na die houtblaasinstrumente wys wat te hard speel en 'Sjuut!' sê.

"Só kan hulle die geraas binne én buite hulle stil maak sodat hulle op iets anders of iets spesifieks kan fokus. [Hulle kan sê:] 'Haai, snare, dis julle tyd om te skitter!' Mense met ADHD," verduidelik sy, "sukkel om só oor te skakel.

"Hulle het nie die dirigent in hul breine nie."

Problematiese diagnostiese kriteria

In hierdie YouTube-onderhoud dring die bekende Australiese psigiater Professor Pat McGorry aan op nuwe regulasies rondom ADHD-diagnoses om te verhoed dat die toestand as ’n modegier beskou word.

"[ADHD] raak oor die algemeen miskien vyf persent van die bevolking, nie 50 persent nie," verduidelik hy.

"Alhoewel ADHD 'n werklike en ernstige toestand is, weerspieël die onlangse toename in diagnoses problematiese diagnostiese kriteria. Dit lei moontlik tot oordiagnose van ligte gevalle en trek ons aandag af van 'n werklike onderdiagnose – veral by volwasse vroue wat as kinders misgekyk is weens verouderde, manlikgesentreerde diagnostiese modelle.

"Daar is 'n werklike behoefte aan meer sorg vir jong mense… En ek dink ons moet verseker dat die behandeling wat beskikbaar is, aan dié gegee word wat dit werklik nodig het."

Die rol van die verkeerde etiket

Die term ADHD word losser as ooit gebruik. In alledaagse gesprekke en op sosiale media beskryf mense gewone vergeetagtigheid as “ADHD”. Verveeld raak in ’n vergadering word beskryf as “my lastige ADHD” of mense aanvaar outomaties dat 'n kind se impulsiewe gedrag 'n diagnose beteken.

So het #ADHD byvoorbeeld meer as vier miljoen plasings en ten minste 11,4 miljard kyke op TikTok. En sodra jy van 'n video oor 'n sekere onderwerp hou, bly soortgelyke video's op jou For You Page verskyn. Mettertyd beïnvloed dit hoe jy oor die onderwerp dink.

Normale beperkings van aandag

Maar om soms met motivering te sukkel, onrustig te wees wanneer jy gestres is of verstrooid te voel wanneer jy onder druk is, beteken nie outomaties dat jy ADHD het nie.

Mense se aandag het beperkings. Ons almal het dae wanneer ons dinge uitstel, ons sleutels verloor of nie kan konsentreer nie.

Bloomberg beklemtoon dat "nie alle fokusprobleme ADHD beteken nie". ADHD is anders omdat dit ’n langtermynpatroon is, in verskeie omstandighede voorkom (nie net in een klas of tydens een veeleisende projek nie) en die individu se lewe beduidend beïnvloed, soos in Robbins se bogenoemde voorbeeld van die orkes.

"In Suid-Afrika maak ongelyke toegang tot behoorlike assessering akkurate diagnose noodsaaklik. Dit gaan nie oor aandag wat nou en dan afgelei word nie," sê Bloomberg. "Dit gaan oor aanhoudende patrone wat die daaglikse lewe beïnvloed."

Wat is ADHD?

So, hoe verstaan die wetenskap tans ADHD in eenvoudige taal?

ADHD is nie “slegte gedrag” nie. Dit is nie 'n morele mislukking, luiheid of 'n gebrek aan wilskrag nie.

Dit word ook nie deur 'n enkele faktor soos suiker, skermtyd of “swak ouerskap” veroorsaak nie. Navorsing dui dat ADHD sterk deur genetika en verskille in breinontwikkeling en ‑funksionering beïnvloed word, veral wat betref die netwerke betrokke by aandag, selfregulering en uitvoerende funksionering (die breinvaardighede wat jou help om take te beplan, begin en voltooi).

Dis hoekom ADHD kan lyk soos aanhoudende gesukkel om aandag te hou, tyd te bestuur, tussen take te wissel, stappe te onthou of impulse en emosies te reguleer – selfs wanneer iemand hard probeer en werklik omgee.

Wat is ADHD nie?

Dit is ook belangrik om duidelik te maak wat ADHD nié is nie. Dit is nie bloot 'n kind wat nie stil kan sit nie. Dit is nie altyd ooglopende hiperaktiwiteit nie.

By baie mense – veral meisies en vroue – kom daar eerder innerlike onrustigheid, dagdromery, ’n gevoel van oorweldiging, angs of perfeksionisme voor, wat hul innerlike chaos verberg.

ADHD word nie op ’n eenvoudige manier “deur dieet veroorsaak” soos mense soms beweer nie, en dit is nie iets wat jy met strenger reëls uit 'n kind uit kan kry nie. Goeie struktuur help, ondersteunende ouerskap help en gesonde roetines help. Maar dit is bloot hulpmiddels om die versteuring te bestuur en spreek nie die oorsaak aan nie.

Waarom lyk dit soos ’n gier?

Waarom voel dit of ADHD tans ’n modegier is? Een rede is bewusmaking. Meer volwassenes begin lewenslange patrone raaksien wat misgekyk is in hul kinderjare – veral as hulle presteerders was, stil was of bloot as “slordig”, “emosioneel” of “ongemotiveerd” bestempel is.

'n Ander rede is die moderne aandagomgewing. Kortformaat-inhoud, aanhoudende kennisgewings, chroniese stres, swak slaap en eindelose bedrywigheid kan enigeen lomerig, reaktief en ongefokus laat voel.

Wanneer mense so voel, word ADHD die beste “verklaring”, selfs al is die werklike probleem eintlik uitbranding, angs, depressie, trauma, gebrek aan slaap en/of oorlaai wees.

Die belang van leefstyl

Dis waar kommentaar soos dié van Robbins werklik aanklank vind: leefstyl maak saak. Slaap, stres, eetpatrone, beweging, roetine en eksterne struktuur kan sterk beïnvloed hoe ADHD-simptome daagliks voorkom. Selfs sonder ADHD kan hierdie faktore ADHD naboots. En mét ADHD kan dit simptome dramaties beter – of soveel erger – laat voel.

Leefstyl is nie 'n geneesmiddel nie, maar dit kan 'n kragtige ondersteuningstelsel wees. Meer struktuur, beter slaapgewoontes, minder afleidings en realistiese beplanning kan die brein help om te doen wat dit reeds moeilik vind: reguleer, prioritiseer en deurvoer.

Behandeling wat verder as leefstyl strek

Bloomberg stem saam dat leefstylgewoontes soos gesonde eetpatrone noodsaaklik is. Verdere behandeling, sê Bloomberg, moet 'n mengsel van benaderings insluit: "Kognitiewe gedragsterapie (KGT) vir volwassenes, ouerleiding en skoolondersteuning vir kinders, medisyne en roetines wat stres verminder, soos bewustheid (mindfulness), meditasie en joga."

Mel Robbins se wenke om ADHD te bestuur

Volg die vyf-sekonde-reël

Tel agteruit van vyf ("5, 4, 3, 2, 1, GAAN!") om uitstelgedrag te onderbreek en dadelik met 'n nuwe taak te begin.

Gebruik hulpmiddels om tyd te bestuur

Oorkom “tydblindheid” met foonherinneringe en -wekkers om verpligtinge na te kom.

Bou ’n grondslag van goeie leefstylkeuses

Genoeg slaap, 'n gesonde dieet en gereelde oefening is uitstekend vir breinmetabolisme en om angs te verminder.

Breek take op

Skei oorweldigende doenlyste in kleiner, hanteerbare dele om dit minder skrikwekkend te laat lyk en 'n gevoel van prestasie te kweek.

Kry professionele ondersteuning

KGT, mediese konsultasies en ander wetenskaplik-gestaafde strategieë, tesame met selfontferming om lae selfbeeld te bekamp, is nuttig in die effektiewe bestuur van ADHD.

 

Duidelikheid lei tot geskikte behandeling

Die boodskap is: neem jou aandaguitdagings ernstig op, maar moenie jouself te vinnig etiketteer nie. As jy vermoed dat jy ADHD het, kry 'n behoorlike evaluering by 'n gekwalifiseerde praktisyn wat na jou geskiedenis, jou funksionering in verskeie omstandighede en moontlike oorvleuelende toestande kan kyk.

'n Werklike diagnose gaan nie oor 'n “identiteit wat die in-ding is” nie. Dit gaan oor duidelikheid sodat jy die regte gereedskap, akkommodasies en ondersteuning kan kry. Bloomberg brei uit dat "deeglike, kontekstuele evaluering help om verby etikette na praktiese ondersteuning te beweeg".

’n Komplekse diagnose wat ernstig opgeneem moet word

ADHD is nie ’n gril of ’n modegier nie. Dit is werklik, kompleks en hanteerbaar met die regte hulp. Robbins sê dit die beste wanneer sy 'n ADHD-diagnose vergelyk met die ontdekking dat jy diabetes het en verduidelik hoe belangrik vroeë diagnose (verkieslik in die kinderjare) is. Die mikpunt is om gesonde hanteringsmeganismes aan te leer om sodoende die beste moontlike uitkomste in die lewe te kan bereik.

Geskryf deur Vanessa Rogers, met redaksionele verfyning deur Medihelp


Share this on: