Die 2019-belastingseisoen het afgeskop en as jy ‘n lid is van ’n mediese fonds is jy geregtig op ’n belastingkrediet vir jou mediese uitgawes.
Wat is belastingkrediete vir mediese uitgawes?
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal ’n gedeelte van jou gesondheidsorguitgawes vir ’n spesifieke jaar in ’n belastingkrediet vir mediese uitgawes omskakel. Dit is ’n nieterugbetaalbare belastingkorting wat afgetrek word van die totale belastingbedrag wat jy aan die SAID verskuldig is.
Die belastingkrediet vir mediese uitgawes bestaan uit twee bedrae, naamlik die belastingkrediet vir bydraes tot ’n mediese fonds en die belastingkrediet vir addisionele mediese uitgawes aangegaan.
Belastingkrediet vir bydraes tot ’n mediese fonds
Dit is van toepassing op die bydraes wat jy ten opsigte van jou en jou afhanklikes aan ’n geregistreerde mediese skema betaal het. Dit is ’n vaste maandelikse bedrag wat toeneem na gelang van die aantal geregistreerde afhanklikes op jou mediese fonds.
Belastingkrediet vir addisionele mediese uitgawes aangegaan
Benewens die belastingkrediet vir bydraes tot ’n mediese fonds kan jy ook geregtig wees op ’n belastingkrediet vir sekere kwalifiserende mediese uitgawes deur jou en/of jou afhanklikes aangegaan maar wat nie deur jou mediese fonds betaal is nie. Hierdie belastingkorting word bereken op grond van faktore soos ’n persoon se ouderdom, en kwalifiserende mediese uitgawes is onderhewig aan ’n perk.
Jou mediesefondsbelastingsertifikaat
Medihelp voorsien jou van ’n belastingsertifikaat om die mediese gedeelte van jou jaarlikse belastingopgawe te voltooi. Jou belastingsertifikaat vir die tydperk vanaf 1 Maart 2018 tot 28 Februarie 2019 weerspieël die volgende:
- Jou maandelikse medieseskemabydraes;
- ’n Maandelikse uiteensetting van die hooflid en alle aktiewe afhanklikes se bydraes;
- Die totale rente verdien op enige positiewe saldo's in jou persoonlike mediese spaarrekening (van toepassing op lede wat op Medihelp se spaarplanne ingeskryf is); en
- Eise wat nie deur Medihelp betaal is nie. (Belangrik: Hierdie bedrag weerspieël slegs mediese uitgawes wat jy van Medihelp geëis het maar wat deur die Skema verwerp is. Alle ander mediese uitgawes moet jy afsonderlik indien.)
Medihelp-lede kan hul belastingsertifikate op Medihelp se Member Zone aflaai:
1. Teken aan op die Member Zone.
2. Klik op Belastingsertifikate op die tuisblad.
3. Kies die belastingjaar en afleweringsmetode.
Waar om ’n gedetailleerde lys van al jou eise te kry
Jy kan ’n volledige lys van al jou eise op die Member Zone sien. Klik net op Eise en kies dan Eisestate.
Soek jy advies oor die beste Medihelp-produk vir jou? Kry ’n kwotasie of praat met ’n adviseur wat jou kan help om die regte keuse vir jou gesondheidsorgbehoeftes te maak.