Back 13 Aug, 2024 - Floreer!

Back

Sit jou beste voet voor: Wenke vir gesonde voete

Sit jou beste voet voor: Wenke vir gesonde voete

Sit jou beste voetjie voor deur mooi na jou voete om te sien.
Read more

Ons voete is ons grootste ondersteuners. Hulle verseker balans, voorkom dat ons val en neem ons van een plek na ’n ander. As jy die aanbevole riglyn van 10 000 treë per dag volg, lê jou voete sowat 3,6 miljoen treë per jaar af! Het jy egter geweet dat jou voete, net soos jou hande, allerlei gesondheidsgeheime kan verklap?

Wat jou voete oor jou gesondheid sê

  • Geswelde voete

    Aanhoudende swelling kan dui op swak sirkulasie, hartprobleme of niersiekte. As die swelling nie wil wyk nie, raadpleeg jou dokter.

  • Koue voete

    Voete wat koud bly, kan ’n teken wees van swak bloedvloei, wat dikwels met toestande soos diabetes of perifere arteriesiekte verbind word.

  • Verkleurde naels

    Geel of verdikte naels kan op ’n swaminfeksie dui. Wit kolle kan as gevolg van ’n sinktekort wees, terwyl blou of pers naels ’n teken van sirkulasieprobleme kan wees.

  • Voetkrampe

    Gereelde krampe kan die gevolg van dehidrasie, voedingstekorte (soos magnesium of kalium) of ooreising wees.

  • Gevoelloosheid

    Dit kan ’n aanduider van senuweeskade wees, wat met diabetes verband kan hou. As jy aanhoudende gevoelloosheid ervaar, kry mediese raad.

  • Sere wat nie genees nie
    Sere wat nie gesond wil word nie, kan ’n teken van diabetes of swak sirkulasie wees. Dit vereis onmiddellike mediese aandag.

’n Skoen wat netjies pas

Die skoene wat ons dra, speel natuurlik ook ’n rol in voetgesondheid. Die voetkundige Simran Kalyan gee die volgende wenke vir wanneer jy die skoenwinkel invaar.

  • Korrekte grootte

    Skoene moet nie te groot, los, klein of styf wees nie. Daar moet ’n vingergrootte spasie tussen jou skoen se hak en voet wees.

  • Kouse

    Kies die regte kouse. Bamboessokkies laat lug deur en is ideaal as jou voete baie sweet. Dra ook altyd skoon kouse om infeksies te voorkom.

  • Leerskoene

    Egte leer “haal asem” en neem mettertyd jou voetvorm aan.

  • Draf- en stapskoene

    Loop jou skoene in om blase te vermy. Onthou, kousdikte het ’n invloed op hoe styf jou skoene sit.

  • Veiligheidstewels en -skoene

    Maak seker jou skoene is geskik vir jou werksomstandighede. Skoene wat behoorlik pas, is belangrik vir veiligheid én gemak.

  • Formele skoene

    Beperk die dra van hoëhakskoene, vermy skoene wat heeltemal plat is, en vermy ’n baie gepunte toondeel. Mans moet baie smal, plat skoene vermy.

  • Tekkies en ontspanningsdrag
    Kies toe skoene met veters of ’n kleefstrook (“Velcro”) en ’n breë toongedeelte. Maak seker dat dit kussing- en brugsteun bied.

Wenke vir voetsorg

Om na jou voete om te sien, is noodsaaklik vir jou algehele welstand. Hier is ’n paar wenke om jou voete gesond te hou.

  • Was en droog deeglik af

    Was jou voete daaglik met seep en water, en maak seker dat jy goed afdroog, veral tussen jou tone, om swaminfeksies te voorkom.

  • Bevogtig

    Wend ’n goeie voetroom aan om die vel sag en soepel te hou en krake te voorkom wat tot infeksies kan lei.

  • Knip naels reg

    Sny jou toonnaels reguit en moenie dit te kort knip nie. Dit sal ingroeinaels voorkom.

  • Dra die regte skoene

    Kies skoene wat behoorlike ondersteuning bied. Moenie elke dag dieselfde skoene dra nie; gee jou skoene kans om bietjie asem te haal.

  • Gebruik sonskerm

    Beskerm jou voete teen sonbrand deur sonskerm aan te smeer, veral as jy ooptoonskoene of sandale dra.

  • Oefen gereeld

    Neem deel aan aktiwiteite wat jou voete soepel en sterk hou, soos stap, strek- of voetoefeninge.

  • Hou ’n ogie
    Ondersoek jou voete gereeld vir enige veranderinge of abnormaliteite en raadpleeg ’n dokter as jy iets ongewoons opmerk.

Deur mooi na jou voete om te sien en die regte skoene te dra, kan jy voetprobleme voorkom en verseker dat jou voete jou nog vir jare sonder sukkel oor berge en dale kan dra.


Share this on: