Back 18 Aug, 2021 - Gesondheidsbewustheid

Back

Vorm ’n band met jou baba

Vorm ’n band met jou baba

Probeer terugdink aan die laaste keer toe jy jou baba gekoester en met hom of haar gespeel het, en ’n golf van positiewe emosies jou oorspoel het. Dit was waarskynlik nie lank gelede nie – wanneer jy jou baba aanraak, troetel en ruik, stel jou liggaam die hormoon oksitosien vry wat onmiddellik ’n gevoel van warmte en liefde by jou ontlok.
Read more

Probeer terugdink aan die laaste keer toe jy jou baba gekoester en met hom of haar gespeel het, en ’n golf van positiewe emosies jou oorspoel het. Dit was waarskynlik nie lank gelede nie – wanneer jy jou baba aanraak, troetel en ruik, stel jou liggaam die hormoon oksitosien vry wat onmiddellik ’n gevoel van warmte en liefde by jou ontlok. Dis geen wonder dat ons meer daarvan wil hê nie!

Binding is ’n oeroue en fisiologiese ervaring. Dit neem tyd vir babas om aan hulle ouers geheg te raak na gelang van hulle fisieke en emosionele interaksie met hul ouers. Versorging, volgehoue liefde en interaksie sal met tyd verwagtingspatrone in ’n baba se brein skep.

Hoe babas geheg raak

Gehegtheid begin binne die eerste ses weke na geboorte ontwikkel wanneer jou baba leer dat interaksie genotvol is. Indien mamma byvoorbeeld my magie vryf, voel dit lekker; as ek vir pappa glimlag, sal hy vir my glimlag. Dit vestig ’n patroon van baba wat goeie dinge van die wêreld verwag.

Op ses weke begin babas reageer om te wys dat hulle kontak maak met iemand vir wie hulle lief is. Konsekwente sorg – met ander woorde, om teenwoordig te wees en in jou baba se behoeftes te voorsien – is uiters belangrik om hierdie gehegtheid te ontwikkel.

Tussen sewe en nege maande kan jou baba moontlik vreemdelingangs ontwikkel – die vrees om by ander mense as by jou gelos te word. Dit kan ’n moeilike tyd vir die baba en die ouers wees, maar sy of haar gehegtheid aan jou sal weldra afneem en hy of sy sal minder angstig wees namate hy of sy leer dat dit moontlik is om sonder jou klaar te kom. Dit is belangrik dat babas hierdie vermoë ontwikkel om hulleself te troos en hul emosies te beheer, want só leer hulle belangrike sosiale vaardighede aan.

Hoe om ’n band met jou baba te vorm

Die goeie nuus is dat dit nie moeilik is om ’n band met jou baba te vorm nie. Hier is vier beginsels om te onthou:

Speel met jou baba. Deur te speel, leer jou baba meer van die wêreld. Julle kan met speelgoed speel, gesigsuitdrukkings gebruik of speletjies vir kinders speel. Koekeloer is ’n goeie voorbeeld van ’n skeidingspeletjie en leer babas dat wanneer jy “verdwyn”, is jy nie vir altyd weg nie. Dit sal help dat hulle nie later sukkel wanneer hulle in ander se sorg geplaas word nie.

Raak aan jou baba. Babas gebruik hoofsaaklik hulle voelsintuig om die wêreld te verken, en positiewe aanraking leer hulle dat hulle wêreld veilig is.

Taal – verbaal sowel as nieverbaal – is ’n uiters belangrike element van sosialisering en kontak maak met ander mense. Deur met jou baba te praat, oogkontak te maak en te glimlag, leer hom of haar om met taal te reageer.

Konsekwentheid is van sleutelbelang om jou baba se siening van die wêreld te help vorm. ’n Voorbeeld is om elke keer te glimlag en tatta te sê wanneer jy loop en vrolik hallo sê wanneer jy terugkeer. Só leer jy vir jou baba dat skeiding nie iets is om voor bang te wees nie. Gevolglik sal hy of sy met die tyd saam meer selfgeborge en selfstandig word.

Gebruik hierdie vier beginsels elke dag konsekwent om te help dat jou baba op ’n prettige manier meer van die wêreld leer, en terselfdertyd julle band te versterk.


Share this on: