Back 16 Feb, 2021 - COVID-19

Back

Vrae en antwoorde oor die COVID-19-inentingsproses

Vrae en antwoorde oor die COVID-19-inentingsproses

Medihelp is deel van die Funders Working Group en verskeie taakspanne wat saam met die Raad vir Mediese Skemas werk en insette gee op die nasionale departement van gesondheid se inentingsraamwerk. Dit is ons prioriteit om aktief aan hierdie proses deel te neem en dit te ondersteun, aangesien dit van wêreldwye belang is.
Read more

Medihelp is deel van die Funders Working Group en verskeie taakspanne wat saam met die Raad vir Mediese Skemas werk en insette gee op die nasionale departement van gesondheid se inentingsraamwerk. Dit is ons prioriteit om aktief aan hierdie proses deel te neem en dit te ondersteun, aangesien dit van wêreldwye belang is. Lede kan gerus wees dat hulle toegang tot die entstof sal hê in ooreenstemming met die nasionale prioritiseringsprotokolle en dat die Skema hulle inentings as VMV sal dek.

Watter entstowwe sal eerste beskikbaar wees?
Die eerste besending entstowwe wat in Suid-Afrika ontvang is, is ontwikkel deur AstraZeneca in samewerking met die Universiteit van Oxford, en is deur die Serum-instituut van Indië (SII) vervaardig. Die inentingsproses wat vandeesweek sou begin, is egter tydelik uitgestel weens kommer oor die doeltreffendheid van die entstof teen die 501Y.V2-variant.

Volgens navorsing is die AstraZeneca-entstof aansienlik minder doeltreffend teen die variant en het twee toedienings van die entstof nie teen geringe tot matige COVID-19-gevalle beskerm nie. Hoewel die entstof wel in ernstige gevalle doeltreffend kan wees, is dit nog nie in kliniese proewe bevestig nie.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die AstraZeneca-entstof veilig is; die kommer hou uitsluitlik verband met die doeltreffendheid daarvan teen die 501Y.V2-variant.

Daar is intussen sowat 117 000 dosisse van Pfizer se entstof na Suid-Afrika op pad. Gesprekke word ook op internasionale vlak gehou om die implementering van die Johnson & Johnson-entstof vir plaaslike gesondheidswerkers in Suid-Afrika te bespoedig. Sodra goedkeuring deur SAHPRA verleen is, sal dit ook in Suid-Afrika beskikbaar gestel word as deel van die inentingsprogram.

Hoe sal die nasionale implementeringsprotokol werk?

Die landwye implementering sal in drie fases geskied volgens die regering se prioritiseringsprotokol, wat op internasionale protokolle gebaseer is, met gesondheidsorgwerkers in die voorste linies wat eerste ingeënt sal word en daarna noodsaaklike werkers, persone met ’n hoë risiko wat blootgestel is, en dan die res van die bevolking:

Fase 1
Gesondheidsorgwerkers in die voorste linie (1,2 miljoen)

Fase 2
  • Noodsaaklike werkers
  • Individue in afgebakende gemeenskappe (waar mense digby mekaar werk en/of leef)
  • Individue ouer as 60
  • Individue ouer as 18 met komorbiditeite (16 miljoen)

Fase 3
Alle individue ouer as 18 (22,5 miljoen)

Wie kan eerste vir die entstof registreer?
Alle gesondheidsorgwerkers (enige persoon wat met pasiënte werk), insluitend Medihelp-lede wat aktiewe gesondheidsorgwerkers is, kan eerste registreer op die aanlyn elektroniese inentingsdatastelsel (EVDS). Hierdie volledige inentingsgesondheidstelsel is ’n selfregistrasieportaal waar gesondheidswerkers wat ingeënt wil word, kan registreer en aandui waar hulle werk sodat bepaal kan word waar hulle die inenting moet ontvang. Hulle sal ’n SMS ontvang wat bevestig dat hulle op die stelsel geregistreer is en verdere SMS’e wat hulle meedeel waar en wanneer die eerste en tweede (indien toepaslik) dosisse beskikbaar sal wees. Nadat die inenting voltooi is, sal die stelsel ’n inentingsertifikaat op versoek uitreik. Inenting is vrywillig en daar sal rekord gehou word van alle persone wat ingeënt is.

Ons wil alle lede wat as gesondheidsorgwerkers in die voorste linie werk, aanraai om by vaccine.enroll.health.za. te registreer. Die stelsel prioritiseer gesondheidsorgwerkers en lê hulle kontakbesonderhede vas sodat hulle gekontak kan word om die toepaslike dosisse van die entstof asook hul inentingsertifikaat te ontvang. Die stelsel sal hulle ook versoek om besonderhede van hul mediese fonds te gee, om vas te stel watter persone deur ’n mediese skema gedek is.

Wanneer sal die entstof beskikbaar wees vir lede wat nie gesondheidsorgwerkers is nie?
Sodra die eerste fase voltooi is, sal lede die entstof ontvang in die volgorde soos uiteengesit in die fases waarvolgens voorkeur gegee word aan mense wat in die voorste linies werk en kwesbaar is, soos deur die departement van gesondheid bepaal.

Waar kan lede die inenting kry?
Slegs geakkrediteerde inentingsentrums het toegang tot die entstof. Medihelp is tans in gesprek met ons gesondheidsorgverskaffersnetwerke wat vir akkreditasie en registrasie sal kwalifiseer en ons lede sal kan inent. Ons sal u op hoogte hou van die vordering hiermee.

Moet jy ingeënt word indien jy reeds COVID-19 gehad het?
Die immuniteitsvlak nadat jy COVID-19 opgedoen het, is nie voldoende om jou te beskerm nie en daarom moet jy beslis ingeënt word, aangesien die entstof doeltreffender teenliggaampies vervaardig wat jou sal beskerm teen ernstige siektes sou jy weer die virus opdoen.

Hoe sal die entstof befonds word?
Inenting vorm deel van die voorgeskrewe minimum voordele protokol vir COVID-19, wat beteken dat die entstof en die toedien daarvan op alle opsies vir alle bevoordeeldes befonds sal word volgens die VMV-kriteria en kliniese riglyne, en Medihelp het fondse vir hierdie dekking bewillig.

Sal die entstof verpligtend wees?
Die regering het bevestig dat inenting teen COVID-19 nie in Suid-Afrika verpligtend sal wees nie, hoewel dit sterk aanbeveel word. Aangesien die COVID-19-entstof vir VMV kwalifiseer, moet alle mediese skemas dekking vir COVID-19-inenting bied ingevolge die Wet op Mediese Skemas. Medihelp-lede wat besluit om die inenting te ontvang, sal dus ten volle gedek wees vir entstowwe wat deur SAHPRA goedgekeur is.

Kort meningsopname onder lede deur die Raad vir Mediese Skemas (RMS)
Om te bepaal of lede van mediese skemas die inentingsprogram ondersteun, doen die RMS ’n opname oor COVID-19-inenting onder mediesefondslede met die doel om die uitslag van die opname vir beplanning en kommunikasie te gebruik.

Deelname aan die opname is vrywillig. Die vraelys is hier beskikbaar.

Moet jy steeds veiligheidsprotokolle nakom nadat jy ingeënt is?
Gaan asseblief voort om die veiligheidsmaatreëls toe te pas, ook gedurende die inentingsproses en nadat jy ingeënt is, aangesien die inentingsproses lank sal neem voordat die gevaar van infeksie afneem.


Share this on: