Back 03 Nov, 2023 - Medihelp

Back

Vyf eienskappe van ’n verantwoordelike mediese skema

Vyf eienskappe van ’n verantwoordelike mediese skema

Die mediesefondsbedryf het geweldig oor die afgelope paar dekades ontwikkel.
Read more

Verskeie faktore maak dit moeilik vir mediese skemas om te oorleef: regulatiewe voorskrifte, Suid-Afrika se sosio-ekonomiese landskap, die verval van die openbaregesondheidsorgsektor, die gebrek aan ’n nasionale tariefstruktuur, die opkoms van mediese versekering en die COVID-19-pandemie, om net ’n paar te noem.

Die impak van hierdie faktore is duidelik in die statistiek. In die jaar 2000 was daar 144 mediese skemas in Suid-Afrika. In 2020 het hierdie getal na 76 afgeneem en nou is daar net 71 Suid-Afrikaanse mediese fondse oor.

Johan Viljoen, waarnemende hoofbeampte van Medihelp mediese fonds, voer aan: “In hierdie konteks is dit maklik om tot die gevolgtrekking te kom dat jy beslis verantwoordelik opgetree het as jy ná meer as ’n eeu nog bestaan. As jy reeds vir 118 jaar sake doen, beteken dit nie noodwendig dat jy alles reg gedoen het nie, maar ek glo dit beteken dat jy die meeste dinge reg gedoen het.

“Deesdae beteken fopnuus, verdagte besighede en algehele swak kliëntediens dat mediese skemas hulle fokus op voortreflikheid moet verhoog en steeds verantwoordelike besluite moet neem om relevant en mededingend te bly.”

Om te bepaal of ’n mediese fonds op die lange duur ’n lewensvatbare keuse is en altyd verantwoordelik en in die beste belang van hul lede optree, is daar vyf vrae wat jy moet vra.

1. Bied die skema dit wat verbruikers nodig het en wil hê?

Geen skema kan alles vir almal wees nie. ’n Mediese fonds wat graag gehoor wil gee aan dit wat mense wil hê, moet eerstens ’n duidelike sin van sy identiteit, aanbiedinge en gewenste teikenmark hê.

Voordele soos chroniese medisyne, knie- en heupvervangings en gehoorapparate is byvoorbeeld belangrik vir ouer lede. Dit is egter nie wat meeste jonger mense wil hê nie.

So as ’n skema mense wil lok wat pas universiteit verlaat het, moet die ontwerp van voordele en die dienste wat gebied word aan hul behoeftes voorsien. Bemarking en kommunikasie moet ook pas by die teikenmark en op digitale kanale, sosiale media, apps en aanlynkletsfasiliteite met hulle verkeer.

2. Het hulle ’n strategie om te groei?

Die eeue-oue gesegde dat dit veiliger is in ’n groep is ook op mediese skemas van toepassing. Dis algemene kennis in die bedryf dat mense wat minder dekking nodig het dié wat meer dekking nodig het, ondersteun. En daarvoor het jy groot getalle nodig.

Maar al is die strewe na groei ’n belangrike aspek om in ag te neem, kan ’n beleid van groei ten alle koste ’n skema op die lang termyn duur te staan kom. As ’n mediese fonds groei met gesonde lede wat minder eis as wat hulle bydra, is dit ’n baie beter manier om volhoubaar die toekoms in te gaan.

3. Bestuur hulle hul fondse op ’n verantwoordelike manier?

Dis belangrik om ’n fyn balans tussen voldoende dekking aan lede vir toegang tot mediese sorg van gehalte, bekostigbaarheid van hierdie dekking en die langtermyn finansiële stabiliteit van die mediese skema. Dis nie nodig om te verduidelik hoekom dit belangrik is vir ’n mediese fonds om sy uitgawes só te bestuur dat die solvensieverhouding en vermoë om eise te betaal heel eerste beskerm is nie.

4. Bestuur die skema sy risiko’s effektief?

’n Skema se grootste koste-aandrywer ten opsigte van gesondheidsorguitgawes is hospitaalkostes. Om volhoubaar te bly, moet hulle hul risiko’s bestuur deur bestuurdesorginisiatiewe te implementeer en tariewe te onderhandel. Wanneer ’n skema daarin slaag om lede gesond en uit die hospitaal te hou, kan gesondheidsorguitgawes daadwerklik afneem. Die uiteinde is die vermoë om jaarlikse ledegeldverhogings laag te hou, wat op sy beurt tot stewige ledegroei bydra en tot langtermynvolhoubaarheid lei.

5. Wat is die standaard van hulle diens?

’n Verantwoordelike skema maak seker dat die standaard van diens altyd uitstekend is. Hulle weet hoe lede en belanghebbendes met hulle wil skakel en maak dit moontlik. Hulle stel kliëntesorgskonsultante aan wat kundig en hulpvaardig is.

’n Verantwoordelike, volhoubare skema is dus een wat produkte voorsien wat kwaliteitoplossings vir gesondheidsorg bied om by te dra tot die algemene welstand van lede, bekostigbaar is, ledegroei en -behoud dryf en terselfdertyd risiko’s bestuur om koste te verminder. En hulle lewer ’n diens wat industrietoekennings wen,” sluit Viljoen af.

Neem kennis: Medihelp se diens is in die mediesefondskategorie van die 2023-Ask Afrika Orange Index as die beste beoordeel.

Besoek www.medihelp.co.za om meer te lees oor ons planne.

Medihelp is 'n gemagtigde verskaffer van finansiële dienste (FSP No 15738)


Share this on: