Back 18 Nov, 2020 - Gesondheidsbewustheid | HealthPrint

Medihelp

By Medihelp

Back

Wêreld Diabetes Dag: Soeklig op bloedsuiker

Wêreld Diabetes Dag: Soeklig op bloedsuiker

Meer as 4,5 miljoen Suid-Afrikaners ly aan diabetes, ’n groep siektes wat ontstaan weens te veel suiker in die bloedstroom.
Read more

Diabetes mellitus affekteer miljoene mense wêreldwyd – volgens die Internasionale Diabetesfederasie is daar net in Suid-Afrika meer as 4,5 miljoen mense wat met diabetes mellitus 1 of 2 gediagnoseer is. Met Wêreld Diabetes Dag wat jaarliks op 14 November gevier word, kyk ons na die uitwerking van hierdie groep siektes op die manier waarop jou liggaam werk met glukose, die suiker in jou bloedstroom.

Hoe jou liggaam jou bloedsuikervlak reguleer

Wanneer jou liggaam die kos verteer wat jy eet, skakel dit die koolhidrate in die kos om na glukose, wat in die bloedstroom opgeneem en só deur die liggaam vervoer word. Glukose is noodsaaklik om te verseker dat jou liggaam behoorlik funksioneer en is die liggaam se vernaamste bron van energie. Soos wat die glukosevlak in jou bloedstroom styg, stel die pankreas insulien vry – ’n hormoon wat help dat die glukose deur die verskillende selle in die liggaam opgeneem word. Sommige van die glukose word in die lewer, spiere en vetselle geberg, waar dit in glikogeen omskep word. Namate jou liggaam die glukose gebruik en glikogeen berg, verlaag jou bloedsuikervlak en hoef insulien nie meer vrygestel te word nie.

Indien jy vir ’n paar ure nie geëet het nie, sal die glukosevlak in jou bloedstroom val. Gevolglik begin die pankreas om ensieme af te skei wat die gebergde glikogeen weer terugskakel na glukose, om deur die liggaam se selle gebruik te word. Sodra die bloedsuikervlak weer styg, stel die pankreas dan insulien vry om met die opname van die glukose te help. Hierdie siklus word deurlopend herhaal om te verseker dat jou bloedsuikervlak stabiel bly.

Simptome en gevolge van diabetes

Indien jy aan diabetes ly, beteken dit dat daar te veel glukose in jou bloedstroom is. Dit gebeur omdat insulien nie behoorlik afgeskei word nie. Lees hier meer oor die simptome en gevolge van diabetes.

Hoe om jou bloedsuikervlak stabiel te hou

  • Eet meer gereeld kleiner etes

    Deur gereeld deur die dag te eet, sal jy verseker dat ’n bestendige bron van energie beskikbaar is en voorkom dat jy moeg voel. Dit sal ook sorg dat jy minder gereeld minder honger voel, wat sal help dat jy minder kilojoules inneem en jou gewig kan beheer.

  • Eet meer vesel

    Vesel help dat die bloedsuikervlak meer geleidelik toeneem omdat dit die opname van suiker en die vertering van koolhidrate vertraag. Kosse wat ryk aan vesel is, sluit in volgraanbrood en hawermout, pere en lemoene, broccoli en suikermielies, asook aartappels in die skil.

  • Drink baie water

    Deur genoeg water te drink, sal nie net keer dat jy ontwater nie maar ook jou niere help om oortollige suiker in jou liggaam in die urien uit te skei. Jy kan ’n beker water opkikker deur bloubessies en lemoen, suurlemoen en peperment, of aarbei en basielkruie daarby te voeg.

    Vermy versoete drankies indien moontlik, aangesien dit jou bloedsuikervlak sal verhoog, jou gewig kan laat toeneem, en die risiko vir diabetes verhoog. Probeer warm of ystee, gegeurde Glacéau-water of Sprite Zero.

Medihelp se voordele vir roetine-ondersoeke

Gereelde glukosetoetsing is die akkuraatste manier om jou bloedglukosevlak te monitor en te keer dat mediese komplikasies later in jou lewe ontwikkel.

Alle Medihelp-mediesefondsplanne bied bykomende dekking vir roetine-ondersoeke, insluitend een individuele bloedglukose-/cholesteroltoets of een kombinasietoets (bloedglukose, cholesterol, LMI en bloeddrukmeting).

Medihelp bied ook ’n Program vir Vroeë Bespeuring aan wat daarop gemik is om persone met ongediagnoseerde hoë bloeddruk, diabetes en hoë cholesterol te identifiseer en met die bestuur van hulle toestande by te staan.


Share this on: