Waarom jy moet oorweeg om die COVID-19-opvolginenting te kry
Die departement van gesondheid het onlangs aangekondig dat alle Suid-Afrikaners wat 12 jaar en ouer is, die COVID-19-opvolginenting behoort te kry sodra hulle daarvoor kwalifiseer, om verhoogde immuniteit te verkry.
Wat is ’n opvolginenting?
Die beskerming wat die COVID-19-entstof bied, begin mettertyd afneem soos wat die immuniteit wat die aanvanklike dosis (of dosisse) gebied het, begin kwyn. ’n COVID-19-opvolginenting is ’n bykomende dosis van die entstof wat ontwikkel is om jou te help om jou immuniteitsvlak vir langer te handhaaf.
In Suid-Afrika is die opvolginenting óf ’n tweede dosis van die J&J-entstof óf ’n derde dosis van die Pfizer-entstof.
Waarom moet ek ’n opvolginenting kry? Is die entstof dan nie doeltreffend nie?
Die COVID-19-entstof is uiters doeltreffend om jou teen ernstige siekte te beskerm. In een studie van ongeveer 78 000 Omikron-gevalle is daar bevind dat twee dosisse van die Pfizer-entstof die risiko vir hospitalisasie weens COVID-19 met byna 70% verminder het by mense van alle ouderdomsgroepe.
Jou liggaam verloor egter geleidelik ’n mate van die beskerming wat die entstof bied – ’n verskynsel wat as kwynende immuniteit bekendstaan – en daarom moet jy nog ’n inenting kry om jou immuniteit weer te versterk.
Sommige mense met verswakte immuunstelsels kan ook nie voldoende COVID-19-teenliggaampies vervaardig nadat hulle ingeënt is nie en benodig meer as een dosis van die entstof om voldoende immuniteit te verkry. Onthou dat inenting teen siektes soos masels en tetanus ook meer as een dosis vereis om volkome doeltreffend te wees.
Wanneer moet ek die opvolginenting kry?
Die departement van gesondheid beveel aan dat mense met verswakte immuunstelsels die opvolginenting kry 28 dae nadat die eerste (J&J) of tweede dosis (Pfizer) van die entstof toegedien is. Alle ander mense kan ’n opvolginenting kry 60 dae (2 maande) ná die eerste J&J of 180 dae (6 maande) ná die tweede (Pfizer) dosis.
Watter newe-effekte het die COVID-19-opvolginenting?
Jy kan tydelike simptome ervaar soos ’n seer, geswelde arm waar jy ingespuit is, geringe koors, lyfseer, hoofpyn en moegheid. Hierdie simptome is ’n teken dat jou immuunstelsel reageer op die entstof en beskerming teen COVID-19 begin opbou. Newe-effekte behoort binne 24 tot 48 uur te verdwyn.
Kan ek entstowwe “meng”?
Navorsing dui aan dat die “meng” van entstowwe net so doeltreffend – en in sommige gevalle selfs beter – kan werk om teenliggaampies te verhoog en immuniteit só te verbeter. Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) het tans nog nie enige entstofmengsels goedgekeur nie.
Sal Medihelp vir my opvolginenting betaal?
Ja, alle goedgekeurde COVID-19-inentings kwalifiseer vir voorgeskrewe minimum voordele (VMV) en Medihelp sal dus die koste van die COVID-19-entstof en die toediening daarvan ten volle betaal. Medihelp sal ’n rekening ontvang van die sentrum waar jy ingeënt is.
Waar kan ek my opvolginenting kry?
Daar is inentingsplekke regoor Suid-Afrika beskikbaar. Jy kan die lys van inentingsplekke hier kry.
Indien jy nog nie jou COVID-19-inenting(s) gekry het nie, besoek jou naaste inentingsperseel om geregistreer te word en jou gratis inenting te ontvang. Enigeen wat 12 jaar en ouer is, mag die inenting kry.
Bronne:
https://www.nicd.ac.za/covid-19-vaccine-booster-shot-frequently-asked-questions/
https://www.weforum.org/agenda/2022/01/covid-19-vaccines-do-not-last-long-why-booster/
https://www.npr.org/sections/health-shots/2021/12/22/1066315800/the-vaccines-work-against-severe-disease-heres-why-boosters-are-still-a-good-idea