Om van mediese fonds te verander, kan ’n omslagtige proses wees. Dit is belangrik om altyd die volgende byderhand en in gedagte te hou wanneer jy van een fonds na ’n ander wil verwissel:
-
Maak seker daar is geen onderbreking in jou lidmaatskap vandat jy jou vorige mediese fonds verlaat totdat jy by ’n nuwe een aansluit nie. As daar ’n onderbreking van langer as 90 dae is, kan dit jou lidmaatskapvoorwaardes beïnvloed.
-
Lewer bewys van jou vorige mediesefondslidmaatskap om te verseker dat onnodige wagtydperke en laataansluitingsbeladings nie op jou lidmaatskap toegepas word nie. Klik hier om meer uit te vind.
-
Sorg dat jy weet watter voordele die mediesefondsplan bied waarby jy wil aansluit, om te verseker dat jou en jou geliefdes se gesondheidsorgbehoeftes voldoende gedek is. Vergelyk die voordele wat jy nou sal geniet met jou mediese eise by jou vorige mediese fonds. Moenie ’n keuse maak slegs op grond van die prys nie. Deur die goedkoopste opsie te kies, kan jou trouens baie meer kos indien die voordele nie by jou gesondheidsprofiel pas nie. Indien jy ’n netwerkopsie kies, onthou om seker te maak dat daar ’n netwerkhospitaal naby jou geleë is.
-
’n Maklike manier waarop jy aansoek om lidmaatskap kan doen, is om die elektroniese aansoekvorm te gebruik wat op die mediese fonds se webtuiste beskikbaar is. Maak seker jy het al jou mediesefondsinligting en persoonlike besonderhede byderhand terwyl jy die vorm voltooi. Dit mag die volgende insluit:
- ID- of paspoortdokument
- Bewys van vorige lidmaatskap
- ’n Huweliksertifikaat
- Bewys van voltydse studies
- Bewys van maandelikse inkomste
- Bewys van 12 maande se ledegeld vir buitelandse studente
- Aanstelling as kurator
- Aanstelling as voog
- Hofbevel vir die aanneming van ’n kind (gestempel en onderteken deur die landdros) of pleegsorgbevel vir ’n afhanklike kind
- Aansoek om die aanneming van die kind (gestempel en onderteken deur die landdros)
-
Skriftelike bevestiging van die vordering wat met die aannemingsproses gemaak word deur ’n maatskaplike werker gemoeid met aanneming (alle maatskaplike werkers moet hul SACSSP-registrasienommer by hul name en titels insluit)
-
As deel van jou aansoek moet jy ’n gesondheidsvraelys voltooi. Dit is belangrik om hierdie vraelys so deeglik as moontlik in te vul en om geen inligting oor jou mediese geskiedenis uit te laat nie. ’n Mediese fonds gebruik dié inligting om jou lidmaatskapvoorwaardes te bepaal. Indien jy belangrike inligting uitlaat, kan dit lei tot ’n nie-openbaarmakingsondersoek, wat die voordele waarop jy geregtig is wanneer jy vir mediese uitgawes eis, kan beïnvloed. ’n Mediese fonds kan selfs besluit om sekere mediese rekenings nie te betaal nie of om ’n lid se lidmaatskap te beëindig indien daar bevind word dat ’n lid versuim het om relevante gesondheidsinligting te openbaar toe hy die gesondheidsvraelys voltooi het.
-
Die bydraes of maandelikse lidmaatskapfooie van hooflede verskil van dié van hul afhanklikes. Kinders en volwasse afhanklikes betaal gewoonlik minder as die hooflid. Nadat jy aansoek om lidmaatskap gedoen het, sal jy ’n kwotasie van die skema ontvang wat jou lidmaatskapvoorwaardes uiteensit, soos wagtydperke (indien toepaslik) en die maandelikse bydrae deur jou betaalbaar. Maandelikse bydraes word vooruit betaal.
- Medihelp neem gemiddeld 24 uur om ’n elektroniese lidmaatskapaansoek te verwerk, indien al die relevante inligting verskaf is. Nadat ons jou aansoek verwerk en jy die kwotasie aanvaar het, sal jy jou lidmaatskapkaart ontvang waarop al jou geregistreerde afhanklikes gelys is, asook meer inligting oor jou plan en oor die Skema se prosesse en dienste.
Indien jy enige vrae oor jou Medihelp-lidmaatskapaansoek het, stuur gerus e-pos na newbusiness@medihelp.co.za of skakel 086 0100 678. Jy kan ook jou adviseur kontak.