Tuberkulose (TB) is in verskeie lande steeds ’n epidemiese siekte. Ons herdenk elke jaar op 24 Maart Wêreld TB-dag om bewustheid van dié siekte te skep en pogings te verskerp om die wêreldwye TB-epidemie te beëindig.
Die getal TB-sterftes in Afrika het sedert die uitbreek van COVID-19 vir die eerste keer in meer as ’n dekade die hoogte ingeskiet weens die ontwrigting van gesondheidsdienste as gevolg van die pandemie. Lande moes noodgedwonge hulpbronne en gesondheidswerkers hertoeken om die pandemie te beveg, met die gevolg dat toegang tot TB-diagnoses, behandelings en ander sleutelbelangrike gesondheidsdienste beperk was.
TB is die aansteeklike siekte wat tans die tweede meeste sterftes ter wêreld veroorsaak, naas COVID-19. Suid-Afrika het die vyfde hoogste TB-voorkomssyfer wêreldwyd, en hierdie siekte is een van die vernaamste oorsake van sterftes in die land.
Wat is TB?
TB is ’n siekte wat deur die bakterie Mycobacterium tuberculosis veroorsaak word en in die lug versprei. Hoewel daar algemeen aanvaar word dat TB oorgedra word deur besmette persone wat hoes en só bakterieë in die lug vrystel, is daar onlangs in ’n studie by die Universiteit van Kaapstad bevind dat gewone asemhaling dalk in ’n groter mate tot die verspreiding van die siekte bydra. Die bakterieë kan vir tot ses ure in die lug oorleef en kan deur lugstrome deur ’n kamer of gebou vervoer word.
Die TB-bakterieë besmet gewoonlik ’n persoon se longe, maar kan ook ander dele van die liggaam soos die ruggraat, niere of brein affekteer. ’n TB-veltoets of bloedtoets kan gebruik word om die siekte te diagnoseer.
Die drie stadiums van TB
Die meeste mense wat aan die bakterieë blootgestel word, sal nie dadelik simptome ervaar nie. Die infeksie ontwikkel in drie fases, naamlik blootstelling, latente infeksie en aktiewe siekte:
- Blootstelling. Dit is wanneer iemand blootgestel word aan ’n persoon wat TB onder lede het. In hierdie stadium het die siekte geen simptome nie, ’n TB-veltoets is negatief en X-strale van die persoon se longe is normaal.
- Latente infeksie. Dit kom voor wanneer ’n persoon met TB besmet is maar geen simptome toon nie, gewoonlik omdat die besmette persoon se immuunstelsel die TB-organismes “inperk” en die siekte dus lewenslank onaktief kan bly. In hierdie stadium is die persoon se TB-veltoets positief maar X-strale is normaal. Hulle is ook nie aansteeklik nie. Indien die persoon in hierdie stadium behandel word, kan aktiewe TB gewoonlik voorkom word.
- Aktiewe TB. Aktiewe TB kan ontwikkel indien latente infeksie nie behandel word nie. Die reaktivering van TB is moontlik indien die persoon se immuunstelsel verswak en nie meer die latente bakterieë in bedwang kan hou nie. Die bakterieë “oorweldig” dan as ’t ware die immuunstelsel se vermoë om die siekte te beveg en die persoon word dan siek met TB. Die grootste risiko om gereaktiveerde TB te ontwikkel, kom voor binne die eerste twee jaar nadat die persoon besmet is. Dit kan egter ook in enige ander stadium ontwikkel by ouer mense of persone met ’n verswakte immuunstelsel, MIV, diabetes, wanvoeding, of mense wat immuunverswakkende medikasie neem (bv. vir rumatoïede artritis, steroïede, of chemoterapie vir kanker).
TB-infeksie in die bloed, niere of membrane rondom die brein en rugmurg is die gevaarlikste. Indien dit nie behandel word nie, kan TB dodelik wees.
Tuberkulose versus COVID-19
TB en COVID-19 is beide aansteeklike respiratoriese siektes. Al twee val hoofsaaklik die longe aan en het soortgelyke simptome, insluitend hoes, koors en asemhalingsprobleme. Beide siektes versprei ook deur nabye persoonlike kontak.
TB is egter ’n bakteriële infeksie terwyl COVID-19 ’n virussiekte is. TB het ook ’n langer inkubasietydperk en die siekte ontwikkel stadiger.
TB-simptome en behandeling
TB-simptome sluit in aanhoudende hoes vir drie weke of langer, bloed of slym wat opgehoes word, borskaspyn, moegheid, koors, kouekoors, nagsweet en gewigsverlies. Pasiënte met TB benodig normaalweg behandeling wat ses weke duur en veelvuldige kursusse antibiotika insluit. Persone wat die behandeling getrou volg, sal na twee weke nie meer aansteeklik wees nie.
Hoe kan jy TB voorkom?
- Kry jou inenting. Alle kinders in Suid-Afrika ontvang by geboorte die bacille Calmette-Guérin-inenting (BCG-inenting). Dit bevat ’n aktiewe virus wat die baba se immuunstelsel stimuleer om teenliggame te ontwikkel wat teen TB sal beskerm.
- Ventileer jou omgewing. Aangesien TB in die lug versprei en TB-bakterieë vir ure lank in die lug kan bly, is dit belangrik om te sorg dat jou omgewing behoorlik geventileer is. Bakterieë leef langer in klam omgewings waar daar nie vars lug is nie.
- Pas goeie higiëne toe. Bedek jou neus en mond wanneer jy hoes en nies om te keer dat TB-bakterieë versprei.
- Kry sonblootstelling. TB-bakterieë kan nie in sonlig floreer nie. Studies het bevind dat direkte UVC-lig die M. Tuberculosis-bakterium kan doodmaak deur die DNS te beskadig sodat dit nie mense kan besmet, kan groei of verdeel nie.
Medihelp se voordele vir TB
Medihelp mediese fonds bied beskerming teen siektes deur dekking te verleen vir volledige standaardinentings vir kinders jonger as sewe jaar op die meeste van Medihelp se mediesefondsplanne, terwyl verskillende versekerde dag-tot-dag-voordele en ruim kernvoordele beskikbaar is vir die diagnose, behandeling en sorgkoste van tuberkulose, wat vir voorgeskrewe minimum voordele kwalifiseer. Klik hier om meer te lees.
Bronne:
https://www.afro.who.int/news/covid-19-pandemic-slows-progress-against-tuberculosishttps://www.who.int/news/item/14-10-2021-tuberculosis-deaths-rise-for-the-first-time-in-more-than-a-decade-due-to-the-covid-19-pandemic
https://theconversation.com/new-study-shows-that-normal-breathing-is-a-major-spreader-of-tb-170656
http://www.healthofchildren.com/T/Tuberculosis.html#ixzz7MpfP5UBs
http://www.dgmc.co.za/tuberculosis-in-south-africa
https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC7132476/#:~:text=Direct%20sunlight%20kills%20M.,the%20elements%20day%20and%20night